Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners Donderdagaand toegespreek. Regulasies is nie aangepas nie – jy sal steeds nie drank of sigarette kan koop nie, maar minstens is ’n strenger inperking nie onmiddellik van krag nie. Die grootste aankondiging was oor die sluiting van skole. Hier is vier dinge wat van belang is.
1. Staatskole maak vir vier weke toe
Alle staatskole sluit vir die volgende vier weke, vanaf 27 Julie tot 23 Augustus. Skole heropen dus op 24 Augustus.
Daar is ’n paar uitsonderings:
- Matrieks kry slegs een week vakansie en keer op 3 Augustus terug skool toe.
- Gr. 7’s kry twee weke vakansie en keer op 10 Augustus terug skool toe. (Dit sal waarskynlik 11 Augustus wees, gegewe dat 10 Augustus ’n openbare vakansiedag is omdat Vrouedag, 9 Augustus, op ’n Sondag val.)
- Ramaphosa het genoem dat spesifieke reëlings vir “verskillende kategorieë spesiale skole” getref sal word. Dis nie duidelik of dit private skole en kleuterskole insluit nie.
In die lig van die onderbrekings sal die huidige skooljaar langer as 2020 duur. Die minister van onderwys sal binnekort meer besonderhede bekend maak.
Skoolvoedingskemas sal oop bly sodat leerlinge of hul ouers maaltye kan kom optel.
2. Geen nuwe hulp aangekondig nie
Ramaphosa het baie van die maatreëls herhaal wat ingestel is om armes en ondernemings by te staan.
Geen nuwe verligting is egter aangekondig wat nie reeds bekend gemaak is nie. Daar is byvoorbeeld geen hulp aangekondig vir restaurante, wat baie swaar trek in die lig van die drankverbod en aandklokreël, nie.
LEES OOK: Krisis: ‘Restaurante stort nóú ineen’
Hy het herhaal hoeveel geld die land al oorsee geleen het om die gesondheids- en ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie aan te pak.
LEES OOK: SA kry Covid-19-lening van byna R5 mjd.
“Lede word die verligting ontneem en dit wil voorkom of hul skemas nie in hul beste belang optree nie
LEES OOK: Covid-19: Reëls vir leningskema word verslap
Hy sê teen einde Julie sal R15 miljard méér aan staatstoelaes uitbetaal wees danksy verhogings in bestaande toelaes en die nuwe Covid-19-toelae van R350 per maand. Meer as 4,4 miljoen mense ontvang nou dié toelae. Tot dusver is R2,2 miljard aan hulle uitbetaal.
Hy het toegegee daar was vertragings met die uitbetalings, maar sê toekomstige betalings sal nou vinniger gedoen kan word omdat die stelsels in werking gestel is.
Hy het herhaal dat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid19Ters-voordeel met ses weke, tot middel Augustus, verleng is.
LEES OOK: WVF verleng tyd vir inperkingseise met 6 weke
3. Korrupsie getakel
Die president het te velde getrek teen bedrog en korrupsie met WVF-eise, kospakkies en tenders vir Covid-19-verwante produkte en dienste, asook die buitensporige pryse daarvan.
“Meer as op enige ander tydstip plaas korrupsie lewens in gevaar.”
Meer as 800 sake van buitensporige pryse is al deur die Mededingingskommissie ondersoek. Dit het tot skikkings met 28 maatskappye en boetes van meer as R16 miljoen gelei.
Die ouditeur-generaal onderneem spesiale oudits om die misbruik van geld op te spoor en te voorkom.
’n Sentrum bestaande uit nege staatsinstellings, gesetel by die Sentrum vir Finansiële Intelligensie, help om Covid-19-verwante korrupsie te voorkom, op te spoor, te ondersoek en te vervolg. Minstens 36 sake word tans ondersoek.
Ramaphosa het ook Donderdag ’n proklamasie onderteken wat die spesiale ondersoekeenheid magtig om enige onregmatige gedrag met betrekking tot verkrygings in enige staatsinstelling te ondersoek.
4. Werk vorder oor ekonomiese herstel

Is jou spaargeld in gedrang? Pres. Cyril Ramaphosa het dalk daarop gesinspeel.
Ramaphosa sê die land kan nie wag totdat die Covid-19-pandemie verby is voordat daar begin werk word aan ekonomiese herstel en die behoud van die poste wat nou bestaan nie. Die siekte kan nog lank ’n werklikheid bly.
“Ons moet nou werk aan ’n maatskaplike verdrag vir ekonomiese herstel, groei en transformasie. As ’n regering is ons met alle maatskaplike vennote in gesprek oor ’n gemeenskaplike program wat elke middel tot ons beskikking gebruik om groei te ontsluit en werk te skep.”
Hy sê daar is baie raakpunt tussen die voorstelle vir ekonomiese heropbou van verskillende sektore van die samelewing “en ons bou konsensus oor die praktiese maatreëls wat ons nou en in die komende maande moet skep”.
Hy sê oor die volgende weke sal meer oor ’n maatskaplike verdrag vir die heropbou van die ekonomie bekend gemaak word.
Die vrees met die verwysing na ’n “maatskaplike verdrag” is juis dat veral pensioenfondse genoop gaan word om te belê in projekte wat die staat beskou as bevorderlik vir groei.
Die verwysing na “herstel, groei en transformasie” is nie ligtelik gedoen nie. Dit eggo die opskrif van die ANC se eie ekonomiese plan, wat na “heropbou, groei en transformasie” verwys en wat spesifiek dinge soos die verandering van regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse in die oog het.
LEES OOK: ANC wil nou krap aan jou pensioen