Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-19 se impak: Van R19/$ tot -57% groei

Die Covid-19-pandemie het die hele wêreldekonomie ontwrig, maar in Suid-Afrika het dit boonop geland toe die land reeds in ’n resessie vasgevang was. Hier is ’n blik op die impak wat die krisis en gepaardgaande staat van inperking vanaf 27 Maart op mense en hul lewensbestaan gehad het.

Covid-19 het chaos in die ekonomie en op markte veroorsaak.

   

Werkloosheid

Suid-Afrikaners se vermoë om kos op hul kinders se borde te sit, is erg deur die inperking geraak.

In die tweede kwartaal van die jaar het 2,2 miljoen minder mense werk gehad as in die eerste kwartaal – iets wat regstreeks toegeskryf kan word aan die strengste vlakke van inperking.

Ironies genoeg het die amptelike werkloosheidskoers in die tweede kwartaal tot net 23,8% gedaal, maar Statistieke Suid-Afrika (SSA) het beklemtoon dis misleidend aangesien mense wat nie aktief werk soek nie, nie bygetel word by die amptelike syfer nie. En niemand is toegelaat om aktief werk te soek te midde van die inperking nie, of het dit later in die kwartaal nie as die moeite werd beskou nie. Die uitgebreide werkloosheidskoers van 42% is ’n meer akkurate aanduiding van die tweede kwartaal se werkloosheid.

k

In die derde kwartaal het 584 000 mense weer hul werk teruggekry wat in die eerste kwartaal afgeskaf is, maar dit het steeds beteken byna 1,7 miljoen mense wat ’n jaar vantevore gewerk het, was werkloos.

LEES OOK: Werkloosheid: ‘Ontwikkel vaardighede, verslap reëls’

Die amptelike werkloosheidskoers het weer opgeskiet tot 30,8% soos wat baie werkloses weer aktief begin werk soek het, en die uitgebreide werkloosheidskoers het ook verder gestyg, tot nog ’n rekord van 43,1%.

Die vierde kwartaal se syfers word eers vroeg in 2021 uitgereik, maar daar is min rede tot optimisme. Kleinhandelaars en toerisme-ondernemings gaan nie vanjaar in groot getalle tydelike werknemers aanstel nie omdat die inperking steeds heers te midde van ’n aggressiewe tweede vlaag Covid-19-infeksies wat oor die land spoel.

Daarby gaan baie jong mense wat pas matriek geskryf het of kwalifikasies behaal het, boonop die aantal mense op soek na werk laat toeneem.

k

    

Ekonomiese groei

As ’n mens graag die glas as halfvol sien, kan jy noem dat die resessie in die derde kwartaal van 2020 – ná vier kwartale van negatiewe groei in die bruto binnelandse produk (BBP) – geknak is.

Maar die Covid-19-krisis het die manier waarop ekonomiese groei tradisioneel bereken word, naamlik kwartaallikse, geannualiseerde en seisoensaangepaste groei, so skeefgetrek dat dit kwalik sin maak. Op dié grondslag het die ekonomie in die derde kwartaal met 66,1% gegroei ná die -57,1% in die tweede kwartaal.

k

’n Baie realistieser aanduiding van hoe die ekonomie vaar, is die jaargroei van -6%.

LEES OOK: Einde van resessie? Moenie klappers skiet

Die syfers vir die vierde kwartaal behoort ook positief te wees, maar vir die volle 2020 word tussen -7,2% en -8,1% tans voorspel.

k

    

Inflasie

Een “goeie” uitvloeisel van die Covid-19-krisis is dat die prys van goedere en dienste nie vanjaar gemiddeld skerp gestyg het nie. Winkels en diensverskaffers kon eenvoudig nie skerp prysstygings aan verbruikers deurgee nie omdat hul verkope reeds so erg geknou was deur die inperking.

Die inflasiekoers het tot so laag as 2,1% in Mei geval en teen November was dit steeds op net 3,2%. Die gemiddeld vir die jaar tot dusver is 3,3%.

Daar is wel kommer oor die skerp styging van kospryse. ’n Trollie kos is nou gemiddeld 5,8% duurder as ’n jaar gelede – dus byna dubbeld die algemene inflasiekoers. Bees- en varkvleis het vanjaar al 15% duurder geword en lamsvleis 28%.

