Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Britte se hulp ingeroep om SA van ‘gevaarlys’ te kry

’n Britse skakelmaatskappy moet nou help om Suid-Afrika se naam te verwyder van Brittanje se “gevaarlys” vir lande waarvoor streng reisbeperkings geld.

Suid-Afrika wil weer meer buitelandse reisigers lok. Foto: Unsplash

Lande soos Brittanje, die VSA en Nederland, sleutelmarkte vir die Suid-Afrikaanse reisbedryf, het tans baie streng beperkinge op reis na en van Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse Toerismedienste-vereniging (Satsa) het aangekondig hulle het Eterna Partners van Brittanje aangestel om die plaaslike bedryf te help om Suid-Afrika weer toeganklik vir Britse reisigers te maak.

Een van die pogings sal wees om albei lande se belange en verhoudinge met mekaar op te bou.

Vertroue moet ook geskep word in Suid-Afrika se pogings om die Covid-19-pandemie te hanteer, die inentingsveldtog en die instel van maatreëls om infeksies onder beheer te hou.

Daar sal ook gekyk word na nuwe gesondheidsmaatreëls wat reis tussen die twee lande kan vergemaklik, insluitend die moontlikhede van sogenaamde “inentingspaspoorte”.

Dié paspoorte kan vir mense wat teen Covid-19 ingeënt is in die toekoms deure oopmaak om meer rond te reis. Die instel daarvan word reeds wêreldwyd bespreek.

“Ons as land sal daadwerklike en gesamentlike pogings moet aanwend om inligting aan besluitnemers in Brittanje te gee wat kan help om hulle te oortuig om Suid-Afrika van hul gevaarlys af te haal. Die inligting wat ons hiervoor wil gebruik, moet veral op wetenskaplike bewyse en datagedrewe inligting staatmaak,” sê David Frost, Satsa se uitvoerende hoof.

Hy sê dié pogings is nodig, anders sal Suid-Afrika vir die afsienbare toekoms op Brittanje se gevaarlys bly.

Wêreldwyd is die toerismebedryf ook hard aan die werk om internasionale samewerking tussen lande te bewerkstellig sodat internasionale toerisme veilig en so gou as moontlik weer op dreef kan kom.

Die sekretaris-generaal van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, Angel Gurría, het onlangs gesê meer as 90 regerings het hul grense vir toeriste gesluit en baie meer het streng reisbeperkings ingestel.

Volgens hom het die internasionale vlugnetwerk se geskeduleerde vlugte reeds met 66% gekrimp en gewaarsku die impak hiervan op veral ontwikkelende lande gaan drasties wees.

Vroeër die maand het die ministers van toerisme van die G20-lande in Rome byeengekom en saamgestem veilige reisregulasies moet dringend ingestel word sodat die internasionale reisbedryf weer aan die gang kan kom. Hulle het ook hul steun toegesê aan die gebruik van inentingspaspoorte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.