Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril se R400 mjd. vir infrastruktuur ‘nie nuwe geld’
Bouwerk aan die Groenpunt-stadion in Kaapstad soos dit op 18 Februarie 2008 gelyk het. Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag gesê die lesse wat Suid-Afrika in aanloop tot die Wêreldbekersokkertoernooi van 2010 geleer het, sal handig te pas kom wanneer die staat se Infrastruktuurfonds op die been is. Foto: Per-Anders Pettersson, Getty Images

Dit wil voorkom of die enorme, gesentraliseerde Infrastruktuurfonds wat pres. Cyril Ramaphosa in die presidensie wil setel, nie uit nuwe geld gaan bestaan nie.

City Press het die somme gedoen en dit wil voorkom of die fonds bloot die sentralisering behels van alle geld wat reeds vir infrastruktuurprojekte begroot is.

Ramaphosa het Vrydag by die Uniegebou in Pretoria sy stimuluspakket vir die ekonomie bekend gemaak.

Lees ook: 14 dinge oor stimulus wat jy moet weet

Die Infrastruktuurfonds van R400 miljard was sentraal tot dié pakket.

Wat Ramaphosa gesê het

Ramaphosa het gesê die geld gaan op mediumtermyn, dus oor drie jaar, aan die fonds toegewys word.

Dit sal dan gebruik word om nog geld te leen van ontwikkelingsbanke en private langtermynbeleggers, insluitende pensioenfondse.

“Infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding het die potensiaal om op groot skaal werk te skep, investering te lok en die fondament vir volhoubare ekonomiese uitbreiding te skep.”

Die fonds sal die “fragmentering van infrastruktuurbesteding” wat op die oomblik bestaan, verminder.

Ramaphosa sê die lesse wat Suid-Afrika in die aanloop tot die 2010 Wêrelbeker-sokkertoernooi geleer het, sal nou nuttig te pas kom.

’n Infrastruktuur-bestuurspan gaan in die presidensie gesetel word “met omvattende kundigheid in projekbestuur en ingenieurswese” om te verseker projekte word reg ontwikkel en in werking gestel.

“Graaf-klaar projekte” soos paaie en damme gaan geïdentifiseer word.

Ander infrastruktuurprojekte waaraan geld toegewys word, sluit in behuising, waterinfrastruktuur, skole, studenteverblyf en openbare vervoer.

Ramaphosa het gesê hy sal later aankondig wie die fonds sal bestuur.



Nie nuwe geld nie

City Press berig Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, het ook al verwys na ’n “begrotingsgerief vir infrastruktuur”, wat beteken Ramaphosa se Infrastruktuurfonds is dalk nie heeltemal uit ’n hoed geruk nie.

Die bestaande mediumtermynbegroting vir infrastruktuurbesteding deur alle sfere van die regering, uitgesluit staatsbeheerde ondernemings en onafhanklike staatsentiteite soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), is byna presies die R400 miljard wat Ramaphosa aangehaal het.

Trudi Makhaya, pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese raadgewer.

Volgens die Februarie-begroting sal die drie sfere van die regering – nasionaal, provinsiaal en munisipaal – na raming oor die drie jaar van Maart 2019 tot Februarie 2021 R414,2 miljard aan infrastruktuur bestee, berig City Press.

Oor dieselfde tydperk sal staatsbeheerde ondernemings nog R368,2 miljard bestee.

Trudi Makhaya, die president se ekonomiese raadgewer, het aan City Press gesê die kruks van die inisiatief was groter doeltreffendheid: “Dis die lewering wat die werklike spelveranderende aspek is.”

Makhaya sê die bedoeling van die fonds was om meer geld te lok, eerder as die herhaling van infrastruktuurfunksies in ander staatsinstellings, insluitende die departement van openbare werke, wat tradisioneel infrastruktuurprojekte soos die bou van skole en hospitale behartig.

Reaksie

Cas Coovadia, direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, sê as die plan bloot is om besteding in een plek te konsentreer, is die Infrastruktuurfonds net ’n “meganisme”.

“Die kritieke vraag is hoe die projekte geïdentifiseer en gestruktureer sal word – en beleidsekerheid.”

Lees ook: Voer die plan dié keer uit, vra sakelui

Coovadia sê die enorme verkrygingsprojek vir groenkrag van onafhanklike kragprodusente (Renewable Energy Independent Power Producer Procurement, Reippp) is in die verlede deur Ramaphosa ’n model genoem vir alle groot infrastruktuurprojekte.

“Die Reippp was ’n sukses. Die finansiële sektor is gereed en bereidwillig om infrastruktuur te finansier indien die projekte gereed is.”

Absa, een van die grootste finansiers van die Reippp, sê die sukses daarvan was juis dat daar net een koper van die krag was – Eskom, gerugsteun deur die tesourie se waarborge – en ’n vaste bron van inkomste uit verbruikers.

Waterinfrastruktuur word ook dikwels genoem as ’n perfekte kandidaat vir Reippp-agtige finansiering.

Gregory Mofokeng, uitvoerende hoof van die Black Business Council vir konstruksie, sê die Infrastruktuurfonds is ’n “goeie begin”.

“Ons wag op meer besonderhede oor waarvandaan die geld gaan kom en die soort projekte waarin belê gaan word.” – City Press, verkort en bygewerk deur Hanlie Stadler

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.