Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril-plan: Geen geld vir sukkelende staatsentiteite
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Elvira Wood

Daar is geen geld in die huidige boekjaar vir sukkelende staatsondernemings beskikbaar nie, en ook nie om binne die volgende 12 maande geld uit die staatskas daarvoor te gee nie.

Dít blyk uit pres. Cyril Ramaphosa se konsepplan vir ekonomiese herstrukturering en die herstel van die ekonomie.

Hoewel die presidensie die naweek gesê het dat die president Donderdag om 14:00 dié plan in die parlement uiteen sal sit, is  dit Maandag reeds aan die media uitgelek.

Netwerk24 het dié dokument van 48 bladsye onder oë gehad.

Hoewel geen staatsonderneming, buiten Eskom, by die naam genoem word nie, word dit baie duidelik gestel dat daar nie nou geld is om hulle te help nie.

Die plan lui net dat die department van openbare ondernemings, in konsultasie met die presidensie en die tesourie, “moontlike finansieringsbronne moet ondersoek”.

Daar word al weke lank gegis oor of die tesourie die R10,3 miljard beskikbaar gaan maak om die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te red.

Die departement van openbare ondernemings sê lank reeds dat hy in “gesprekke” gewikkel is oor moontlike finansiering. Tot nou is daar egter geen teken van die geld nie.

Eskom

Wat Eskom betref is die plan om hom so gou as moontlik in drie afsonderlike dele op te breek en finansieel volhoubaar te kry.

André de Ruyter, uitvoerende hoof, het onlangs gesê dat Eskom se skuld tans ’n enorme R488 miljard beloop.

Die plan is ook om ’n “raamwerkooreenkoms te onderteken vir ’n maatskaplike ooreenkoms ter ondersteuning van Eskom” om inklusiewe ekonomiese groei te ondersteun.

As die plan tot uitvoering gebring word, sal Suid-Afrikaners egter nie net aan Eskom se lot oorgelaat word nie. Daar is ook planne om die “registrasie en lisensiëring vir generering vir eie gebruik” te bespoedig.

Nog ’n plan is om binnekort ’n versoek om ’n kwotasie vir vloeibare petroleumgas (LPG) uit te reik.

Toerisme

Een van die groot fokuspunte van die konsepplan is om so gou as moontlik weer die sukkelende toerismesektor op die been te kry.

Die plan is om onder meer die e-visa-program uit te brei en om ’n toerisme-ekwiteitsfonds te skep.

Daar is ook planne om te kyk of Suid-Afrika groot konferensies en “mega”-gebeure kan aanbied.

Korrupsie

Die konsepplan maak spesifiek melding van ’n plan om in te gryp en stappe te doen teen misdaad en korrupsie.

Die plan is om binne die volgende ses maande ’n teenkorrupsiestrategie op te stel.

Daar word ook melding gemaak dat stappe gedoen moet word om te keer dat staatsgeld vermors of onreëlmatig bestee word.

Nog planne

Die konsepplan het talle voorstelle wat oor verskeie sektore heen strek – van onderwys tot landbou.

Van die voorstelle kan as volg opgesom word:

1. Herstel en versterk die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se vermoë om belasting in te vorder;

2. Hou aan om werkers te ondersteun met behulp van die Werkloosheidsversekeringsfonds;

3. “Verseker fiskale omsigtigheid, insluitende die bestuur van die loonrekening en die versekering van waarde vir geld”;

4. Hersien die belastingstruktuur vir ondernemings en kyk waar belastingverligting aan kleinsake en sektore wat onder druk verkeer, gegee kan word;

5. Verleng die akademiese jaar, ondersoek die moontlikhede vir afstandsonderrig, en pas die kurrikula aan waar nodig;

6. Lok private beleggings in infrastruktuur;

7. Belê in bekostigbare openbare vervoer;

8. Herstel die konstruksiesektor;

9. Hersien beleid om landbou te ondersteun; en

10. Halveer die tyd wat dit neem om mynlisensies toe te staan.

Op die laaste bladsy van die konsepplan word daar uitgewys dat sou die plan nie tot uitvoering gebring word nie, dit sal lei tot ’n “verlies aan ekonomiese kapasiteit, insluitende die ineenstorting van die voorsieningskapasiteit, verbruikers- en sakevertroue, die arbeidsmark, en groter kwesbaarheid van die armes”.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Ramaphosa  |  Cyril  |  Ekonomie  |  Herstelplan  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.