Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril kry 8 punte vir retoriek, 2 punte vir detail

Die staatsrede kry ’n telling van net twee uit tien vir “tekens van ’n verskuiwing na implementering” deur meer besonderhede te gee oor wanneer en wie daarvoor verantwoordelik is.

So sê die ekonoom Peter Attard Montalto van Intellidex.

Die ekonoom Peter Attard Montalto van Intellidex. Photo: LinkedIn

Hy gee ’n telling van agt uit tien vir “PR en retoriek” en net meer as ses punte vir dit wat oor beleid gesê is.

“Daar was weinig keuse vir die president anders as om die versneller te trap op PR en retoriek en deur dit te doen het hy ’n toespraak gelewer wat ’n mate van warmte sal opwek. Dit was in werklikheid heeltemal te lank met 32 bladsye en 7 400 woorde, wat beteken die momentum wat hy wou gee en die gevoel van visie deur sosiale kontrakte het tussen die besonderhede verlore gegaan.”

Montalto voel die toespraak was ietwat oorweldigend deur die “groot getal verskillende kwessies” waarna hy verwys het.

“Dit toon hulle is besig, maar gegewe die lae groei en stygende werkloosheid, lig dit net die geskarrel en min voorwaartse beweging uit. Dit is die nadeel daarvan om die hele kabinet te kry om die staatsrede te help skryf.”

Hy glo sakevertroue gaan net verbeter as aksie gesien word.

Volgens hom worstel die president daarmee om “aksie met implementering” te druk in die rigting waar dit saak maak.“Dus dink ons die positiwiteit hieroor gaan uiteindelik vervaag namate vertragings (met implementering) kom.”

Boonop het die president “goeie redes gestel vir hom om verwyder te word as hy nie meer spesifiek is nie”.

Prof. Raymond Parsons

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die NWU se sakeskool, sê die mate waarin die staatsrede “beleidsonsekerheid kan verminder en beleggersvertroue verhoog, sal afhang daarvan of die gevoel van dringendheid wat geskep is in positiewe aksie en tasbare uitkomste omskep kan word”.

“Die positiewe impak van die beleidsraamwerk wat in die staatsrede uiteengesit is, sal afhang van die suksesvolle implementering daarvan en die noue samewerking met die private sektor.”

Volgens hom erken die staatsrede die ernstige sosio-ekonomiese probleme, veral die lae groeikoers en hoë werkloosheid en word ’n breë raamwerk uiteengesit vir die regering om dit mee te takel.

“Die klem op inklusiewe groei en die noodsaaklikheid daarvoor om dringend die struikelblokke te verwyder vir strukturele ekonomiese hervorming word verwelkom.”

Hy dink van die positiewe aspekte van die staatsrede is die stappe wat ten opsigte van kragverskaffing aangekondig is en die maatstawwe om jeugwerkloosheid aan te spreek.

“Die besluit dat goed bestuurde munisipaliteite krag van elders as Eskom kan kry, is ’n stap in die regte rigting.”

Volgens hom het ander aankondigings meer besonderhede en spesifieke verduidelikings.

Verwysings na ’n welvaartfonds, die finansiering van Eskom, dissipline met die staat se salarisrekening en ’n staatsbank sal verder in die begrotingsrede op 26 Februarie uiteengesit word.

Sanisha Packirisamy
Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments. Foto: Verskaf

By Momentum Investments dink Sanisha Packirisamy, ekonoom, die mark gaan waarskynlik positief reageer op wat oor die energiesektor gesê is, maar daar was ’n “beduidende gebrek aan besonderhede oor tydlyne”.

Sy het verwys na hoeveel keer Ramaphosa in sy toespraak na “die sosiale kontrak” verwys het.

“Die belang van die heropbouing van ’n sosiale kontrak is beklemtoon as noodsaaklik om ’n omgewing te skep waarin dinge kan gebeur.”

Hoewel daar erkenning is dat baie harde werk voorlê om die ekonomie aan die gang te kry, begin beleggers ongeduldig raak met die tam pas van hervorming.

“Politieke wil word ál meer dringend om ambisieuse idees oor hervorming in konkrete aksie om te sit.”

Sy glo ook dat die groter beleidsonsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding en die finansiering van nasionale gesondheidsversekering net met meer besonderhede gepak kan word.

Die vakverbond Cosatu sê in ’n verklaring die staatsrede het daarin geslaag om die “knelpunte te identifiseer wat tot die stagnering van die ekonomie lei en van die oplossings wat daarvoor voorgestel is deur die ANC-manifes”.

Ook Cosatu verwag egter nou meer besonderhede van die toepaslike departemente in hul begrotingsredes en van die nasionale tesourie met sy begrotingsrede oor watter verbintenisse in die staatsrede gemaak is.

Meer oor:  Intellidex  |  Momentum  |  Nwu  |  Raymond Parsons  |  Staatsrede2020  |  Staatsbesteding  |  Staatskuld  |  Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.