Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Cyril moet vergeet van ANC-eenheid’ – sakeleier

Pres. Cyril Ramaphosa moet nou ophou om party-eenheid in die ANC na te jaag, sê die akademikus en sakeman dr. Vincent Maphai.

Vincent Maphai
Dr. Vincent Maphai, akademikus en sakeleier, het Vrydag sy indrukke oor Suid-Afrika en die ANC in die nadraai van die Mei-verkiesing gegee. Foto: William Horne

Maphai, ’n voormalige direkteur van onder meer BHP en die SAB wat tans in die direksie van Discovery dien, het Vrydag by die Bryanston Country Club in Johannesburg ’n oorsig van Suid-Afrika ná die verkiesing gegee.

Hy meen die toekoms van die ekonomie hang daarvan af of Ramaphosa nou afvalliges uit die ANC sal skop, want solank hulle gepaai word, sal sy kabinet nooit “syne” wees nie.

Hy het oudpres. F.W. de Klerk en die Nasionale Party (NP) vergelyk met die situasie waarin Ramaphosa hom bevind.

“Die NP het destyds in sy tyd van krisis ’n filosofiese kloof gehad – hervorm of onderdruk.

“Maar die ANC se interne verskille is nie filosofies nie. Die ANC se kloof is op karakter gegrond en kan dus nie op ’n rasionele manier opgelos word nie.

“Dis soos twee mans wat oor ’n vrou se liefde baklei – daar is nie ’n rasionele manier om dit te bemiddel nie. Een moet doodeenvoudig loop. Net een kan wen, wie dit ook al is.”

Maphai sê die 2019-verkiesing sou nooit die keerpunt gewees het wat mense verwag het nie. Dit het net die veld voorberei vir die eindspel, wat opbou na die crescendo in 2023 se verkiesing.

“In 2023 gaan ons een van twee ANC’s hê. As Cyril goed vaar, sal dit ’n herrysing wees van Mandela se ANC en die afvalliges sou weggeval het. Maar as hy nie nou die regte besluite neem nie, en nie die land bo sy party stel nie, sal ’n Gupta-agtige soort ANC die botoon voer.”

En dan, waarsku Maphai, sal die ekstremiste noodwendig begin lei. So ’n ANC-leemte is presies waar despote aan enige kant van die politieke spektrum aan bewind kan kom. Maphai waarsku oor “ons eie Trump” in 2023.

Wat moet Ramaphosa doen?

Ramaphosa het mag aan vele fronte, sê Maphai. En hy het ’n geleentheid wat min voor hom al gehad het.

“Cyril ken besigheid; as hy bel, kom die sakeleiers. Hy ken die vakbonde, en hy is in sy hart ’n boer, nes ek. En die landbou is ’n magtige groep.”

Ramaphosa het ’n mandaat vir verandering, want die ANC het uiteindelik in vanjaar se verkiesing gesien daar is gevolge vir sy optrede, en hy het genoeg steun om “ongewilde besluite” te kan neem sonder dat sy party van hom ontslae kan raak, sê Maphai.

Maphai glo dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as adjunkpresident van die land die ANC se korrupsie en wanprestasie in die bek sal kan ruk.

Hy meen as Ramaphosa toesig oor binnelandse aangeleenthede – wat byvoorbeeld die polisie insluit – aan haar toevertrou, sal sy dit vinnig regruk.

“Sy is ’n bulhond as sy jou eers byt – sy sal nie los tensy jy haar skiet nie.”

As haar bevoegdhede reg ingespan word, sal Ramaphosa ook weer kalmte na KwaZulu-Natal kan bring, sonder om die afvalliges in die leierskap verder te paai, sê Maphai.

“As sy só ontplooi word, kan Cyril fokus op buitelandse kwessies en die ekonomie.”

ANC moet vernuwe

Ramaphosa moet ’n nuwe identiteit vir die ANC skep.

Maphai sê daar sal nooit weer enigheid wees in die party soos hy nou daar uitsien nie, maar verandering en aanpassing is moontlik.

“Hulle sal ook die bevrydingstrydnarratief moet los. Ek was ’n slaaf onder apartheid, my kinders was half-slawe, maar my kleinkinders is vry gebore.

“Sê vir hulle jy het hulle bevry en hulle lag in jou gesig. Al waaroor hulle omgee, is of die Gautrein betyds is.”

Daardie soort dienslewering is die prioriteit, maar om daar uit te kom, sal Ramaphosa se keuses slagoffers eis, sê Maphai.

Meer oor:  Anc  |  Cyril Ramaphosa  |  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Ekonomie  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.