Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril se plan vir ekonomie: 10 dinge wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag sy ekonomiese herstelplan – ’n plan waaraan al maande lank geskaaf word, ook met insette van die sakesektor, vakbonde en gemeenskapsorganisasies – bekend gemaak. Hier is tien dinge wat jy moet weet.

  

1. Regering wil 800 000 poste skep

Die regering gaan R13,8 miljard opsy sit om voor die einde van die huidige boekjaar, dus teen einde Maart, sowat 800 000 nuwe werksgeleenthede te skep.

Pres. Cyril Ramaphosa sê almal in Nedlac - die regering,, vakbonde, die sakesektor en gemeenskapsorganisasies - ondersteun die klem op plaaslike verkryging.

Die werkskeppingstimulus sal sowat R100 miljard beloop en sal oor die volgende drie jaar in werking gestel word.

Openbarewerkeprogramme soos Werk vir Water en Werk oor Vuur gaan uitgebrei word.

Tot 300 000 poste gaan in skole geskep word vir mense wat as assistente vir onderwysers aangestel gaan word om roetinetake te verrig. Dit sal onderwysers meer tyd gee om op onderrig te fokus.

Meer as 60 000 werkgeleenthede gaan geskep word om munisipale infrastruktuur te bou en in stand te hou.

Sowat 6 000 verpleegkundiges sal in diens geneem word.

  

2. Infrastruktuurfonds begin vorm aanneem

Die veelbesproke Infrastruktuurfonds van R100 miljard oor die volgende dekade begin nou vorm aanneem. Ramaphosa verwys reeds sedert 2018 na dié fonds, wat al die regering se infrastruktuurprojekte vanuit ’n sentrale punt in die presidensie gaan bestuur.

Daar is reeds 276 infrastruktuurprojekte geïdentifiseer wat oor die volgende drie jaar deurgevoer gaan word.

Daar sal gefokus word op maatskaplike infrastruktuur soos skole en huise, maar ook op netwerkinfrastruktuur soos waterverskaffing en kommunikasie.

  

3. Kragsekerheid binne twee jaar

Ramaphosa het beklemtoon dat die ekonomie nie kan groei as kraglewering nie betroubaar is nie. Hy het gesê kragsekerheid sal binne twee jaar geskep word.

Die volgende ronde groenkragtenders gaan binnekort uitgereik word. Foto: Pixabay

Hy het uitgewei oor die ontknoping van Eskom in drie dele soos al voorheen genoem: opwekking, transmissie en verspreiding.

Hy het egter ook beklemtoon dat groenkrag ’n groot rol moet speel in die ekonomie.

Suid-Afrikaners sal binnekort in staat gestel word om hul eie krag op te wek.

Eskom se skuldlas gaan as deel van ’n “maatskaplike verdrag” aangepak word. Daar word nie verduidelik wat dit beteken nie. Eskom se skuld beloop sowat R488 miljard.

 

4. #DataMustFall

Ramaphosa het gesê die koste van data vir alle Suid-Afrikaners moet verlaag word. Dit sal aangehelp word deur die opveil van breëbandspektrum teen Maart 2021. Arm huishoudings gaan met subsidies gehelp word om toegang tot tegnologie te bekom.

 

5. Maak en koop plaaslik

Ramaphosa het klem gelê op plaaslike vervaardiging.

Hy sê Suid-Afrika het verlede jaar R1 100 miljard se goedere en dienste ingevoer. As die land net 10% daarvan plaaslik kan vervaardig, sal dit die ekonomie met twee persentasiepunte vinniger laat groei.

Hy het verwys na die suksesse van motorvervaardiging, die landbou en sakedienste.

Plaaslike vervaardiging moet bevorder word. Foto: Pixabay

Teikens vir verplaasliking gaan eersdaags gepubliseer word vir onder meer landbouverwerking, konstruksie en gesondheidsprodukte.

Hy het gesê die regering gaan self begin om meer plaaslik vervaardigde produkte, insluitend sement en staal, in sy infrastruktuurprojekte te gebruik.

Ondernemings gaan aangemoedig word om te verklaar hoeveel produkte hulle plaaslik koop en vakbonde se beleggingshuise gaan ook meer belê in ondernemings wat plaaslik aankoop.

’n Groot veldtog gaan dié Kersfees van stapel gestuur word om mense aan te moedig om plaaslik te koop, en veral om klein ondernemings wat deur vroue, jong mense en gestremdes gelei word, te ondersteun.

Local is not only ‘lekker’, it also helps to create jobs,” het Ramaphosa gesê.

Meesterplanne vir verskeie bedrywe – onder meer suiker, tekstiel en pluimvee – is reeds ontwikkel en moet in werking gestel word, terwyl nog meesterplanne, soos vir telekommunikasie, ontwikkel gaan word.

    

6. Covid-19-toelaag tot Desember verleng

Die toelaag van R350 per persoon wat vir die Covid-19-krisis ingestel is, gaan tot die einde van die jaar verleng word. Die toelaag sou eers net ses maande geduur het. Die toelaag is vir werkloses wat geen ander staatstoelaag of -subsidie kry nie.

Ramaphosa het beklemtoon fiskale probleme beteken die toelaag sal nie langer verleng kan word nie.

Hy het gesê die debat oor ’n basiese inkomstetoelaag kan voortgaan, maar die ekonomie moet herstel word sodat dit effektiewelik nie nodig sal wees nie.

  

7. Koste van sake doen, moet verlaag word

Ramaphosa het nie uitgewys hoe nie, maar het beklemtoon dat dit vir ondernemings makliker gemaak moet word om sake te doen.

 

8. Toerisme moet ondersteun word

Ramaphosa het beklemtoon die bedryf, wat verskriklik geraak is deur die Covid-19-krisis, gaan bykomende hulp kry. E-visums vir meer lande gaan geskep word.

Ramaphosa het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul eie land te herontdek.

’n Hersiene lys van lande wie se toeriste Suid-Afrika mag besoek, word eersdaags gepubliseer.

 

9. Misdaad en korrupsie moet gestuit word

Ramaphosa het spesifiek verwys na die gewelddadige besetting van konstruksieprojekte deur gemeenskappe wat aandring op “beskermingsgeld” of werk. “Dit sal tot ’n einde kom.”

Ramaphosa het ook verwys na verskeie maniere waarop maatskappye en individue belasting vermy of ontduik – hetsy deur wins te verskuif, deur te lieg op invoerdokumente of deur bedrog.

Hy het gesê hy sal verseker dat daar geen politieke inmenging is met wetstoepassing nie.

Politici op enige vlak mag nie met die staat sake doen nie.

 

10. Fiskale konsolidasie bly belangrik

Ramaphosa het beklemtoon dat die staat se skuldvlakke onvolhoubaar is. Te veel geld word aan die terugbetaling van skuld bestee wat eerder aan die heropbou van die land en die verligting van armoede bestee moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.