Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Cyril se klem op NOP is klap in Cosatu se gesig’

Pres. Cyril Ramaphosa se klem op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) verlede week in sy staatsrede het dit duidelik bemaak Cosatu “is nie meer vir hom ’n politieke risiko nie”.

Pres. Cyril Ramaphosa verlede Donderdagaand met die lewering van sy derde staatsrede. Foto: Jaco Marais

“Daar is by my geen twyfel dat die vakbonde die bliksem in is nie,” sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.

Hoewel die NOP nooit regtig uit die nasionale woordeskat verdwyn het sedert dit in 2012 bekend gestel is nie, is dit om verskeie redes van belang dat Ramaphosa sy nuwe administrasie juis met klem dáárop begin het.

Lees ook die volledige NOP onderaan die berig.

Hy het onder meer gesê: “Ons moet die NOP tot sy plek aan die middelpunt van ons nasionale poging herstel, om dit lewend te maak, om dit deel te maak van die geleefde ervaring van die Suid-Afrikaanse volk.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, beskou dit as ’n goeie ding dat Ramaphosa nie nóg ’n nuwe plan of projek aangekondig het nie, maar eerder terugverwys het na die NOP.

Ek dink hy het dit gebruik as ’n poging om die finansiële markte te stabiliseer, veral ná al die twak wat die afgelope ruk deur onder andere Ace Magashule (oor die Reserwebank) kwytgeraak is.
Dawie Roodt, ekonoom

“Ek dink hy het dit gebruik as ’n poging om die finansiële markte te stabiliseer, veral ná al die twak wat die afgelope ruk deur onder andere Ace Magashule (oor die Reserwebank) kwytgeraak is.”

Roodt sê dis ’n manier waarop Ramaphosa beleidsekerheid wou verbeter. Beleidsonsekerheid is een van die punte wat kredietgradeerders herhaaldelik geopper het die afgelope jare.

Die Nedbank-ekonoom Busisiwe Radebe sê hoewel vorige staatsredes dalk nie so baie keer na die NOP verwys het nie, is die idees daaruit wel voorheen herhaal.

Die NOP is ’n goeie “diagnose” van wat in die land reggemaak moet word, maar Radebe sê ons het al lank die diagnose – nou moet tot aksie oorgegaan word: “Ons het soort van ’n implementasie-probleem. Inwerkingstelling is belangriker as die fokus op die NOP.”

Kry meer inligting

Kry meer inligting oor die NOP op www.gov.za/issues/national-development-plan-2030.

Die Nasionale Beplanningskommissie het ook sy eie webtuiste en ’n Facebook-blad, maar dit lyk asof bedrywighede daarop nog nie vanjaar hervat is nie.

Die hoogtepunte en volledige plan is ook onderaan dié berig gepubliseer.

  

Is dit dan nie ’n Zuma-baba nie?

  

Oudpres. Jacob Zuma het Trevor Manuel in 2009 verskuif van sy rol as minister van finansies na minister in die presidensie belas met die Nasionale Beplanningskommissie, die paneel wat die NOP, die vlagskipprojek van Zuma se eerste administrasie, gebaar het.

Waarom sou Ramaphosa hom daarmee vereenselwig as hy hom wil distansieer van die Zuma-nalatenskap?

Botha sê nee: “Zuma was nooit, ooit betrokke daarby nie. Sy nommereen-missie was om uit die tronk te bly en toe stelselmatig, met kaderontplooiing, het hy die staatsdiens in die wiele gery. Hy het hom nie gesteur aan die NOP-dokument nie.”

Inwerkingstelling is belangriker as die fokus op die NOP.
Busisiwe Radebe, ekonoom

Botha sê Manuel en ook Ramaphosa se hand is duidelik in die NOP, onder meer in die aanhef. Ramaphosa was die adjunkvoorsitter van die kommissie.

Dié twee figure se realistiese, maar tog ook idealistiese visie van ’n nierassige Suid-Afrika met ’n sterk klem op die private sektor, groen energie, bemagtiging van jong mense en van vroue, loop soos ’n goue draad deur die NOP.

  

Dr. Roelof Botha reken pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was ’n duidelike boodskap dat vakbonde se mag beperk gaan word. Foto: Jaco Marais

Wil Ramaphosa ANC-resolusies onderspeel?

