Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-korrupsie: SA is nie alleen nie

Suid-Afrika, en talle lande oor die wêreld heen, gaan gebuk onder ’n vlaag van korrupsie wat beteken miljoene mense kry nie behoorlike toegang tot openbare dienste en mediese sorg tydens die koronaviruspandemie nie.

Business people sending documents under the table
Die persepsie van korrupsie het nog nie onder pres. Cyril Ramaphosa verbeter nie. Foto: Adobe

Die waghond Corruption Watch het Donderdag sy jongste verslag oor korrupsie in die wêreld uitgereik.

Suid-Afrika se punt en posisie op die ranglys het ten spyte van die regering onder pres. Cyril Ramaphosa se vele veldtogte teen korrupsie onveranderd gebly.

Die verslag peil sakelui en kenners wêreldwyd oor hul persepsies oor korrupsie in hul land.

Suid-Afrika het 44 punte uit 100 gekry en is 69ste op die ranglys van 179 (korrupste) lande.

Volgens Corruption Watch dui enige punt onder 50 op “beduidende korrupsie” in ’n land.

Suid-Afrika se eweknieë is Bulgarye, Hongarye, Jamaika, Roemenië en Tunisië.

“Die afgelope agt jaar sit die land min of meer vas op 44 en vorm deel van die twee derdes van lande met ’n telling van minder as 50 – wat op ernstige korrupsievlakke dui.

“Die feit dat Suid-Afrika byna tien jaar lank nie meer as 50 punte op die indeks kon kry nie, is ’n verdoemende beskuldiging van die omvang van korrupsie en hoe skadelik dit vir die land is,” sê David Lewis, uitvoerende direkteur van Corruption Watch.

Die feit dat Suid-Afrika byna tien jaar lank nie meer as 50 punte op die indeks kon kry nie, is ’n verdoemende beskuldiging van die omvang van korrupsie en hoe skadelik dit vir die land is.
David Lewis van Corruption Watch

“Die openbare vertroue in die regering is verder verswak tydens die Covid-19-pandemie omdat die blatante (misbruik) van verkrygingsprosesse – in ’n tyd waarin die hele samelewing met integriteit moet saamwerk – die aankoop van persoonlike beskermende toerusting gekenmerk het.”

Die verslag dui daarop dat Suid-Afrika se noodverkrygingsmaatreëls ’n groot rol in dié korrupsie in 2020 gespeel het.

“In Suid-Afrika het die gebrek aan deursigtigheid oor openbare besteding, tesame met die afleiding van geld wat spesifiek aan die bestuur van die pandemie toegewys is en magshebbers se selfverryking die reaksie op die koronavirus gekenmerk.”

Talle ANC-lede is die afgelope maande in die visier van die owerhede vir korrupsie ten opsigte van die verkryging van veral persoonlike beskermende toerusting.

In Suid-Afrika en ander lande in die streek dui die ekonomiese skokke op die feit dat hierdie lande swak toegerus was om die pandemie te hanteer, lui die verslag.

Die instelling van streng inperkings om die oordrag van die koronavirus te bekamp, tesame met bewyse van bedrog, korrupsie en prysvasstelling, en beroepe op die regering om tydelike hulpmaatreëls het onrus ontketen.

“Daar is geen twyfel nie dat deurdringende korrupsie ’n belangrike rol gespeel het om die vermoë van baie lande in Afrika suid van die Sahara te belemmer om effektief op die pandemie te reageer en dienste aan hul bevolkings te kan lewer.”

Afrika suid van die Sahara het die swakste punte in die hele wêreld gekry. Die gemiddelde punt vir hierdie streek was slegs 32 op die indeks.

Die drie swakste presterende lande is Soedan (16), Suid-Soedan (12) en Somalië (12). Hierdie lande het selfs laer punte as Noord-Korea (18) gekry.

Lande met die minste korrupsie

  • Denemarke: 88 punte
  • Nieu-Seeland: 88 punte
  • Finland: 85 punte
  • Singapoer: 85 punte
  • Swede: 85 punte
  • Switserland: 85 punte

Lande met die meeste korrupsie

  • Venezuela: 15 punte
  • Jemen: 15 punte
  • Sirië: 14 punte
  • Somalië: 12 punte
  • Suid-Soedan: 12 punte

Die verslag wys dat buiten die Covid-19-pandemie het die wêreld in 2020 onder ’n “pandemie van korrupsie” gebuk gegaan.

Dit het talle mense ontneem van die openbare dienste wat nodig was om hul lewens te red, en ten minste deels vir die meer as twee miljoen sterftes aan Covid-19 in dié jaar verantwoordelik is.

Meer oor:  Corruption Watch  |  Korrupsie  |  Covax  |  Inperking  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.