Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cosatu: Cyril kon méér doen om mense te help
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa kon meer doen om ’n tweede vlaag van die koronavirus te voorkom én om Suid-Afrikaners te help.

Dit is die reaksie van die vakbond Cosatu Vrydagoggend op die jongste stappe wat aangekondig is om die stygende infeksies in veral die Oos-Kaap onder beheer te kry.

Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat die munisipale gebied van die Nelson Mandelabaai-metro, wat Port Elizabeth, Despatch en Uitenhage insluit, tot ’n brandpunt verklaar is.

Van die regulasie wat nou op die gebied van toepassing is, is die verlenging van die aandklokreël, nou van 22:00 tot 04:00, en die verkoop van alkohol wat oor naweke verbied word. Alkohol mag nou slegs van Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 verkoop word.

LEES OOK: Kersfees op vlak 1? 10 dinge wat jy moet weet

Cosatu sê in ’n verklaring hy dink die regering kan méér doen om beter beheer te kry oor plekke waar die virus vinnig kan versprei. Dit sluit kroeë, strande, partytjies en begrafnisse in.

Hy het ook die kans benut om die regering aan te vat oor die hofstryd wat tans oor staatslone aan die gang is.

Die staat sê hy kan nie die drie-jaar-loonooreenkoms nakom wat in 2018 gesluit is nie, terwyl die vakbonde daarop aandring dat die staatsamptenare hul verhogings kry.

“Cosatu vind dit beledigend dat staatsamptenare, wat onvermoeid werk om hierdie dodelike virus te beveg, steeds voor die hof gesleep word deur ’n regering wat weier om die 2018-loonooreenkoms te eerbiedig, en boonop stel hy voor dat die lone vir drie jaar nie verhoog word nie,” vaar die vakbond uit.

Hy kritiseer die regering verder omdat nog net 8% van die R200 miljoen gewaarborgde leenskema wat die staat geskep het, aan maatskappye uitbetaal is.

Dié leenskema word deur banke hanteer.

Nog ’n appeltjie wat die vakbond met die regering te skil het, is oor die verbod dat mense wat aan siektes ly wat hul risiko vir die virus verhoog, of wat ouer as 60 jaar oud is, nie werk toe mag gaan nie.

Cosatu sê as die regering dié werkers verbied om terug te gaan werk toe, dan moet hulle van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-skema kan eis.

Thulas Nxesi, minister van arbeid, het egter reeds aangekondig dat dié skema net eise tot en met 15 Oktober sal betaal.

Cosatu doen ook ’n beroep op die private sektor om beter steun aan werkers en maatskappye onder druk te gee.

“Werkgewers moet medelye betoon en voortdurende afleggings stop. Alternatiewe moet gevind word wat nie die rampspoedige werkloosheidskoers sal verhoog nie.”

Meer oor:  Cosatu  |  Cyril Ramaphosa  |  Port Elisabeth  |  Nelson Mandelabaai  |  Inperking  |  Werkloosheid  |  Vlak 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.