Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-19 dalk eers einde 2022 in bedwang – IMF

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) voorspel dat die Covid-19-pandemie eers teen einde 2022 heeltemal in bedwang gaan wees, met weinig plaaslike oordrag.

The Moderna COVID-19 vaccine is shown at the Teque
Moderna se Covid-19-entstof. Die IMF sê as alle lande nie toegang kry tot entstowwe nie, sal dit die hele wêreldekonomie kniehalter. Foto: AP

Optimisme oor wêreld- ekonomiese groei het opgevlam toe entstowwe ontwikkel is teen die virus wat Covid-19 veroorsaak, maar nuwe vlae infeksies en nuwe variante het verwagtinge opnuut getemper.

Die IMF se eerste vooruitskouing oor ekonomiese groei is Dinsdag uitgereik. Hoewel dit daarop dui dat die IMF nou groei van 5,5% vir 2021 verwag, beter as die 5,2% wat in Oktober 2020 voorspel is, is dit slegs danksy sterker verwagte groei in die VSA.

Vir die VSA voorspel die IMF nou 5,1%, ’n hele twee persentasiepunte meer as die 3,1% wat in Oktober voorspel is.

As die grootste ekonomie ter wêreld beteken dit die VSA druk wêreldgroei hoër, maar elke ander noemenswaardige land gaan na verwagting traer groei as wat in Oktober voorspel is.

Vir Suid-Afrika voorspel die IMF nou 2,8%, teenoor die 3% waarop nog in Oktober gereken is. Dis baie minder optimisties as die 3,6% wat die Reserwebank onlangs voorspel het.

Die IMF raam nou dat die wêreldekonomie in 2020 met 3,5% ingekrimp het. Dis beter as die -4,4% wat in Oktober voorspel is.

China is die enigste groot land waarvoor groei vir 2020 voorspel is, hoewel net 2,3%. China het in 1976 laas ’n resessie beleef, toe groei -1,6% was, volgens die Wêreldbank.

k

Die IMF sê die meeste van die groei gaan vir 2021 gaan in die tweede helfte van die jaar plaasvind. Die VSA en Japan se stimuluspakkette vir individue en klein ondernemings gaan ’n groot bydrae daartoe lewer.

Vir 2022 voorspel die IMF 4,2%.

Die IMF sê in sy verslag die grootste slagoffers van die Covid-19-pandemie se ekonomiese impak was vroue, jong mense, armes en mense wat in die informele en dienstesektore werk. Hy herhaal die Wêreldbank se raming dat 90 miljoen mense in 2020 en 2021 deur die pandemie in armoede gedompel is, waardeur dekades se vordering met die uitwissing van ekstreme armoede omgekeer is.

2021 se groei gaan ook uiters ongelyk wees, na gelang van toegang tot entstof en regeringshulp vir die ekonomie. Pres. Cyril Ramaphosa het juis Dinsdag te velde getrek teen “entstof-nasionalisme” en die feit dat ryker lande meer entstowwe oppot as wat hul bevolking nodig het.

“Sterk multilaterale samewerking word vereis om die pandemie oral in bedwang te bring,” skryf die IMF.

“Sulke pogings sluit in dat finansiering vir die Covax-gerief versterk word om toegang tot entstowwe vir alle lande te versnel om universele verspreiding te verseker, teen bekostigbare pryse vir almal.”

Die IMF voorspel dat Covid-19 nog lank ’n demper op bedrywe soos toerisme gaan plaas, maar wêreldhandel sal in geheel na verwagting vanjaar met 8% styg.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie  |  Imf  |  Entstof  |  Covax  |  Inperking  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.