Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Chinese toeriste val nie vir SA lokaas

Suid-Afrika se pogings om meer toeriste uit China te lok sukkel maar, blyk uit ’n verslag van ’n internasionale organisasie wat navorsing doen oor Chinese toeriste se buitelandse reise.

Een van die visum-uitdagings vir Chinese toeriste is dat dit ’n groot land is en hulle nie na Beijing wil reis om vir hul visums aansoek te doen nie.

Cotri, ’n navorsingsinstelling vir toerisme vanuit China, sê 7% meer Chinese toeriste het verlede jaar oorsee gereis, maar die aantal Chinese besoekers aan Suid-Afrika het in dié tyd nie juis toegeneem nie.

In die laaste kwartaal van 2018 was daar darem ’n “marginale” toename in aankomsyfers vanuit China, met ’n styging van 3,5% teenoor die vorige jaar. Maar as die hele 2018 in ag geneem word, is syfers “byna gelyk” aan 2017 se syfers en bly dit net onder die 100 000-merk.

China is die wêreld se grootste bron van internasionale toeriste en lande ding daarom mee om elkeen hul sny van dié koek te vergroot.

Ook Suid-Afrika spits hom amptelik op China toe en het juis in September aangekondig dat visumvereistes vir reisigers vanuit China en Indië verslap gaan word.

Dit is egter nie net die veelbesproke visumregulasies wat Chinese toeriste weghou nie.

“Die storie oor Chinese besoekers wat aangeval word en wie se waardevolle artikels en bagasie gesteel word, het baie aandag gekry in die Chinese sosiale media. Selfs die feit dat Suid-Afrika ’n Brics-land is, het toeristesyfers nie ’n hupstoot gegee nie,” lui Cotri se verslag.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika, beaam dat persepsies oor die veiligheid van toeriste een van die belangrikste kwessies is om te bestuur om meer Chinese toeriste te lok.

Hy sê daar is ’n “groot, positiewe verandering” by die departement van binnelandse sake en dat die bedryf deesdae goed saam met hulle werk.

Een van die visum-uitdagings vir Chinese toeriste is dat dit ’n groot land is en hulle nie na Beijing wil reis om vir hul visums aansoek te doen nie. Tshivhengwa sê toeriste wat met geakkrediteerde reisagentskappe van China na Suid-Afrika kom, sal “binnekort” hul visum by aankoms kan kry.

Tans besoek sowat 90 000 Chinese toeriste jaarliks Suid-Afrika. Teen 2030 wil Suid-Afrika tussen 1,8 miljoen en 2 miljoen Chinese toeriste per jaar lok.

Hy sê hulle werk saam met die regering aan ’n strategie. “Dis ’n bietjie laat, maar gebeur darem.”

Statistieke Suid-Afrika se jongste syfers wys dat altesaam 259 403 oorsese toeriste die land in Desember besoek het, teenoor 261 728 die vorige jaar. Dit is ’n afname van sowat 0,9%.

Suid-Afrika is nie al land wat sukkel om Chinese toeriste te lok nie. Veral langafstand-bestemmings sukkel.

Prof. Wolfgang Georg Arlt, direkteur van Cotri, sê die laer kant van die reisigersmark in China kies bestemmings wat nader is, soos Hongkong en Macau, terwyl die rykes meer outentieke ervaringe in nuwe bestemmings verlang.

Meer oor:  China  |  Visumregulasies  |  Toeriste  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.