Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril se hulpfonds bestee reeds R52 miljoen
Die Solidariteitsfonds het reeds R500 miljoen vir sy ondersteuning van die gesondheidsbedryf en maatskaplike doelwitte ingesamel. Foto: Verskaf

Die Solidariteitsfonds het in die eerste week van sy bestaan reeds R52 miljoen aan die bekamping van die Covid-19-pandemie bestee.

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n week gelede aangekondig dat ’n solidariteitsfonds gestig is om in die Covid-19-pandemie hulp te verleen.

Dié fonds is nie deel van ander ondersteuningsmaatreëls wat die regering vir veral kleinsake aangekondig het nie.

Adrian Enthoven, adjunkvoorsitter van die solidariteitsfonds, het Maandag op ’n aanlyn mediakonferensie gesê dié fonds is hoofsaaklik gerig op gesondheids- en maatskaplike ondersteuning.

“Die fonds is nie in ’n posisie om kleinsake – hetsy deur middel van lenings of regstreeks – te ondersteun nie,” het Enthoven gesê.

Gloria Serobe, voorsitter van die fonds, het verduidelik dat die doel van die fonds is om die kwesbaarste lede in die samelewing te help en om die gesondheidsbedryf met “die flinke en vinnige” finansiering van noodsaaklikhede te ondersteun.

Nicola Galombik, bestuurder van die fonds, het gesê R100 miljoen is reeds vir die eerste fase van hulp beskikbaar gestel.

Die fonds is nie in ’n posisie om kleinsake – hetsy deur middel van lenings of regstreeks – te ondersteun nie.
Adrian Enthoven

R52 miljoen is reeds bestee aan vyf miljoen maskers van China af om medici en ander nooddienswerkers hier met veiligheidstoerusting te help.

Die ander R48 miljoen sal nou aan die sogenaamde solidariteitsveldtog bestee word.

Volgens Galombik is dié veldtog onder meer daarop gemik om meer Suid-Afrikaners ingelig en veilig te hou, en om mense aan te moedig om tot die fonds by te dra.

“Dis meer as net ’n kommunikasieveldtog,” het Enthoven gesê.

Hy het verduidelik dat die fonds ’n gevoel van solidariteit onder Suid-Afrikaners wil skep.

’n Goeie voorbeeld is die skenkings van die Rupert- en Oppenheimer-families van R1 miljard elk.

Enthoven het bevestig dat dié geld nie deel is van die hulpfonds nie, maar dat dit met dieselfde gedagte van solidariteit met ons medemens geskenk is.

LEES OOK: Hier kan kleinsake toustaan vir Rupert se R1 mjd.

Business Partners is verlede week aangewys as die organisasie wat die Ruperts se skenking sal administreer.

Dié geld sal regstreeks aan behoeftige klein ondernemings gaan wat deur die staat van inperking en die pandemie verlam word.

Volgens Business Partners sal hy teen die einde van die week gereed wees om aansoeke hiervoor te aanvaar.

Serobe het gesê die solidariteitsfonds het reeds R500 miljoen ingesamel, waarvan R150 miljoen van die regering.

Sy is veral in haar skik daarmee dat individue ook reeds tot die fonds bygedra het en nie net maatskappye nie.

Old Mutual is aangewys as die onafhanklike administrateur van die fonds en die administrasie volg riglyne wat onder meer deur Ernst & Young saamgestel is.

“In die baie kort tydjie waarin die fonds aktief is, het ons reeds baie bereik,” het Galombik gesê.

Volgens Serobe is die doel van die fonds egter nie om massas geld op te gaar nie – dit moet bestee word, en daar sal op ’n deursigtige wyse van elke sent rekenskap gegee word.

Op die horison vir die volgende spoedige betalings is vir ventilators en virustoetsstelle, maar dit kan verander soos wat die fonds van ander nood bewus word.

“Ons is klein in vergelyking met die regering se stimuluspakkette,” het Enthoven gesê, “maar die hulpfonds staan uit deurdat hy vinnig ondersteuning kan gee waar dit die grootste impak sal hê en die nodigste is.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.