    

Een van die moontlike redes waarom Ramaphosa klem gelê het op die NOP, is omdat dié dokument van meet af aan geskryf is as ’n nie-politiese dokument, een wat bo partypolitieke strewes uitstyg.

“Ons het gedink dit was fundamenteel belangrik om nie ’n regeringsplan, of ’n plan wat met een politieke party geassosieer word, te skep nie. Ons wou ’n nasionale ontwikkelingsplan daarstel wat deur alle Suid-Afrikaners aanvaar en besit sou word.”

Dié woorde is weliswaar deur Zuma geuiter met die gedenking van die NOP se vyfde verjaardag in 2017, maar dit weerspieël bes moontlik Manuel en Ramaphosa se denke oor die NOP.

Botha sê Ramaphosa het in al drie sy staatsredes ekonomiese groei en werkskepping voorop gestel, soos die NOP ook doen. “Dit is ’n verandering, nie van 5° nie, maar van 180°,” teenoor Zuma, wat “radikale ekonomiese transformasie” as sy primêre doelwit gestel het.

Daar is by my geen twyfel dat die vakbonde die bliksem in is nie.
Dr. Roelof Botha, ekonoom

Botha sê Ramaphosa besef dat transformasie slegs moontlik is deur middel van ekonomiese groei en werkskepping.

nasionale ontwikkelingsprogram

    

Wat van die teikens? 

  

Deur die NOP op te rakel, het Ramaphosa dit eintlik makliker gemaak om te wys hoe die regering in sy doelstellings faal. Omdat die teikens so onhaalbaar is, het verskeie ekonome al gesê die NOP moet eenvoudig in die vullisdrom gegooi word.

Die president het immers self toegegee: “Met tien jaar om te gaan voordat ons die jaar 2030 haal, het ons nie naastenby genoeg vordering gemaak om die NOP-teikens te haal nie. Tensy ons buitengewone stappe doen, sal ons Visie 2030 nie realiseer nie.”

Botha meen ook die spesifieke teikens wat in die NOP gestel word, is bysaak. “Baie van daardie doelwitte is net nie haalbaar nie, dis absoluut ondenkbaar. Maar dit dwing ’n mens om terug te gaan na die dokument toe en net te probeer om nader te beweeg daaraan.”

Roodt sê die NOP moet gesien word as ’n “wenslysie”, ’n “breë rigting waarin beplan word om die Suid-Afrikaanse ekonomie te stuur”. Hy sê van die teikens gaan bitter ver misgeloop word, maar die beleidsrigting is belangriker. “As ons die teikens mis, is dit nie die einde van die wêreld nie.”

Radebe meen teikens is wel belangrik, en dis belangrik dat die doelwitte wel ambisieus is, maar dit moet ook realisties en haalbaar wees, “anders voel dit asof ons niks bereik het nie”.

Die Nasionale Beplanningskommissie was self van die begin af eerlik dat al die mikpunte nooit gehaal sou word nie, maar dat die mikpunte nodig was om te wys hoe ver Suid-Afrika nog van ’n ideale samelewing was.

  

Trevor Manuel, voormalige minister van finansies en minister in die presidensie. Hy was voorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie, wat die Nasionale Ontwikkelingsplan opgestel het.

Wat is die NOP nou eintlik?

  

Trevor Manuel, minister in die presidensie, het met die bekendstelling van die plan in die parlement op 15 Augustus 2012 gesê dis ’n “breë strategiese plan, nie ’n gedetailleerde Gosplan nie”. (Gosplan verwys na die Sowjetunie se staatsbeplanningskomitee, wat van 1921 tot met die ontbinding van die unie in 1991 gedetailleerde vyfjaarplanne uitgereik het.)

Die NOP se klem was op die verligting van uiterste armoede en die vermindering van ongelykheid. Dit takel onder meer die land se onderwys- en gesondheidskrisis, misdaadbestryding, werkskepping, kragopwekking, infrastruktuurontwikkeling en ’n magdom ander vraagstukke. Die hele dokument is 484 bladsye lank.

