Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Brittanje hou SA op rooilys

Suid-Afrika bly op Brittanje se rooilys van lande waarheen Britte afgeraai word om nou te reis, terwyl Duitsland op sy beurt sý regulasies oor die land verslap het.

Reisigers gaan heel moontlik ’n digitale bewys van inenting teen Covid-19 voor ’n internasionale vlug moet kan wys.

Die Britse regering sê onder meer reise na rooilyslande moet eerder nie geneem word nie, tensy dit noodsaaklik is.

Suid-Afrika bly ná verlede week saam met 55 ander lande op dié lys.

Dis slegte nuus vir die plaaslike toerismebedryf wat juis pogings aangewend het om Suid-Afrika van die rooilys te verwyder. Brittanje het ook ’n paar nuwe lande op die lys gevoeg.

LEES OOK: Britte te bang om nou na Suid-Afrika te reis

Slegs reisigers wat Britse of Ierse burgers is of mense wat verblyfreg in Brittanje het, mag vanaf dié lande na Brittanje reis.

Britte wat van rooilyslande terugkeer, moet tien dae in verpligte kwarantyn gaan en vooraf ’n plek in een van die land se hotelle bespreek wat daarvoor uitgemerk is. Die bespreking moet ook ten volle betaal wees, asook die betaling vir twee Covid-19-toetse, voordat die reisiger in Brittanje toegelaat sal word.

Een Suid-Afrikaner het selfs al ’n ope brief aan Boris Johnson, Britse premier, geskryf “namens die miljoene Suid-Afrikaners wat van die reis-, toerisme- en gasvryheidsbedryf afhanklik is”.

Theo Cromhout het verlede week in sy brief gevra Britte moet na Suid-Afrika kan reis. Brittanje is een van die land se sleutelmarkte.

Volgens sy brief kos dit een Britse reisiger na Suid-Afrika ongeveer £2 000 aan Covid-19-regulasies tesame met die verpligte kwarantyn wanneer die reisiger terug op Britse bodem is. Dis te duur vir die meeste Britte en gevolglik kom bykans niemand Suid-Afrika toe nie.

“Dit maak ons dood,” skryf Cromhout.

Volgens Bonnie Smith, hoofbestuurder van FCM Travel Solutions, bly lande se lyste, soos Brittanje se rooilys, die grootste struikelblok vir sakereise om weer op te tel.

Die feit dat baie lande ook kwarantynvereistes het, maak dit uitdagend om te reis vir werk, verduidelik Smith.

Sy sê vir bedrywe soos die mynwese, die energiebedryf, ingenieurswese en die farmaseutiese omgewing is reis belangrik. Vir baie internasionale maatskappye in dié bedrywe raak dit nou noodsaaklik om te kan reis om byvoorbeeld projekte fisiek te kan besoek, navorsing te doen en by kliënte uit te kom.

“Volgens Flight Centre se Sherpa-diens, wat ’n interaktiewe Covid-19-kaart het, is daar reeds 13 Europese lande wat Suid-Afrikaners toelaat wat ten volle ingeënt is,” sê Smith.

“Ongelukkig bly Suid-Afrika nog op Brittanje se rooilys.”

Smith waarsku die groot uitdaging vir Suid-Afrikaanse reisigers gaan kom wanneer digitale inentingsertifikate nodig gaan wees om te kan reis.

“Baie reisigers sal ’n digitale inentingstatus moet kan vertoon voordat hulle internasionaal sal kan reis. Ongelukkig is daar nog nie ’n standaardstelsel hiervoor nie en lande het verskillende vereistes, soos apps en digitale paspoorte, wat vertoon moet word voordat jy mag reis.”

Smith sê sakereisigers sal dus moet seker maak reisagente gee die regte inligting hieroor.

Duitsland verslap regulasies vir Suid-Afrika

Duitsland laat Suid-Afrikaners intussen weer vanaf 1 Augustus toe, al is die land en buurland Namibië steeds ’n hoërisikobestemming volgens die Robert Koch-instituut (RKI).

Die afskaling van die land se risikovlak beteken dit is nou makliker vir mense om Duitsland vanaf Suid-Afrika of Namibië binne te gaan. Verpligte kwarantyn geld steeds, maar dit is nie nou net tien dae in plaas van 14 en dit kan selfs ná net vyf dae opgehef word indien ’n reisiger negatief toets vir Covid-19, volgens dr. André Schulz, Lufthansa se hoofbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika.

Reisigers wat ten volle teen Covid-19 ingeënt is hoef glad nie in kwarantyn te gaan nie.

Meer oor:  Duitsland  |  Brittanje  |  Covid-19  |  Reis  |  Rooilys  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Toerismebedryf  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.