Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril en die ekonomie: 6 dinge wat jy moet weet

Die ekonomie was ’n kernaspek van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand. Maar as jy die naweek om ’n braaivleisvuur staan en moet verduidelik presies wát oor die ekonomie belangrik was in die president se toespraak, wat sou jy sê? Hanlie Stadler lig ses belangrike punte uit.

  

1. Ons praat weer oor die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP)

  

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in die parlement. Foto: Jaco Marais

Nadat ons die afgelope paar staatsredes negepunt-, 12-punt- en selfs 14-puntplanne vir die ekonomie gehad het en slagwoorde soos “radikale ekonomiese transformasie” moes sluk, het Ramaphosa gesê die NOP moet “herstel word tot sy plek in die middelpunt van ons nasionale poging, om dit lewend te maak, om dit deel te maak van die geleefde ervaring van Suid-Afrikaners”.

Die NOP stel teikens vir ekonomiese groei en indiensneming teen 2030 en Ramaphosa was verfrissend eerlik daaroor dat die land nié op koers is om dit te haal nie.

Maar die meeste ekonome het die NOP nog altyd geloof as ’n sober plan wat op die regte dinge klem lê.

LEES OOK: Praat is maklik; nou die ‘hoe’ , sê ekonome

 

2. Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) kom beslis

  

Ondanks besware van die private sektor en opposisie dat Suid-Afrika die NGV nie kan bekostig nie, het Ramaphosa beklemtoon dat dit op pad is.

Die gesondheidstelsel moet dringend verbeter word. Dis onaanvaarbaar dat ’n 80-jarige vrou ’n hele dag lank in ’n ry by ’n kliniek moet staan net om haar chroniese medisyne te kry of dat ’n swanger vrou en haar baba se lewe in gevaar gestel word omdat ’n ambulans nie betyds opdaag nie, het hy gesê.

Die hersiening van NGV se tydskedule is baie na aan klaar.

Die klem sal wees op die gehalteverbetering van sorg in staatshospitale en -klinieke.

Kosteberekeninge vir die NGV-fonds word ook nou gedoen. Die NGV-fonds is die fonds wat bydraes vir die NGV moet bestuur.

  

3. Eskom gaan nie meer geld kry nie, maar hy gaan dit gouer kry

    

In Februarie het Tito Mboweni, minister van finansies, R230 miljard aan Eskom toegewys wat oor tien jaar versprei sou word teen R23 miljard per jaar.

Eskom se Lethabo-kragstasie in Limpopo.

Ramaphosa het egter gesê ’n spesiale wetsontwerp gaan dringend by die parlement ingedien word om ’n groot deel van die R230 miljard “in die vroeë jare toe te wys”.

“Dit moet ons doen omdat Eskom te noodsaaklik vir die ekonomie is om toegelaat word om te misluk.”

Hy het gesê Eskom het tot einde Oktober geld om sy bedrywighede te finansier.

LEES OOK:  Plan vir Eskom kan SA se gradering knou

Ramaphosa het ook ’n beroep gedoen op almal wat krag gebruik om daarvoor te betaal. “Die dae van betalingsboikotte is oor. Dis nou tyd om te bou; dis nou tyd dat ons almal ons bydrae lewer.”

   

4. Pensioenfondse word gevra om infrastruktuur te finansier

  

Hoewel Ramaphosa dié punt vlugtig gemaak het, is dit van groot belang vir almal wat vir hul aftrede spaar. Dit moet gesien word in die konteks van die ANC se verkiesingsmanifes, wat ’n wet voorstaan wat pensioenfondse sal dwing om in “voorgeskrewe bates” soos infrastruktuurontwikkeling te belê.

Ramaphosa sê die regering se “nuwe benadering” tot infrastruktuurontwikkeling is gegrond op private-openbare vennootskappe, en vennootskappe met plaaslike gemeenskappe. Daar sal gefokus word op water, paaie en studenteverblyf.

Ons is besig om dit te doen in konsultasie met private beleggers, soos pensioenfondse, wat geesdriftig is om deel te neem aan die infrastruktuurfonds.

Hy het weer herhaal dat die regering R100 miljard opsy gesit het om ’n infrastruktuurfonds op die been te bring.

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gaan dié fonds onder toesig van die nuwe departement van openbare werke en infrastruktuur bestuur. Dis die departement waarvan Patricia de Lille, leier van die Good-party, die minister is.

“Ons is besig om dit te doen in konsultasie met private beleggers, soos pensioenfondse, wat geesdriftig is om deel te neem aan die infrastruktuurfonds.”

LEES OOK: Só voel bedryf oor gedwonge aftree-beleggings

Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa), het verlede week aan Rapport gesê dis ’n goeie idee dat pensioenfondse in infrastruktuurprojekte belê. “Dit word wêreldwyd gedoen, soos in Australië en Kanada byvoorbeeld.”

Organisasies soos die Instituut vir Rasseverhoudinge en TLU SA is daarteen gekant, en die landbou-organisasie sê hy sal dit hand en tand in die hof beveg.

  

5. Die Reserwebank gaan oukei wees

  

Ramaphosa het die versekering gegee dat die Reserwebank toegelaat gaan word om sy grondwetlike mandaat onafhanklik uit te voer.

LEES OOK: Reserwebank sal onafhanklik bly – Ramaphosa

  

6. Grondhervorming gaan (vir eers) op staatsgrond fokus

  

Grondonteiening gaan heel eerste met staatsgrond begin word, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag weer gesê. Foto: Argief

Ramaphosa het gesê staatsgrond wat geskik is vir “slim stedelike vestiging en vir landbou” gaan beskikbaar gestel word. Dis die eerste stap om grondhervorming te bevorder.

Daarna sal die aanbevelings van die president se adviespaneel oor grondhervorming mettertyd oorweeg word vir ’n “omvattende, verreikende en transformerende grondhervormingsprogram”.

Die paneel se werk is uiters omstrede nadat die boer Nick Serfontein en Dan Kriek, president van Agri SA, hul eie minderheidsverslag ingedien het.

LEES OOK: ‘Grondpaneel is soos spazawinkel bedryf’

Meer oor:  Eskom  |  Cyril Ramaphosa  |  Staatsrede  |  Reserwebank  |  Ngv  |  Ekonomie  |  Staatsrede 2019  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.