Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-19: ‘Sake-eienaars moet nóú beplan vir toekoms’

Dit is noodsaaklik vir plaaslike ondernemings om te midde van die Covid-19-pandemie so gou as moontlik op te tree en vir hul voortbestaan te beplan.

“Die laaste ding wat sake-eienaars moet doen is om oorhaastig besluite te neem,” sê Sandra Beswick, sake-adviseur van Sandra Beswick and Associates in Johannesburg.

“Die krisis benadruk egter die behoefte aan behoorlike toekomsbeplanning en hoewel onsekere tye dit vir ondernemings moeilik maak om te beplan, help dit om oor verskillende scenario’s na te dink en solank strategieë vir oorlewing te ontwikkel,” sê sy.

Die klem moet op die moontlike gevolge wees en wat ná die krisis met ’n onderneming kan gebeur.

Beswick stel drie moontlike scenario’s voor waaroor sakeleiers moet dink met hul beplanning.

“Die eerste is die ergste scenario waar die krisis vir ’n langdurige tydperk duur en ’n ongekende ekonomiese ineenstorting en probleme vir honderde ondernemings in verskillende sektore veroorsaak.”

“Kenners noem hierdie scenario ’n L-vormige herstel. Dit is wanneer ’n ekonomie vir etlike jare in ’n diep resessie verval en dit lank neem (indien ooit) om tot sy vorige groeikoers te herstel,” sê Beswick.

Ter illustrasieFoto: Reuters

Die tweede scenario is die middeweg en volgens haar die mees waarskynlike om in Suid-Afrika te gebeur, waar die pandemie langer aanhou en ’n groeiende las op ondernemings plaas.

“Terwyl die ekonomie in dié scenario gedemp bly en sekere inperkings tot minstens die derde kwartaal van die jaar aanhou, beskik ondernemings oor genoeg kontant (danksy maatreëls deur die regering) om op kort termyn te oorleef.”

Die middeweg-scenario staan as ’n U-vormige herstel bekend en is soortgelyk aan ’n V-vormige herstel in die ekonomie, maar duur net langer. “In hierdie scenario krimp die bruto binnelandse produk oor ’n paar opeenvolgende kwartale voordat dit stadig maar seker terugkeer na die groeivlak waar dit voor die pandemie was,” verduidelik Beswick.

In die derde scenario slaag Suid-Afrika daarin om die pandemie behoorlik te bestuur danksy die regering se ingrypings, en die ekonomie begin tekens van herstel toon.

“In die derde scenario word (nuwe) gevalle van die virus beperk en ’n wydverspreide uitbreking daarvan voorkom. Dit staan onder ekonome as ’n V-vormige herstel bekend en word as die heel beste scenario beskou. Daar is aanvanklik ’n skerp daling, waarna die ekonomie weer vinnig herstel.

“Hoewel die herstel van individuele ondernemings grootliks van verskeie mikro- en makro-faktore afhang, insluitende hoe suksesvol hulle voor die pandemie was, asook hoe die pandemie ’n spesifieke sektor raak, is dit noodsaaklik vir sake-eienaars om te probeer voorspel watter rigting hul ondernemings onder die verskillende scenario’s kan inslaan,” sê Beswick.

“Daar is ’n verskeidenheid faktore wat in ag geneem moet word om te help met die herstel van ’n onderneming, wat wissel van die besnoeiing van oorhoofse koste tot die noukeurige ontleding van kontantvloei.

“Ondernemings moet likiditeit en kontantvloei eerste stel, asook duidelik met alle interne en eksterne belanghebbendes kommunikeer as hulle ’n bietjie lig aan die einde van die tonnel wil sien,” sê Beswick.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ondernemings  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.