Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril se ‘nuwe’ beleggings: R90 mjd. kom uit jóú sak

Bykans R90 miljard van die R363 miljard wat Woensdag op die tweede beleggingskonferensie in Johannesburg belowe is, kom van vyf staats- of semistaatsondernemings.

Dit kom daarop neer dat sowat ’n kwart (24,7%) van die “beleggings” inderwaarheid belastingbetalers se geld is wat nou as beleggings aangebied word.

Dié “nuwe beleggings” is as volg:

  • Nywerheidsontwikkelingskorporasie: R23 miljard
  • Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa): R12,8 miljard
  • Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral): R23 miljard
  • Telkom: R9 miljard
  • Transnet: R22,1 miljard

Daar is op die konferensie geen spesifieke besonderhede gegee oor of dié beleggings nuut is, en of dit beleggings is wat die maatskappye reeds beplan het of selfs bekend gemaak het nie.

Acsa het byvoorbeeld reeds in Februarie gesê hy gaan R7 miljard bestee om die Kaapstadse Internasionale Lughawe op te gradeer, en R4,5 miljard vir die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy openingstoespraak op die tweede beleggingskonferensie in Sandton, Johannesburg. Foto: Presidensie

In Kaapstad gaan ’n nuwe aanloopbaan en nuwe vertreksale vir plaaslike en internasionale vlugte gebou word. Dit sal na verwagting teen 2023 voltooi word.

Die eerste van uiteindelik sewe fases by O.R. Tambo behels die bou van drie sesverdieping-kantoorgeboue wat onder meer die nuwe hoofkantoor van sowel Acsa as die Burgerlugvaartowerheid sal huisves.

Net dié twee projekte beloop R11,5 miljard.

Sanral, wat op die konferensie belowe het om R23 miljard oor die volgende vier jaar te belê, het reeds in Augustus gesê dat hy oor die volgende twee tot drie jaar R40 miljard se tenders gaan uitreik.

Die tesourie het in Februarie R21,5 miljard aan Sanral toegeken om sy padnetwerk waarop daar nie tol betaal word nie, in stand te hou en op te knap. Dié netwerk beslaan 19 262 km.

LEES OOK: Brics-bank leen R7 mjd. vir tolpaaie

Louw Kannemeyer, hoofingenieur by Sanral, het voorheen gesê die R40 miljard se tenders gaan aan byna 90 groot projekte van meer as R500 miljoen elk, en ’n aantal kleiner projekte bestee word.

Wat betref die Nuwe Ontwikkelingsbank (ook bekend as die Brics-bank) se beloofde belegging van R23 miljard, is daar ook nie duidelikheid of dit nuwe beleggings of bestaande beleggings is nie.

Dié bank het in September aangekondig dat hy R7 miljard aan Sanral gaan leen om bestaande tolpaaie in stand te hou of op te knap. Daar is ook geen aanduiding of hierdie bedrag ingesluit is by dié wat Sanral beloof het nie.

Daar is ook nie duidelikheid oor of van die beleggings wat private maatskappye “bekend” gemaak het, nie ook beleggings is wat voorheen reeds aangekondig is nie.

Die Limpopo-eko-nywerheidspark, waarin die Musina-munisipaliteit ’n 10%-belang besit, het reeds in 2018 aangekondig dat hy beplan om meer as R10 miljard se beleggings te lok om dié park te ontwikkel.

Die bedrag wat dié maatskappy Woensdag op die konferensie belowe het, is R10,7 miljard.

Druppel in die emmer

Die opgewondenheid oor die R363 miljard se beleggings wat na die land gelok is, is amper soos die Springbok-euforie wat tans in Suid-Afrika heers, sê Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.

“Net soos in die geval van die Springbokke, is daar nou groot vreugde oor wat op die beleggingsberaad bereik is. Sodra die opgewondenheid daaroor taan, gaan meer mense begin vrae vra oor of dit werklik só ’n groot bedrag is,” sê Schüssler in ’n onderhoud aan Netwerk24.

“Kom ons wees eerlik, R363 miljard is ’n druppel aan die emmer. Baie van die beleggings wat beloof is, is geld wat maatskappye in elk geval sou belê het.”

