Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Byna 1,4 miljoen verloor werk in 2020

Die slagting van poste wat deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings veroorsaak is, is nou uiteindelik amptelik bekend: 1,397 miljoen mense het in 2020 werk verloor.

Werkloosheid in Suid-Afrika het kommerwekkend baie gestyg in 2020. Illustrasie: iStock

Dit het die land se amptelike werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2020 laat opskiet tot 32,5%, teenoor 30,8% in die derde kwartaal, het Statistieke Suid-Afrika bekend gemaak.

Dis opnuut ’n rekord sedert die syfers in 2008 gemeet word.

Die land se uitgebreide werkloosheidskoers, wat ontmoedigde werksoekers insluit, het effens teruggesak tot 42,6%, vanaf 43,1% in die derde kwartaal van 2020.

Alle sektore van die ekonomie het minder mense in diens gehad as ’n jaar gelede. Die formele sektor het 836 000 minder werknemers gehad, die informele sektor 397 000 minder, die landbou 75 000 minder en private huishoudings 89 000 minder.

Die daling in die aantal mense met werk, is 8,5% minder as ’n jaar gelede.

Die aantal mense wat aktief werk soek, het met 507 000 opgeskiet vergeleke met ’n jaar gelede, oftewel met 7,5%. Daar is nou 7,233 miljoen mense wat werk soek, teenoor 6,726 miljoen einde 2019.

Ontmoedigde werksoekers het met 2,6% tot 2,93 miljoen mense gestyg.

Altesame is 11,1 miljoen mense sonder werk - insluitend alle mense wat werk soek, ontmoedig is of om “ander redes” nie werk nie, uitgesluit studente, tuisteskeppers, mense wat vroeg afgetree het of mense wat siek of gestremd is. Dit sluit in mense wat nie werk gesoek het nie weens die inperking vir die pandemie.

Die grootste verlies aan poste oor die loop van 2020 was die 256 000 poste wat in finansiële en sakedienste verlore gegaan het, gevolg deur 241 000 poste in gemeenskapsdienste (grootliks die staat) en 230 000 poste in vervaardiging.

Handel – die sektor wat ook restaurante en verblyfondernemings insluit – het 186 000 poste verloor en konstruksie 184 000. Verblyfondernemings en restaurante en kroeë is bes moontlik die ergste deur die inperkings geraak, maar winkels en motorhandelaars trek ook swaar weens die druk op verbruikers se besteding.

Private huishoudings het 89 000 minder mense (dus onder meer huiswerkers, tuiniers en kinderoppassers) in diens geneem, landbou 75 000, vervoer en kommunikasie 68 000,  mynbou 46 000 en nutsdienste die minste op 21 000.

Die syfers wys wel dat alle sektore van die ekonomie in die vierde kwartaal meer mense aangestel het as in die tweede kwartaal, die kwartaal toe die strengste vlakke van die inperkings gegeld het. Altesame 333 000 mense is in die derde kwartaal aangestel wat nie in die tweede kwartaal gewerk het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.