Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cofesa eis R500 000 vir sukkelende kleinsake

Die Konfederasie van Werkgewers in Suid-Afrika (Cofesa) eis dat die regering R500 000 betaal aan elke belastingbetalende kleinsakeonderneming wat swaarkry.

Verskeie ondernemings in 7de Straat in Melville, Johannesburg, is weens die staat van inperking gesluit. Foto: Getty Images

“Om slegs een werk te skep kos die departement van handel, nywerheid en mededinging R250 000, terwyl die mislukkingskoers van ontluikende ondernemings in Suid-Afrika 75% is – die hoogste ter wêreld,” het TJ van der Merwe, bedryfsbestuurder van Cofesa, Vrydag in ’n verklaring gesê.

“Die departement moet eerder toelaes van R500 000 beskikbaar stel om sukkelende, belastingbetalende ondernemings te ondersteun en om hul oorlewing te verseker.”

Cofesa eis dat elke onderneming wat sukkel R500 000 ontvang en elke kleinboer R35 000.

Pres. Cyril Ramaphosa het egter Vrydag op 702 FM erken dat daar “doodeenvoudig geen geld is” vir ’n stimuluspakket nie.

LEES OOK: Stimulus? Die regering se geld is op

Volgens Cofesa het Jan de Villiers, DA-LP, gesê die ouditeur-generaal het bevind dat 92% van die regering se finansiële ondersteuningspakket aan kleinsake nog nie bestee is nie.

“Van die R1,4 miljard wat begroot is vir ondersteuning aan kwalifiserende klein, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) wat deur Covid-19 geraak is, is slegs 8% bestee, wat beteken dat byna R1,3 miljard se verligting onbestee is,” het De Villiers gesê.

“Minister Khumbudzo Ntshavheni moet aan die parlement verduidelik waarom die departement van kleinsakeontwikkeling traag was om die noodlenigingsfondse toe te ken wat broodnodig is vir sukkelende KMMO’s oor die land heen.”

Cofesa sê dat kleinsake in die land al lank agteruitboer en die ekonomie nie kan bekostig om die paar ondernemings wat oorleef nou te verloor weens Covid-19 nie.

Volgens Cofesa het die getal geregistreerde maatskappye by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens van 3,2 miljoen in 2015 tot slegs 2 miljoen gedaal.

“Veral KMMO’s is die afgelope dekade onder groot druk,” sê Van der Merwe.

Hy sê gemiddeld 75% misluk – die grootste mislukkingskoers ter wêreld.

Beginnerondernemings het ook sedert 2001 van 250 000 tot 58 000 in 2011 gedaal. Volgens Cofesa hou dit aan daal.

Meer oor:  Stimuluspakket  |  Kleinboere  |  Stimulus  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.