Reeds met die bekendstelling van die NOP het Manuel toegegee dat die dokument se doelstellings uiters ambisieus is, veral omdat dit werk op ’n magdom fronte gelyktydig sou vereis.

“Ons benadering tot die aanpak van armoede en ongelykheid gaan van die veronderstelling uit van vinniger en meer inklusiewe ekonomiese groei, hoër staats- en private investering, verbeterende opvoeding en vaardighede, groter gebruik van tegnologie, kennis en innovasie, en beter openbare dienste, wat alles tot hoër indiensneming, stygende inkomste en dalende ongelykheid sal lei.”

Oor die teikens het Manuel gesê: “Wanneer ons teikens opper, is die syfers wat ons gebruik presiese teikens, dít waarna ons moet mik. Ons is bewus daarvan dat ons nie ál hierdie teikens gaan haal nie, maar almal van ons moet ’n bewustheid hê van hoe ver van die mikpunt ons werklik is.”

Die NOP se oorhoofse doelwitte sluit in:

  • Om Suid-Afrikaners van alle rasse en klasse te verenig om ’n gemeenskaplike program om armoede uit te wis en gelykheid te verminder.
  • Om burgers aan te moedig om aktief aan hul eie ontwikkeling deel te neem, demokrasie te versterk en hul regering aanspreeklik te hou.
  • Om ekonomiese groei te verhoog, uitvoer te bevorder en die ekonomie meer werkskeppend te maak.
  • Die bou van ’n bekwame en ontwikkelende staat.
  • Sterk leierskap in die hele samelewing wat saamwerk om ons probleme op te los.

  

Spesifieke doelwitte

  

Die NOP stel spesifieke doelwitte vir elke denkbare aspek van Suid-Afrikaners se lewe, van die bekamping van misdaad, tot die verbetering van gesondheidsorg en onderwys, tot kragopwekking. Elke afdeling het sy eie stel doelwitte, soos uiteengesit in die volledige dokument hieronder aangeheg.

Ramaphosa het in sy staatsrede verwys na 1 100 verskillende maatstawwe waaraan vordering gemeet word. Van die meer konkrete doelwitte is:

Ekonomiese groei

  • Die bruto binnelandse produk (BBP) moet met 2,7 keer in reële waarde toeneem, wat gemiddelde jaarlikse BBP-groei van 5,4% van 2012 tot 2030 sou vereis.
  • Die nasionale spaarkoers moet van 16% van die BBP tot 25% van die BBP groei. (Die spaarkoers is die persentasie wat huishoudings, staatsdepartemente en maatskappye saam spaar en belê, eerder as bestee.)

Armoede, inkomste en ongelykheid

  • Verminder die huishoudings wat minder as R419 per persoon (in 2009-pryse) per maand verdien van 39% tot 0%.
  • Die Gini-koëffisiënt, ’n maatstaf van ongelykheid, moet van 0,69 tot 0,6 daal.
  • Die persentasie van die nasionale inkomste wat die armste 40% van Suid-Afrikaners verdien, moet van 6% tot 10% styg.
  • Verhoog die gemiddelde inkomste per persoon van R50 000 per jaar in 2010 tot R120 000 per jaar teen 2030.

Werkskepping

  • Verhoog indiensneming van 13 miljoen in 2010 tot 24 miljoen in 2030.
  • Die werkloosheidskoers moet van 24,9% in Junie 2012 tot 14% teen 2020 en 6% tot 2030 val.
  • Die persentasie volwassenes wat werk, moet van 41% tot 61% styg, en die arbeidsmag-deelnamekoers moet van 54% tot 65% styg.
  • Openbarewerke-indiensnemingnsprogramme moet ’n miljoen mense teen 2015 bereik en twee miljoen mense teen 2030.

Onderrig

  • Alle kinders moet teen 2030 minstens twee jaar voorskoolse onderrig hê.
  • Alle gr. 3-kinders moet al kan lees en skryf.
  • Tussen 80% en 90% van leerlinge moet 12 jaar skool en/of vakopleiding deurloop, en minstens 80% moet die laaste eksamen (bv. matriek) slaag.
  • Teen 2030 moet 1,62 miljoen studente ingeskryf wees by universiteite, teenoor 950 000 in 2010.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.