Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
CNN se Richard Quest kap Span SA in Davos

CNN se sakeredakteur, Richard Quest, het te velde getrek teen “Span SA” wat die land op die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos, Switserland, verteenwoordig het.

Dít ondanks Tito Mboweni, minister van finansies, se versekering dat daar “talle vrugtevolle gesprekke” op die internasionale byeenkoms was.

Quest het in ’n onderhoud op Bruce Whitfield se The Money Show op 702, wat vanuit Davos uitgesaai is, gesê Suid-Afrika het “net nie dieselfde profiel” as voorheen nie.

“Brand SA het op verskeie geleenthede serpe om my nek probeer plaas, hulle het my probeer interesseer om dinge te bespreek, maar dit het net nie dieselfde profiel as in vorige jare nie,” sê hy.

Die gebrek aan ’n ophef kan om ekonomiese redes wees, “maar uiteindelik is daar geen punt om hierheen te kom en te sê: ‘Belê, belê, belê in my’ as jy nie die beleid het wat dit waardig is nie”.

Toe Whitfield hom vra of daar twee jaar gelede ’n gevoel van “Ramaforie” was en of dit “ ’n bietjie was soos om Nelson Mandela weer terug te hê”, het Quest hom kortgeknip.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, loop op Twitter deur ná kritiek deur Richard Quest van CNN.

“Dis was twee jaar gelede. Sedertdien het ons ontdek presies hoe verskriklik die staatskaping van staatsondernemings was.

“Nou is dit een van die onderwerpe waaroor Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings) sê: ‘As jy dink dit was erg; ek sê jou dit was erger.’

“Nou sê jy my iemand wat oor die afgelope vyf, tien jaar hierheen gekom het en gesê het: ‘Suid-Afrika is goed, doen regtig goed, ons het alles onder beheer’, draai nou skielik om en sê ‘wel, eintlik is ons ekonomie gekaap en ons is vreeslik jammer om vir julle te sê, die verliese beloop miljarde – wel, ons weet nie eintlik nie, dis moontlik triljoene, o, en terloops, selfs as jy dink dít is erg, dit is erger, en ons is nie seker of ons dit al opgelos het nie’.

Quest meen daar is gefaal om die skuldiges aanspreeklik te hou: “Hoeveel mense het tot dusver tronk toe gegaan?”

Oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens het Quest gesê: “Moenie probeer voorgee julle herstruktureer as julle net die dekstoele op die Titanic herrangskik nie.”

Quest het pres. Cyril Ramaphosa ook gekap en gesê hy kan nie sê hy het niks gesien of gehoor tydens die jare waarin oudpres. Jacob Zuma aan bewind was nie.

Die onderhoud het ’n heftige debat op Twitter ontketen.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma Sygnia en uitgesproke teen die betrokkenheid van die private sektor by staatskaping, het getwiet: “Kom ons vra Richard Quest: ‘Ons hele ekonomie is deur KPMG, McKinsey, Bain, SAP en ander multinasionale firmas gekaap. Hoeveel Amerikaanse uitvoerende hoofde is in die tronk?’ Ek haat dubbele standaarde.”

Heelwat mense het te velde getrek teen Gordhan, wat volgens sommiges verantwoordbaar gehou moet word vir die probleme by staatsondernemings, en wat volgens ander eiehandig beleggings in Suid-Afrika ontmoedig het. Fin24, bygewerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.