Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-19 kan ekonomie 5 j. knou – Reserwebank
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.Foto: Elvira Wood

Dit kan tot vyf jaar duur voordat die ekonomie weer herstel tot waar dit voor die Covid-19-pandemie was, sê die Reserwebank.

Die sentrale bank sê die pandemie is nog maar aan die beginfase in Suid-Afrika. Nes dit nog nie ’n piek bereik het nie, só kan die impak daarvan op die land se ekonomie ook nog glad nie met sekerheid geraam word nie.

Dis die boodskap van Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Woensdag met die bekendstelling van die bank se verslag oor finansiële stabiliteit.

Dié verslag word twee keer per jaar uitgereik.

Kganyago sê nes die verspreiding van die virus noukeurig dopgehou moet word, moet die invloed daarvan op die ekonomie, en veral op die finansiële stelsel, ook goed dopgehou word om só stabiliteit te verseker.

Kganyago sê hoewel die ekonomie onder geweldige druk is, is die land se finansiële sektor, nog likied en veerkragtig.

“Maar laat ek dit duidelik stel: Daar is verhoogde risiko’s wat finansiële stabiliteit bedreig, en die vooruitsig is uitdagend,” sê hy.

Alex Smith van die Reserwebank wat die verslag bespreek het, sê hoewel die pandemie baie druk op die finansiële sektor plaas, bly dit steeds veerkragtig.

Tog waarsku hy dat dit tot vyf jaar kan neem voordat die ekonomie weer herstel tot waar dit was vóór die pandemie.

Smith sê die groot risiko’s wat die pandemie vir banke bring, is dat baie individue en ondernemings wat geld skuld, gaan ophou om paaiemente te betaal, dat maandelikse premies vir versekeringspolisse nie betaal gaan word nie en dat mense waarskynlik geld uit beleggings gaan onttrek.

“Finansiële ondernemings se winsgewendheid gaan waarskynlik daal as gevolg van die Covid-19-pandemie,” waarsku Smith.

Staatskuld

Behalwe dat daar kommer is oor wat die invloed van voor die hand liggende uitdagings soos stadige ekonomiese groei en werkloosheid op die stabiliteit van banke en ander finansiële instansies kan hê, is die toenemende groei in staatskuld ’n verdere bedreiging.

Smith verduidelik dat met die staat wat die finansiële sektor die meeste geld skuld, speel staatskuld altyd ’n rol in hoe stabiel die finansiële sektor is.

Smith wys daarop dat staatskuld selfs nog voor die pandemie na verwagting beduidend sou groei. Die verwagting is nou dat dit selfs nóg meer gaan styg.

Dit is juis weens dié styging dat al drie die groot kredietgradeerders reeds die land se skuld tot rommel, of te wel onder beleggingsvlak, afgegradeer het.

Maatreëls

Smith wys daarop dat die Reserwebank deeglik bewus is van die uitdagings wat die sektor vanuit alle oorde in die gesig staar.

Die maatreëls wat reeds getref is om die sektor by te staan en finansiële stabiliteit te ondersteun, sluit in:

  • Addisionele likiditeit is beskikbaar gestel deur die omvang te vergroot en duur te verleng van repofasiliteite;
  • Staatseffekte is teruggekoop;
  • Die omsigtigheidsowerheid het die vereiste vir likiditeitsdekking vir banke verlaag van 100% tot 80%;
  • Die omsigtigheidsowerheid het tydelike vereistes vir bankkapitaal verlig;
  • Die omsigtigheidsowerheid het die regulatoriese behandeling van lenings wat herstruktureer is as gevolg van die Covid-19-pandemie aangepas. Dit beteken dat banke nie ekstra kapitaal teen hierdie lenings hoef te hou nie; en
  • Die repokoers is aansienlik verlaag, wat die skulddiensvermoë van leners ondersteun.

Die Reserwebank sê dat hy nie sal skroom om nog maatreëls in te stel, sou dit nodig wees om die stabiliteit van die sektor te beskerm nie.

Kganyago sê een só ’n maatreël is om te kyk na watter reserwes gehou moet word.

Kuben Naidoo, een van die Reserwebank se adjunkpresidente en uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, wat oor banke toesig hou, sê in krisistye soos nou moet banke individue en maatskappye ondersteun.

“Jy kan nie nou sê dat banke aan geld moet vashou nie, dit is juis nou wat hulle moet help,” sê hy.

Hy het ook herhaal dat die finansiële sektor die krisis op ’n goeie voet binnegegaan het, en dat die sektor dié krisis sal kan weerstaan.

Naidoo sê die enigste kommer is dat indien die pandemie baie lank duur en vir ’n lang tyd druk op die ekonomie plaas, wat die druk dan op banke gaan wees.

“Maar enige finansiële stelsel sal dan onder druk wees,” sê hy.

Meer oor:  Lesetja Kganyago  |  Covid-19  |  Reserwebank  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.