Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Broodnodige meesterplan vir staal verwelkom

Die toekoms van staalproduksie in Suid-Afrika het Vrydag ’n enorme hupstoot gekry met die bekendstelling van die regering se staalmeesterplan.

Staal is skaars in Suid-Afrika en word dus teen peperduur pryse ingevoer. Foto: Unsplash

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het Vrydag die langverwagte meesterplan in Johannesburg bekend gestel en saam met belanghebbendes onderteken.

Die plan mik om staalproduksie te lokaliseer en die bedryf, wat tans 1,2% van die bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig, te laat herleef.

Uitvoer is ook ’n groot deel van die plan en die mikpunt is om Suid-Afrika nie net minder afhanklik te maak van ingevoerde staal nie, maar ook ’n oormaat staal te produseer sodat dit uitgevoer kan word en kan meeding met die reuse in die bedryf, hoofsaaklik vanaf China.

Die plan volg ná meer as twee jaar se insette vanaf die bedryf, arbeid, ondernemings en die regering, wat gefasiliteer is deur dr. Bernie Fanaroff, voormalige vakbondlid en vooraanstaande regeringsadministrateur ná apartheid, wat ook ’n prominente rol gespeel het in die suksesvolle poging van Suid-Afrika om die gasheer van die Square Kilometre Array-projek te word, berig Engineering News.

Die plan kom ná groot probleme in die staalbedryf in Suid-Afrika, met rolspelers wat veral ’n bohaai gemaak het oor die hoë tariewe wat daarop gemik was om veral die beleërde staalprodusent ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) teen ingevoerde staal te beskerm.

Volgens rolspelers in die stroom-af-staalbedryf plaas dit groot druk op hulle, wat dan moet werk met peperduur ingevoerde staal omdat Amsa nie genoeg aan die plaaslike bedryf kan voorsien nie.

Die plan moet die plaaslike tekort aan staal takel.

Die drie hoofelemente van die meesterplan is:

  • Dit moet die vraag na staal- en staalprodukte aanmoedig deur die herstel van die swak vordering van die Suid-Afrikaanse openbare infrastruktuurprojekte. Invoervervanging en lokalisering speel hier ook ’n beduidende rol en sal aangemoedig word deur die prioritisering van die marktoegang wat deur middel van die nuwe Afrika- kontinentale vryehandelsooreenkoms meegebring word;
  • Dit moet die voortdurende probleme aan die aanbodkant van die staalbedryf takel, wat veroorsaak word deur kragonderbrekings, tariefverhogings, logistieke knelpunte, onmededingende praktyke en onvoldoende vaardighede; en
  • ’n Reeks deurlopende ingrypings gaan gedoen word, waaronder die skepping van ’n ontwikkelingsfonds vir die staalbedryf, wat gekapitaliseer moet word deur die instelling van ’n heffing van tussen R5 en R10 per ton op alle staal wat plaaslik verkoop word, ongeag of dit plaaslik geproduseer of ingevoer word.

Die ontwikkelingsfonds sal nié deur die regering bestuur word nie, het Patel Vrydag beloof.

Die geld wat ingevorder word, sal deur ’n bedryfsliggaam bestuur word en gebruik word om die meesterplan se mikpunte te behaal.

Meer oor:  Amsa  |  Vervaardiging  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Staalbedryf  |  Tariewe  |  Staal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.