Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
BTW-voorstelle sal tesourie laat klippe kou

Die grootste uitdaging om nog produkte van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vry te stel, gaan wees om te verseker dat daardie belastingverligting wél aan verbruikers deurgegee word.

Die vrystelling van produkte van BTW gaan die staat nie net inkomste kos nie, maar ook uitgawes meebring.

Volgens Tertius Troost, senior belastingkonsultant van Mazars, kan dit “uiters moeilik” wees om die voorstelle van die paneel onder leiding van prof. Ingrid Woolard in werking te stel.

Die Woolard-paneel het Vrydag voorgestel dat witbrood, koek- en witbroodmeel, sanitêre produkte, doeke (vir babas en volwassenes) en skoolklere vrygestel word van BTW. Daarby het die paneel voorgestel sanitêre produkte moet gratis verskaf word by staatsinstellings soos hospitale en klinieke en meer geld moet in skoolvoedingsprogramme belê word.

Lede van die publiek het tot einde Augustus om kommentaar op die voorstelle te lewer, waarna openbare sittings gehou sal word. Eers daarna sal die tesourie besluit watter produkte wel van BTW vrygestel word.

Die Woolard-paneel het besluit om nié aan te beveel dat hoender en formulemelk vir babas vrygestel word van BTW nie.

“Die probleem is die onuitvoerbaarheid daarvan om te verseker dat kleinhandelaars en produsente nie net hul eie wins laat styg met die BTW-besparing pleks van die deurgee tot voordeel van verbruikers nie.”

Een van die redes waarom die Woolard-paneel kitsbevrore hoenderstukke – die belangrikste proteïen vir arm huishoudings – nié vrygestel het van BTW nie, is juis omdat daar kommer is of die BTW-besparing deurgegee sal word. Dis veral in die lig daarvan dat daar slegs twee groot maatskappye is wat dié produkte in Suid-Afrika vervaardig – Astral en RCL.

Lees ook: Hoender en BTW: Paneel kap Astral, RCL

Die paneel het ook ’n studie gedoen oor die prysverskil tussen witbrood, waarop BTW tans betaalbaar is, en bruinbrood, wat vrygestel is van BTW. Hul bevinding is dat die volle BTW-besparing nié aan verbruikers deurgegee word nie en dat produsente en kleinhandelaars se winsgrens op bruinbrood dus eintlik hoër is.

Die paneel noem dit self as een van die groot uitdagings indien skoolklere van BTW vrygestel word omdat daar reeds kommer is oor die klein aantal vervaardigers van skoolklere. Die afwesigheid van behoorlike mededinging in enige sektor kan pryse maklik opdruk.

Troost sê die paneel se voorstel dat die Mededingingskommissie se hulp ingeroep word om prysvasstelling te voorkom, is problematies. “die koste om belastingwette te reguleer, moet altyd opgeweeg word teen die moontlike voordele. Prysvasstelling is moeilik om te bewys, en dit kan die Mededingingskommissie te veel tyd en hulpbronne in beslag neem om dié weg volhoubaar te volg.”

Wat skoolklere betref, het die paneel ook daarop gewys dat dit moeilik gaan wees om met ’n definisie vorendag te kom wat alle skoolklere – maar nét skoolklere – insluit. Die meeste skole vereis byvoorbeeld bloot ’n wit toeknoophemp.

Troost glo dat die tesourie al dié uitdagings en koste van regulering in ag sal neem, nie nét die R4 miljard se BTW-inkomste wat die regering op die sewe voorgestelde produkte sal verloor nie.

Meer oor:  Mazars  |  Rcl  |  Astral  |  Btw  |  Hoender  |  Tesourie  |  Skoolklere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.