Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Christo Wiese: ‘Dis my 1ste hofstryd met SAID’
Christo Wiese Foto: Jaco Marais

Christo Wiese sê sy belastingsake is in orde en die hofsaak in Augustus is die eerste keer nóg dat hy deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedagvaar word.

Dié opmerking Vrydag in ’n onderhoud met Business Day TV kom nadat Wiese betrek is by ’n saak oor belastingvermyding in berigte wat die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek Donderdag gepubliseer het, berig Fin24.

Volgens amaBhungane word Wiese betrek by ’n groter belastingeis wat voortspruit uit die herstrukturering van die oliemaatskappy Tullow se filiaal Energy Africa, wat Wiese van die regsfirma ENSafrica gekoop het.

Wiese het hom van die Tullow-herstrukturering gedistansieer omdat dit gebeur het voordat hy Energy Africa gekoop het. Die SAID se eis teen Energy Africa, wat intussen gelikwideer is, beloop R3,7 miljard.

In ’n afsonderlike onderhoud met Stephen Grootes op SAfm het Wiese gesê hy het ’n waarborg gehad dat Energy Africa geen belastingverpligtinge het ten tyde van die verkryging nie.

“Ná ’n jaar of twee het dit geblyk die SAID voel daar was inderdaad ’n belastingaanspreeklikheid wat uit die herstrukturering voortvloei.”

Wiese het die maatskappy ingevolge die waarborg aan ENSafrica terugverkoop.

In dié proses was ’n lening van R216,6 miljoen betrokke en dis dié bedrag wat die SAID van Wiese en nog drie individue, Isak Visagie, Gert Viljoen en Frederick Hofmeyr, wil verhaal.

Die saak word op 22 Augustus in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

In antwoord op ’n vraag deur Grootes het Wiese nié ontken dat die verkryging sy belastingrekening sou verminder nie. Grootes het toe gevra waarom Wiese nie net die belasting betaal nie.

Maar Wiese sê hy is een van die grootste belastingbetalers in die land, en was tot op hede nog nooit in ’n regsdispuut met die SAID nie.

“Ons het meningsverskille gehad, soos die meeste belastingbetalers het, en ons het altyd daarin geslaag om ’n skikking met die SAID te bereik. Soms pynlike skikkings. Ek is nie ’n SAID-prosedeerder nie.

Wiese hou vol hy het niks verkeerd gedoen nie.

Hy het vantevore aan Netwerk24 gesê die saak is in die ope hof en hy “steek niks weg nie”.

“Dit is ’n formele dispuut en die hof sal besluit wat is reg. Dit gebeur met alle belastingbetalers. Ek steek niks weg nie. Daar is niks sinisters daaraan nie.

“Ons het topregsadvies wat sê ons is 100% reg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.