Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril se kongres lok R363 mjd.

Die regering se tweede internasionale beleggingskonferensie in Johannesburg het beleggings ten bedrae van R363 miljard oor die volgende vyf jaar opgelewer.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié bedrag Woensdag aangekondig. ’n Bykomende R8 miljard is nog nie gefinaliseer nie.

Met dié belegging kan 412 000 regstreekse sen duisende ander werkgeleenthede oor die volgende vyf jaar geskep word.

Ramaphosa sê dít is ’n mosie van vertroue in Suid-Afrika se toekoms.

Die regering hoop om oor ’n tydperk van vyf jaar R1 200 miljard se beleggings te lok.

Pres. Cyril Ramaphosa Woensdagoggend aan die woord op die tweede internasionale beleggingskonferensie in Sandton, Johannesburg.Foto: Presidensie

Ramaphosa, wat as voorsitter van die konferensie optree, het die potensiële beleggers oor Eskom en staatskuld gepaai en Suid-Afrika voorgehou as die ideale beleggingsbestemming.

Maar in sy toespraak van sowat ’n uur lank, het die president, wat ’n Springbok-lapelwapen gedra het, nie verwys na die swaard van die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service wat oor die land hang nie.

Moody’s het die vooruitsig van die land se kredietgradering Vrydagnag van stabiel na negatief verander.

Verskeie maatskappye, onder wie MTN (R50 miljard oor vyf jaar), die Nuwe Ontwikkelingsbank (R23 miljard), Acsa (R23 miljard), Transnet (R22,1 miljard), die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (R6 miljard), Sappi (R14 miljard), Discovery (R1,4 miljard), Sanral (R12 miljard), Toyota (R12 miljard), Corobrick (R1 miljard), Rio Tinto (R6,5 miljard), Exarro (R20 miljard), die Franse sakekamer in Suid-Afrika (R20 miljard), Orion Minerals (R4 miljard), Steyn City (R5 miljard), Coca-Cola (R14 miljard), die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (R18 miljard), die Pluimvee-bedryf (R1,6 miljard) en Heineken SA (R1,4 miljard) het groot beleggings op die konferensie aangekondig.

Verskeie ander maatskappye het beleggings van miljoene rande bekend gemaak.

Daar is op die konferensie ook gehoor die Amerikaanse sakekamer in Suid-Afrika sal sy beleggings in Suid-Afrika teen 2025 verdubbel.

Meer as 600 Amerikaanse maatskappye het beleggings in die land.

Verlede jaar het beleggers R300 miljard op die konferensie beloof, waarvan sowat 80% van die beloofde projekte reeds voltooi is of in die proses is om afgehandel te word.

“Van die 31 projekte wat verlede jaar hier aangekondig is, is agt voltooi en 17 ander is nog in die konstruksiefase of besig om in werking gestel te word.

“Van die R300 miljard wat verlede jaar beloof is, is R238 miljard bestee.

“Dit is ’n buitengewone prestasie deur dié maatskappye wat verlede jaar hier gestaan, beloftes gemaak en dit uitgevoer het,” sê Ramaphosa.

Sowat 1 500 beleggers en sakelui uit Suid-Afrika en 22 ander lande woon die konferensie by wat Donderdag eindig.

Ramaphosa se kabinet woon ook die konferensie by, sowel as Suid-Afrikaanse ambassadeurs en hoëkommissarisse. Die buitelandse diplomatieke korps in Suid-Afrika is ook goed verteenwoordig.

“Dit is goed om te sien dat beleggers Suid-Afrika steeds as ’n beleggingsbestemming beskou. Suid-Afrika is ’n land wat baie het om te bied en is ’n lewensvatbare en winsgewende beleggingsbestemming.”

Die beroerde stand van sake by Eskom en die enorme staatswaarborge wat ’n groot deel van sy R450 miljard

se skuld onderskryf, is een van die redes waarom Moody’s die vooruitsig van die land se kredietgradering Vrydagnag van stabiel na negatief verander het.

Boonop het Moody’s Dinsdag aangekondig dat hy Eskom se skuld wat nie deur die staat gewaarborg word

nie, nóg verder afgradeer.

Ramaphosa sê ’n nuwe uitvoerende hoof van Eskom sal binne dae aangekondig word.

Hy sê dié aanstelling, saam met die planne wat onlangs vir die kragreus bekend gemaak is, toon Suid-Afrika se

toewyding om probleme met elektrisiteitsvoorsiening en -stabiliteit op te los.

Mark Cutifani, uitvoerende hoof van Anglo American,

sê “daar is absoluut geen twyfel daaroor dat Eskom en die beskikbaarheid van elektrisiteit ’n groot rol speel in

die besluite wat ons neem nie”.

“Dit is waarskynlik die grootste risiko wat ons moet hanteer.”

Moody’s het Vrydagnag ook sy kommer uitgespreek oor die tesourie wat verwag dat staatskuld oor die

volgende paar jaar drasties gaan toeneem.

Hoewel Ramaphosa vlugtig na staatskuld en fiskale beleid verwys het, het hy net gesê dit moet gestabiliseer word.

Tito Mboweni, minister van finansies, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het ook die konferensie toegespreek oor die uitdagings waardeur die land in die gesig gestaar word.

“Dit help nie ons sê goed net oor en oor nie. Ons moet goed begin doen,” sê Mboweni.

Gordhan sê dit sal ’n paar jaar neem om die situasie op energievlak te stabiliseer.

Ramaphosa het met sy afsluiting Woensdagaand gesê daar is in die gesprekke met beleggers en sakelui nie doekies omgedraai nie.

Opkomende en bestaansboere gehelp

Die organisasie In Transformation Initiative se landbou-ontwikkelingsagentskap, waarin oudminister Roelf Meyer ’n kernrol speel, het R12,9 miljard oor die volgende vyf jaar bewillig om veral opkomende en bestaansboere in die land te help.

Meyer het met die aankondiging gesê sowat 450 000 mense in landelike gemeenskappe sal na raming hieruit voordeel trek. Tot 300 000 werkgeleenthede kan hiermee geskep word.

Meyer het aan Netwerk24 gesê altesame 32 spesifieke projekte sal met dié geld gefinansier word. Die geld kom van verskeie bronne.

“Die grootste is ’n besproeiingskema by Vaalharts. Dit is ’n gesamentlike projek tussen die private sektor en die staat.”

Daar is projekte in al nege provinsies, het Meyer gesê. – Sarel van der Walt

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.