Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cosatu: Is Resbank dapper genoeg om rentekoers te sny?

Die vakverbond Cosatu het Woensdag by voorbaat ’n pleidooi gerig tot die Reserwebank om die rentekoers Donderdag te verlaag.

Cosatu-lede en ondersteuners. Foto: Jaco Marais

Die sentrale bank se monetêrebeleidskomitee (MBK), wat oor die rentekoersbesluit stem, is tans met sy eerste vergadering van die jaar besig.

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, sê die Reserwebank kan “broodnodige verligting vir die ekonomie” bring deur die rentekoers te verlaag.

Om die waarheid te sê daag hy die Reserwebank eintlik uit om die rentekoers te verlaag – en sê hy hoop die bank het die mannemoed om dit met 50 basispunte te verlaag.

“Die ekonomie trotseer die ergste resessie in 100 jaar… Al die regering se ekonomiese en maatskaplike verligtingsmaatreëls is effektiewelik beëindig. Om die waarheid te sê was sommige daarvan meer hersenskimme as werklikheid.

“Handelsbanke se beperkte betaalvakansies van drie maande, waartydens rente opgehoop het, was niks meer as ’n bespotting nie.”

’n Verlaging in die rentekoers bly dus een van die min oorblywende maniere waarop verligting aan mense en ondernemings met skuld gegee kan word.

Parks sê inflasie, “waaroor die Reserwebank lank uitsluitlik obsessief was”, daal nou al lank en is tans stabiel. Statistieke Suid-Afrika het Woensdagoggend bekend gemaak dat die inflasie in Desember net 3,1% en vir die hele 2020 3,3% was.

Parks wys daarop dat heelparty ekonomiese ontleders saamstem dat die Reserwebank “meer as genoeg rede het om die repokoers verder te verlaag”.

Die koers is in 2020 met drie persentasiepunte verlaag, wat Parks as “betekenisvolle verligting vir miljoene sukkelende werkers en verbruikers en honderdduisende maatskappye” loof.

Hy sê as die rentekoers nie verlaag word nie, word enige kans op ekonomiese herstel in die wiele gery.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, het egter vroeër die week gesê verdere rentekoersverlagings sal nie veel doen om ekonomiese groei te versnel nie.

Die skerp stygings in kospryse en die petrolprys, verwagte hoër belasting en stygings in kragtariewe is alles faktore wat inflasie vanjaar kan opdruk en die MBK huiwerig kan maak om rentekoerse te verlaag.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Vakbonde  |  Koronavirus  |  Repokoers  |  Rentekoerse  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.