LEES OOK: Só word kos nou duurder - en hoekom

k

    

Rentekoers

Weens die lae inflasiekoers en die resessie het die Reserwebank vanjaar die rentekoers vyf keer verlaag – in Januarie (0,25 van ’n persentasiepunt (pp), Maart (1 pp), April (1 pp), Mei (0,5 pp) en Julie (0,25 pp). Die twee verlaging in April was ’n buitengewone verlaging omdat die Reserwebank gewoonlik elke twee maande oor die rentekoers vergader. Die verlaging van ’n volle persentasiepunt in Maart en April is iets wat laas gedoen is tydens die 2009-resessie.

Die rentekoers is in dié tyd met 3 persentasiepunte verlaag. Dis nie weer in September of November verander nie, en die Reserwebank self reken die koers is nou by sy onderste draaipunt. ’n Verhoging word selfs teen einde 2021 verwag.

k

Die Reserwebank se repokoers begin 2021 op 3,5%, die laagste in byna 50 jaar. Dis die koers waarteen hy geld aan handelsbanke leen. Banke se prima rentekoers beloop nou 7%.

Die volgende rentekoersbesluit is middel Januarie.

  

Brandstofpryse

Die prys van ruolie het vanjaar skerp gedaal ondanks pogings deur die oliekartel onder leiding van Saoedi-Arabië om produksieperke op te dwing en só die prys te probeer steun. Die vraag na brandstof het eenvoudig net te vinnig verdamp – minder vrag is vervoer, miljoene mense het van die huis af gewerk en vliegtuie het kwalik opgestyg.

Die prys van Brent-ruolie, die grondbestanddeel van Suid-Afrikaanse petrol, het die jaar op byna $67 per vat begin, maar in April tot net meer as $19 geval. Teen jaareinde was dit weer net-net $50 per vat.

Dit het meegebring dat Gautengers teen Desember R1,84 per liter minder vir 95-oktaan betaal het as ’n jaar vantevore en R2,08 per liter minder vir diesel. Aan die kus het petrol R1,90 per liter goedkoper geword en diesel R2,14.

Petrol kos nou onderskeidelik R14,46 en R13,76 per liter en diesel op groothandelvlak R12,45 en R11,85 per liter.

Die slegte nuus is egter dat 2021 met ’n skerp styging begin wat teen Maandag op 36c per liter vir 95-oktaan gestaan het en op 54c per liter op diesel met ’n swaelinhoud van 0,05%.

k

  

Rand-dollar-wisselkoers

Die rand het ’n wipwa-rit beleef wat hom van ’n goeie begin van R14 per dollar in Januarie tot selfs R19,07 sien verswak het. Dit het tot November geduur voordat die geldeenheid weer deur R16 per dollar gebreek het en het in Desember deur R15 gebreek. Dit kon egter nie naby R14 kom nie en het gevolglik vir die jaar tot dusver met 3,8% verswak.

k

   

JSE

Die JSE se indeks van alle aandele het dieselfde insinking as die rand en as ander finansiële markte beleef soos groot beleggers hulle in ’n stadium op groot skaal aan aandele onttrek het om in goud te belê.

Die indeks het die jaar egter stewig afgesluit op vlakke wat twee jaar laas gesien is, vir ’n algehele styging van 4,7%.

k

      

Kleinhandel

Handel, die bedryf wat benewens klein-, groot- en motorhandel ook hotelle, restaurante en toerisme-ondernemings insluit, is een van die grootste bedrywe in die ekonomie.

Dit dra aan produksiekant 15% tot die bruto binnelandse produk by. Net die staatsdiens en finansiële dienste (albei 19%) is groter. Handel is ook die naasgrootste werkskepper, met meer as 3 miljoen mense in sy diens. Gemeenskaps- en maatskaplike dienste, met byna 3,4 miljoen werknemers, is die grootste.

Groot dele van dié sektor moes die spit moes afbyt weens die inperking.

LEES OOK: Meer tuisbly, minder bederf oor feestyd

’n Kykie na hoe kleinhandel as onderafdeling van die handel gevaar het, wys hoe swaar die bedryf getref is. Ondanks tekens van herstel teen Oktober, bly die syfers vir die jaar negatief op -8%.

k
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Jaaroorsig  |  Rand  |  Werkloosheid  |  Petrolprys  |  Markte  |  Brandstofpryse  |  Werkloosheidskoers  |  Jaaroorsig 2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.