Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cosatu se 8 pyne met Tito se plan

Die vakverbond Cosatu het ’n dringende beroep op die nasionale tesourie gedoen om sy ekonomiese strategie, wat onlangs bekendgemaak is, by Nedlac vir konsultasie ter tafel te lê.

  

Tito Mboweni
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Deaan Vivier

Nedlac is die nasionale bedingingsorganisasie waarop die regering, sake- en arbeidsektor oor beleid en wetgewing onderhandel.

Cosatu het Dinsdag ’n lang verklaring uitgereik waarin verskeie aspekte uitgelig is oor die nasionale tesourie se groeiplan waaroor hy “uiters bekommerd is”.

1. Onsekerheid oor status

Die proses wat gevolg is, bekommer die vakverbond omdat dit nie seker is wat die status van die plan is nie.

“Dit kom voor of dit nie verwerk of aanvaar is deur die kabinet nie, nietemin verwys dit na die rolle en verantwoordelikhede van feitlik alle departemente.

“In ’n mate wil dit voorkom of dit ’n mini staatsrede is.”

Dit is ook nie duidelik watter insette van ander regeringsdepartemente gekry is nie. Volgens Cosatu wil dit voorkom of die werk van departemente nie goed verstaan word nie. “Dit maak dit baie moeilik om daaroor te skakel omdat van die aspekte betwis word en sommige ministers en staatsondernemings se hoofde in die openbaar die voorstelle bevraagteken het.”

2. Die voorstel is nie by Nedlac ter tafel gelê nie

“Dit wil voorkom of die tesourie nie heeltemal dit waardeer dat die Nedlac-wet vereis dat alle wetgewing en beleid wat ’n maatskaplik-ekonomiese impak het en op die arbeidsmark van toepassing is, by Nedlac vir konsultasie ter tafel gelê moet word nie.

Die dokument weerspreek, bots en ondermyn hierdie kollektiewe benadering.
Cosatu

“Die dokument ondermyn die baie wesenlike skakeling wat die regering, gelei deur die president, insluitende die meeste departemente en veral die tesourie gehad het oor maatstawwe om die ekonomie om te keer.

“Dit het tot die presidensiële beraad oor werkskepping van 2018 gelei. Alle vennote, insluitende die president, het die ooreenkoms en plan wat by die beraad vorendag gekom is, onderteken. Daar is ’n taakspan wat met afloop van die beraad die taak het om die ooreenkoms in werking te stel.

“Die dokument (van die tesourie) weerspreek, bots en ondermyn hierdie kollektiewe benadering. Baie van die kwessies wat in die dokument geopper word, word in die Nedlac-prosesse oor geskakel.”

Volgens Cosatu ondermyn die dokument die beleidsekerheid waarvoor beleggers, die regering en sakelui vra.

3. Alliansievennoot nie geken

Cosatu kla oor die feit dat die vakverbond wat deel van die ANC-alliansie is, nie daaroor geken is nie. Die vakverbond moet soos almal anders skriftelike voorleggings aan die tesourie oor die dokument maak.

4. Minimum loon ontstel

Die voorstel dat klein en middelslagondernemings outomaties van die nasionale minimum loon vrygestel word, word ten sterkste deur Cosatu verwerp. “Die voorstel gaan die nasionale minimum loon heeltemal laat ineenstort.”

Volgens Cosatu is die voorstel nie op enige navorsing gegrond nie en tesourie het nie die kommissie wat die impak van die nasionale minimum loon moet bepaal of die departement van werkskepping en arbeid of vakbonde daaroor gekonsulteer nie.

5. Eskom-krisis

Een van die grootste probleme vir die staat is die krisis by Eskom. “Nietemin is die enigste voorstel in die dokument, om Eskom deur die agterdeur te privatiseer deur sy steenkoolbates te verkoop.”

Cosatu voer aan dit ondermyn die president en die ANC se verbintenis daartoe dat Eskom nie geprivatiseer sal word nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, kort voordat hy in Februarie sy begrotingsrede in die parlement gelewer het.

6. Volgens Cosatu is die dokument “onduidelik en onsamehangend”

Dis stil oor die belangrikste beleidskwessies wat ekonomiese groei ondermyn. “Die dokument stel geen nuwe makro-ekonomiese beleid of ingryping voor nie. Dit fokus net op ad hoc en deelsgewyse ingryping by die departement en mikro-ekonomiese kwessies.

“Verwag die tesourie werklik die ekonomie gaan groei sonder enige makro-ekonomiese beleidsveranderinge? Ná 25 jaar van dieselfde beleid en ’n gevolglike werkloosheidskoers van 40% moet hy besef dieselfde makro-ekonomiese beleid gaan nie ’n verskillende resultaat meebring nie?”

7. Korrupsie

Die regering verloor sowat 10% van die fiskus jaarliks aan korrupsie en verkwisting, volgens Cosatu.

“Die staat se inkomste tuimel. Ons belangrike staatsondernemings is op die rand van ineenstorting, maar nietemin spreek die dokument nie hierdie grondliggend beperkinge aan om die staat en staatsondernemings te stabiliseer en die ekonomie te groei nie. Dit sal beter gewees het as die dokument net hierdie krisisse alleen aangespreek het.”

8. Min praktiese voorstelle

Baie van die gebiede waar ingryping benodig word, word in die dokument beklemtoon. Cosatu stem saam dat baie daarvan ingryping benodig. Dit sluit in die brandstofprysstruktuur, om onderwys te koppel aan die vierde nywerheidsrevolusie en om die ineenstorting van die staat se wetstoepassingsvermoë aan te spreek. “Die dokument is egter stil oor praktiese voorstelle hoe dit herstel moet word.”

Cosatu is ook bekommerd oor die dokument stil is oor die instorting van Metro Rail en Prasa.

Meer oor:  Cosatu  |  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Ekonomiese Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.