Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BTW-voorstel: Rykes lag die laaste

Voorgestelde wysigings aan die BTW-stelsel sal die 30% rykstes in die land steeds buite verhouding bevoordeel.

As BTW op weggooidoeke afgeskaf word, gaan die staat R754 miljoen se belastingverligting vir Suid-Afrikaners gee, waarvan R538 miljoen tans deur armes bestee word.

’n Onafhanklike paneel van kundiges het die afgelope week hul voorstelle aan die tesourie gemaak oor watter items hulle meen teen 0% BTW belas behoort te word.

Die paneel is aangestel om voorstelle te maak oor hoe die impak van die BTW-verhoging met een persentasiepunt van 14% tot 15% versag kan word.

Die paneel het voorgestel dat BTW geskrap moet word op witbrood, koek- en witbroodmeel, sanitêre doekies, skooluniforms en weggooidoeke.

Indien die tesourie BTW op dié produkte skrap, sal dit ’n inkomsteverlies vir die staat van R4 miljard meebring, lui die paneel se verslag.

R2,8 miljard van die belastingverligting gaan aan die 70% van die bevolking wat die minste verdien, terwyl die ander R1,2 miljard die middelklas en ryker Suid-Afrikaners sal bevoordeel.

Hoewel die “rykste” 30% buite verhouding voordeel trek, het die paneel juis die items gekies wat dié tendens die minste sal aanvuur.

Die R2,8 miljard-belastingverligting sal gedeeltelik vergoed vir die beraamde R3,1 miljard wat die armes ekstra moet opdok weens die BTW-verhoging, het die paneel bevind.

Die bestaande 15 BTW-vrye items kos die tesourie reeds jaarliks R26,9 miljard.

Luidens die paneel se verslag, sal die uitwerking van die BTW-vrystellings soos volg wees:

  • R2,5 miljard se belastingverligting uit witbrood, witbroodmeel en koekmeel, waarvan R1,8 miljard armes sal bevoordeel;
  • R621 miljoen vir skoolklere, waarvan R412 miljoen vir armes verligting sal bied;
  • R754 miljoen vir weggooidoeke, waarvan R538 miljoen vir armes is;
  • R111 miljoen vir sanitêre doekies. Armes sal R53 miljoen hierdeur spaar.

Die paneel se aanbevelings gaan nie noodwendig geïmplementeer word nie en ’n openbare-deelname- en parlementêre proses sal nou volg.

Sommige rolspelers plaas al hoe meer druk op die regering om ’n meer progressiewe BTW in werking te stel wat ongelykhede sal regstel.

Een van die grootste teleurstelling van pro-armes is dat hoender nie by die aanbevelings ingesluit is nie.

Die paneel kon nie ooreenstem oor hoender nie, maar het dit uitgelaat omdat hulle vrees die hoogs gekonsentreerde hoendervleismark sal nie die 15%-BTW-besparing deurgee aan verbruikers nie.

Indien kiitsbevrore hoenderstukke vrygestel word van BTW, sal dit verligting van R6 miljard gee, waarvan R4 miljard vir die armste 70% sal wees.

Formulemelk vir babas was nog ’n produk wat oorweeg is, maar die departement van gesondheid het die paneel oorreed om dit uit te laat omdat hulle nie die gebruik van formulemelk bo borsmelk wil bevorder nie.

Alternatiewe navorsing

Een van die belangegroepe wat sterk voorbrand maak om die BTW-stelsel te verander om meer pro-armes te wees, is die Institute for Economic Justice (IEJ), wat hul eie navorsing met dieselfde metodologie uitgereik het.

Die IEJ meen “uitstekende kandidate” vir vrystelling is hoender, selfoonlugtyd, seep en kinderklere.

In dieselfde asem stel die IEJ ’n verhoogde BTW-koers van 25% voor op ander items wat hoofsaaklik deur die rykste 30% verbruik word.

  

   

Luidens die IEJ se navorsing sal hul lys belastingverligting van R17 miljard meebring wat hoofsaaklik armes sal bevoordeel.

Rykes sal gedeeltelik vergoed vir die verlies aan inkomste deur hoër belasting op “luukse” items. Dié bykomende BTW beloop R9,6 miljard, sê die ekonome Lindokhule Njozela en Gilad Isaacs.