Schüssler sê die 412 000 poste wat oor die volgende vyf jaar geskep gaan word, is goeie nuus, maar dit is heeltemal te min.

“Suid-Afrika moet sowat 600 000 poste per jaar skep as hy die ekonomie weer aan die groei wil kry,” sê hy.

“Wat wel positief is, is die verandering in sentiment wat betref beleggings in die land. Pres. Ramaphosa werk hard om beleggers te probeer lok. Dit is in teenstelling met sy voorganger (oudpres. Jacob Zuma), wat waarskynlik net in sake belanggestel het as dit homself sou verryk,” sê Schüssler. 

Steyn City het op 30 Oktober aangekondig dat hy ’n verdere R5,5 miljard in sy luukse leefstylontwikkeling wes van Johannesburg gaan belê. Die bedrag wat Steyn City Woensdag op die konferensie bekend gemaak het, is bykans dieselfde op R5 miljard.

Dit is ook nie duidelik of die R1,4 miljard wat Discovery Bank beloof het, ’n nuwe belegging is of deel vorm van sy bestaande begroting om dié bank op dreef te kry nie.

Die bank het uiteindelik in Junie sy “digitale deure” oopgemaak.

Coca-Cola het begin September reeds aangekondig dat hy $1 miljard oor die volgende vyf jaar in Suid-Afrika gaan belê. Business Report berig dat Bruno Pietracci, Coca-Cola se president vir Suidelike- en Oos-Afrika, op die Wêreld- Ekonomiese Forum se beraad oor Afrika gesê dié geld gaan aan nuwe produkte, vragmotors en om kapasiteit uit te brei, bestee word.

Teen die huidige wisselkoers is dié $1 miljard presies dieselfde as die R14,7 miljard wat Woensdag deur die maatskappy belowe is.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig dat die beleggingsberaad altaesaam R363 miljard vir die volgende vyf jaar gelok het.

Nog R8 miljard is nie gefinaliseer nie.

As die bydraes van die vyf staatsondernemings hiervan afgetrek word, beloop die totaal R273,1 miljard.

In 2018 is R300 miljard beloof.

Maatskappye wat beleggings bekend gemaak het, sluit in:

  • Aberdare
  • African Habitat Conservancy
  • Amdec Groep
  • AMG Groep
  • Astral
  • Astron Energy
  • Atlantis Foundries
  • Atterbury Properties
  • Braun
  • Cable Tapes Africa
  • Clover
  • Coca-Cola
  • Conlog
  • Corobrik
  • Dalisu Holdings
  • Defy
  • Discovery Bank
  • DPQ
  • Ebor Automotive Systems
  • Exxaro
  • Faurecia
  • Franse maatskappye soos AdVini, AirLiquide, Alstom, Bolloré, Bureau Veritas, Kasada Capital Management, Leroy Merlin, Limagrain, Saint-Gobain en Total
  • Growthpoint
  • Heineken
  • Hisense
  • Hosken
  • Ivanhoe Mines
  • Kerry
  • KLT
  • Landbou-ontwikkelingsagentskap
  • Legacy
  • Limpopo-eko-nywerheidspark
  • Liquid Telecom
  • MA Automotive, Rosslyn
  • Mainstreet 800
  • Motherson
  • MSC Cruises
  • MTN
  • Mvelo Minerals
  • Naledi Inhlanganiso
  • Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) se transformasiefonds vir die motorbedryf
  • New Largo Coal
  • Newlyn
  • Nywerheidsontwikkelingskorporasie
  • Nuwe Ontwikkelingsbank
  • Omega Refrigeration
  • Opal Mining
  • Orion Minerals
  • Pharma-Q
  • Renergen
  • Rio Tinto en Richards Bay Minerals
  • Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral)
  • Sappi
  • Scaw Metals
  • Sola
  • Steyn City Real Estate
  • Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy
  • Telkom
  • Teraco
  • Tomis
  • Toronto Groep
  • Tourvest
  • Toyota
  • Transnet
  • Tripleflag Precious Metals
  • VM Automotive
  • Vopak
  • Wesizwe
  • Wilmar
  • ZF Friedrichshafen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.