Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-19, rommelstatus laat twyfel floreer
Prof. Raymond ParsonsFoto: Argief

Die Covid-19-pandemie en Moody’s Investors Service se besluit om die land tot rommel af te gradeer, het beleidsonsekerheid in die land die hoogte laat inskiet.

Beleidsonsekerheid in Suid-Afrika het in die eerste kwartaal van 2020 tot die hoogste vlak tot nog toe gestyg, wys die kwartaallikse beleidsonsekerheidsindeks (PUI) van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool.

Die PUI vir die eerste kwartaal het van 53,6 tot 59,8 gestyg.

Hoe meer die indeks bo 50 styg, hoe groter is die onsekerheid. Die indeks is die netto resultaat van positiewe en negatiewe faktore wat persepsies oor beleidsonsekerheid oor ’n gegewe tydperk beïnvloed.

Die indeks word saamgestel uit mediaverwysings na ekonomiese onsekerheid, ’n peiling onder ekonome, en uit ’n peiling onder vervaardigers deur die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Ondersoek onder leiding van prof. Raymond Parsons.

Dit is die vyfde jaar dat die NWU se sakeskool die indeks saamstel.

Parsons sê hoewel beleidsonsekerheid die hoogte sou inskiet as gevolg van die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die regering se besluit om nie net ’n noodtoestand af te kondig nie, maar ook ’n staat van inperking van 21 dae, was daar voor dit al genoeg gebeure om só ’n styging te regverdig.

“Al die faktore wat daartoe gelei het dat Moody’s die land tot rommel verklaar het, sou genoeg rede gewees het om onsekerheid die hoogte te laat inskiet,” sê hy in ’n verklaring.

LEES OOK: Moody’s gradeer SA af – en Tito Mboweni is bang

“Dit was onvermydelik dat Moody’s eindelik ’n definitiewe besluit oor Suid-Afrika se skuldgradering moes maak.

“ ’n Negatiewe besluit kon nie meer vermy word nie, omdat Moody’s onseker was en nie oortuig kon word dat hervorming om groei te steun, wel geïmplementeer sou word nie.”

Parsons sê daar moet aanvaar word dat Covid-19 en Suid-Afrika se rommelstatus nou die “nuwe normaal” is.

Hy sê mense se “lewens en bestaan” is nou op die spel.

Parsons sê hoewel die regering ook gaan moet kyk hoe om die ekonomie in hierdie tyd te ondersteun, bly die groot fokus vir eers op gesondheid.

“Die onmiddellike implementering van aangekondigde ekonomiese maatreëls, tesame met die versagtings- en beheerstappe vir gesondheid soos wat vervat is in die 21-dae-inperking, is noodsaaklik om sake- en verbruikersvertroue te bevorder.

“Regulasies wat betref die inperking gaan ook gewysig moet word waar daar bewys is dat dit onwerkbaar of teenproduktief is. Deur die regte oplossings te gebruik voordat sakevertroue verwoes word, is die sleutel tot sukses,” sê Parsons.

Hy sê goeie nuus is dat Tito Mboweni, minister van finansies, reeds gesê het dat hy ’n eenheid sal saamstel wat op strukturele hervormings gaan fokus om groei te bewerkstellig.

“As Suid-Afrika oor die volgende paar jaar die lang pad terug wil vind na ’n positiewe beleggingstatus, gaan hy dit in elk geval moet doen.”

Beleidsonsekerheid

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.