Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Brics-bank wil ook geld by SA beleggers leen

Die New Development Bank (NDB), ook bekend as die Brics-bank, beoog om ook skuldbriewe in die Suid-Afrikaanse mark uit te reik om geld by plaaslike beleggers te leen.

K.V. Kamath, president van die New Development Bank, in Kaapstad op die bank se vierde jaarlikse byeenkoms wat vir die eerste keer in die land plaasvind. Foto: Verskaf

K.V. Kamath, president van die NDB, het in Kaapstad op die bank se vierde jaarlikse byeenkoms gesê geleenthede word ook gesien vir verdere investering in Suid-Afrika.

Kamath sê die bank het reeds $1,5 miljard (R21,3 miljard in vandag se wisselkoers) aan Suid-Afrika geleen, berig Fin24.

’n Paar ander projekte waarvoor aansoek gedoen is, kan die totaal op $2,3 miljard (R32 miljard) te staan bring vir die jaar.

Dit is nie seker of hy die ooreenkoms vir ’n lening wat Maandag met Eskom en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika geteken is, daarby insluit nie.

Die Brics-bank se webtuiste wys die finansiering van ses projekte in Suid-Afrika is reeds goedgekeur, insluitende dié twee.

Die volgende ses projekte is Maandag by die byeenkoms in Kaapstad goedgekeur:

1. ’n Lening aan die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) vir R1,15 miljard. Die lening is vir ’n hernubare energie-ontwikkelingsprojek met ’n totale projekkoste van R11,8 miljard. Die IDC sal weer die geld uitleen aan geïdentifiseerde subprojekte.

2. ’n Lening van R3,2 miljard aan die Trans-Caledon Tonnel-owerheid. Die totale projekkoste is R24,3 miljard. Dit hou met die tweede fase van die Lesotho Hoogland-waterprojek verband en die voorgestelde projek sluit in die konstruksie van ’n dam en ’n tonnel. Die lening is pas goedgekeur.

3. ’n Lening aan Eskom van $480 miljoen vir die omgewingsbeskermingsprojek vir die Medupi-kragstasie. Die totale projekkoste is $2,7 miljard. Dit is goedgekeur maar geen verder projekinligting word verskaf nie.

Dit sê bloot die voorgestelde projek is om Medupi met rookgas-ontswaelingseenhede toe te rus sodat dit aan die vereiste omgewingswetgewing voldoen om die swaeldioksied-vrystellings van die aanleg te verminder.

4. ’n Lening aan die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika van $300 miljoen vir ’n projek wat gerig is op die vermindering van kweekhuisgasse en ontwikkeling in die energiesektor.

Die totale projekkoste is $600 miljoen. Die projek word oor 15 jaar van 2018 tot 2033 geïmplementeer en die geld gaan uitgeleen word aan geïdentifiseerde sub-projekte. Die lening is in 2017 goedgekeur.

5. Die opknapping van die Durbanse vraghouerkaai. Die lening is aan Transnet. Die totale projekkoste beloop R8,4 miljard ($643 miljoen) en die NDB het $200 miljoen aan Transnet geleen.

Die direksie van die bank het dit op 28 Mei 2018 goedgekeur. Die inligting oor die projek toon dit is veronderstel om oor agt jaar van 2018 tot 2026 toegepas te word.

6. Die projekfinansieringsgerief vir Eskom: Die totale projekkoste beloop R3,6 miljard ($225 miljoen) en die lening beloop R2,8 miljard ($180 miljoen).

Die lening is reeds op 13 April 2016 goedgekeur. Die finansieringsgerief is bedoel vir hernubare energieprojekte en om Eskom se kragnetwerk na Soweto te verbeter of op te knap, toon die projekinligting op die bank se webtuiste. Die projek is veronderstel om in sub-projekte opgedeel te word.

Dit sluit in die integrasie van sewe hernubare energieprojekte van onafhanklike kragverskaffers, die integrasie van ’n versnelde onafhanklike kragverskaffingsprojek vir Upington, die konstruksie van die transmissielyne en ’n substasie in Soweto en die konstruksie van transmissielyne vir Ankerlig-Sterrekus.

In die projekinligting word gesê Eskom kan toekomstige sub-projekte voorstel aan die NDB vir ’n totale termynlening van $180 miljoen. Vandeesweek is ’n ooreenkoms vir $180 miljoen onderteken.

Die NDB het tot dusver 30 lenings goedgekeur waarvan 17 in 2018 goedgekeur is.

Die bank is in sy lidlande bedrywig – Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika.

Fin24 berig die volgende Brics-beraad vind einde van die jaar in Brasilië plaas waar ’n aankondiging moontlik oor nog lidlande gemaak sal word.

Die bank kry onder meer kapitaal van sy lidlande en leen geld in die mark.

Volgens Kamath beoog die bank om vanjaar in die plaaslike geldeenhede van Suid-Afrika, Rusland en Indië skuldbriewe uit te reik. Die bank het reeds skuldbriewe in China uitgereik. Fin24, bygewerk

Meer oor:  Eskom  |  Medupi  |  Lening  |  Ontwikkeling  |  Beleggers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.