Davis-komitee

Die tesourie was tot dusver baie huiwerig om bykomende items van BTW vry te stel.

Dié siening is versterk deur die aanbevelings van die Davis-belastingkomitee in Maart.

Volgens dié komitee wat gelei is deur regter Dennis Davis behoort Suid-Afrika nie veelvuldige BTW-koerse in te stel soos sommige ander lande nie.

Isaacs sê die teësinnigheid om verskillende BTW-koerse te hef, is ongegrond en hulle sal daarvoor voorbrand maak.

Geykte argumente teen bykomende 0%-BTW-items is dat die meeste belastingverligting aan rykes gaan.

“Dit is nie die punt nie. Die primêre vraag is hoe die besteebare inkomste van die armes geraak word.”

   

  

In Februarie se begrotingsrede het die tesourie dit duidelik gestel dat die vrygestelde items bedoel is om “basiese kositems” meer bekostigbaar te maak.

Huidige items sluit in alle groente en vrugte, bruinbrood, rys, bone, stampmielies, eiers, melk en blikkies sardyne.

Doeltreffendheid

Die mandaat van die paneel van kenners was nie net om nuwe vrystellings te oorweeg nie, maar ook om te fokus op die doeltreffendheid van die bestaande lys van 19 vrygestelde items.

Die paneel moes nie net die impak van vrygestelde items oorweeg nie, maar ook die “waarskynlikheid dat vervaardigers en/of handelaars die voordeel aan die verbruikers sal deurgee”.

Luidens die verslag was die verskil in pryse van bruinbrood wat vrygestel is en witbrood wat nié vrygestel is nie, nie altyd die verskil in die betaalbare belasting nie.

Maar die prysverskil tussen dié twee produkte was ongeveer 12%, het die paneel bevind, wat aanvaarbaar na genoeg aan die 15%-BTW-koers is.

Isaacs sê dié teenstrydighede in pryse is ’n geldige kommer.

“Maar die kwessie vir ons is om eers vas te stel watter items sal die meeste voordeel vir die armes inhou. Dan kan ’n mens kyk na bewyse dat die besparing deurgegee word en meganismes om dit te verseker.”

“ ’n Mens kan nie dié kommer gebruik om uit die staanspoor sekere items van die tafel te vee nie.”

Die probleem met hoender

Sommige paneellede glo dit is baie onwaarskynlik dat ’n BTW-afskaffing vir hoender deurgegee sal word aan verbruikers.

Dit is ondanks die feit dat hoender geklassifiseer word as ’n “basiese kosproduk” wat die hoofverskaffer van proteïen in Suid-Afrika is.

Luidens die verslag het die paneel nie eens oorweeg om hoender in die algemeen vry te stel nie, maar net gekyk na individueel kitsbevrore hoenderstukke (IQF).

Selfs indien net IQF-produkte ter sprake is, was die paneellede steeds bekommerd dat verbruikers ander hoenderprodukte in die belastingvrye net sou kon inwurm.

Die paneel was ook bekommerd dat hoenderinvoerders onregverdig bevoordeel sou word.

Lugtyd

Sommige produkte sou baie gewild wees vir BTW-vrystelling, soos selfoon-lugtyd.

Die IEJ gee egter toe dat die argument vir BTW-vrystelling van dié produkte minder oortuigend is.

Vir lugtyd sou die voordeel amper dieselfde vir rykes as vir armes wees – R2,1 miljard teenoor die R2,07 miljard vir rykes.

Die kenners, onder leiding van prof. Ingrid Woolard, se aanbevelings moenie verwar word met die aparte proses om die uitwerking van hoë brandstofpryse die hoof te bied nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Nhlanhla Nene, minister van finansies, dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, vroeër opdrag gegee om te kyk hoe verbruikers gehelp kan word.

Die ANC, DA en burgerregtegroep Outa het almal hulle uitgespreek oor die hoë brandstofprys wat deur ’n verswakking in die rand-dollar-wisselkoers en verhoogte oliepryse aangewakker is.

Die DA en Outa dring daarop aan dat die brandstofheffing verlaag word.

Meer oor:  Ingrid Woolard  |  Btw  |  Hoender  |  Staatsbegroting  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.