Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Chaos op Wall Street toe Dow Jones meeste nóg val

Die bekende Dow Jones van Amerika het Donderdagaand sy grootste val in die geskiedenis beleef weens die vrese oor die Covid-19-koronavirus wat versprei.

CNN Business berig die Dow Jones-nywerheidsindeks se val van 1 191 punte of 4,4% is die ergste val in punte in sy geskiedenis. Die indeks het ook nou met meer as 10% van sy onlangse hoogtepunt geval.

’n Skermgreep toon die Dow Jones-nywerheidsindeks nadat die mark gesluit het Donderdagaand op New York se aandeelbeurs. Foto: Reuters

Die S&P 500 het met 4,4% of 137 punte gedaal terwyl die Nasdaq met 4,6% af is.

Bloomberg sê chaos het op Wall Street uitgebreek 24 uur nadat pres. Donald Trump Amerikaners wou gerusstel oor die land se reaksie op Covid-19.

Trump se administrasie is daarvan beskuldig dat hy nie beskermde oorpakke of opleiding gegee het aan die werkers wat die Amerikaners in China help ontruim het nie. Die toetsstelle wat gebruik moet word om vir die virus te toets wat na die verskillende state versprei is, werk ook nie.

Boonop is die eerste pasiënt met Covid-19 in Kalifornië gediagnoseer sonder dat die persoon enige bande met ’n geval het waarvan die owerhede bewus is. Dit het vrese verhoog dat dié virus stil-stil reeds begin versprei.

Trump het Donderdagaand in Amerika in die Withuis kommentaar gelewer oor die situasie en Amerika se reaksie op die virus tot dusver as “ ’n geloofwaardige prestasie” beskryf.

“Ek het gister ’n mediakonferensie gehou en dit was werklik ’n baie goeie een,” het hy gesê.

Die mediakonferensie waarna hy verwys het, is bemark as ’n gesprek oor die administrasie se sukses om lede van die swart Amerikaanse gemeenskap te bemagtig.

“Basies was dit ’n kalmerende mediakonferensie.”

Wall Street het nie hiermee saamgestem nie en die markte het getuimel tot wat as ’n korreksie bekend staan. Die Dow, S&P 500 en Nasdaq is nou meer as 10% van hul hoogtepunte. Beleggers beskou ’n val van meer as 10% as ’n korreksie.

’n Beermark word beskou as ’n val van 20% of meer van die piek.

“Dit is moontlik die ergste ding wat ek al in my beroep gesien het,” sê Scott Minerd, beleggingshoof van Guggenheim Partners.

Die fondsbestuurder bestuur $215 miljard.

“Ek is al deur baie. Ek het die ineenstorting van die mark in 1987 beleef en ek het deur die internasionale finansiële krisis gegaan. Dit het die potensiaal om in iets uiters

ernstigs te verander.”

Mike Osterholm, direkteur van die sentrum vir navorsing oor oordraagbare siektes van die universiteit van Minnesota se mediese skool, is bekommerd dat die geval in Kalifornië net die punt van die ysberg is.

“Oordrag gaan voort,” sê hy. “Dit gaan nie anders wees as in die Midde-Ooste, die Europese Unie of Asië nie.” - Bloomberg en bygewerk

Meer oor:  Dow Jones  |  Nasdaq  |  S&P 500  |  Wall Street  |  Beurs  |  Aandelemarkte  |  Aandele  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.