Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril se welvaartfonds is ‘lawwe idee’ - kenners
Pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Argief/Deo Raath

Die twee lafste beleidsidees wat uit die staatsrede Donderdagaand gekom het, is die soewereine welvaartfonds en die staatsbank, sê die ontleder Peter Attard Montalto.

’n Soewereine welvaartfonds is ’n gek idee as daar ’n volgehoue tekort op die lopende rekening is en daar geen los geld rondlê nie, sê Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex.

So ’n soewereine welvaartfonds, waarvoor lande soos Noorweë, Saoedi-Arabië, China, Koeweit, Singapoer, Rusland en die Verenigde Arabiese Emirate bekend is, kan wel op verre lang termyn sin maak as daar harde valuta uit olie- en gasproduksie verdien kan word.

Maar in Suid-Afrika is die vooruitsigte dáárop nog verder as tien jaar in die verskiet, sê Montalto. Hy vermoed die regering sal bloot ’n rak-entiteit skep wat in die tussentyd min doen.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, sê die ANC het al in Julie 2018 ’n soewereine welvaartfonds voorgestel om “ ’n bestendige bron vir nasionale ontwikkelingsdoelwitte” te wees.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, het toe nog gesê die mynbedryf moenie gebruik word om so ’n fonds te voer nie.

Packirisamy stem saam met Montalto dat Suid-Afrika met sy omvangryke begrotings- en lopenderekeningtekorte geen los kontant genereer om so ’n fonds te kan finansier nie.

“Streng regulasies oor die bestuur van die soewereine welvaartfonds en reëls oor waarin dit mag belê, sal nodig wees om enige kommer oor potensiële wanbestuur af te weer,” sê Packirisamy.

Die African Transformation Movement vra ook waar die geld vir die welvaartfonds vandaan gaan kom as staatsondernemings en munisipaliteite steeds enorme skuld het en onder korrupsie ly.

Op Twitter het kommentators gegis of die regering dan belasting wil verhoog om so ’n fonds te finansier, wat gek sal wees omdat hy reeds sukkel om geld te kry vir die Nasionale Gesondheidsversekering, en daar te midde van ’n swak ekonomie nie meer ruimte oor is om belasting te verhoog nie.

Die sakeliggaam Business Unity South Africa (Busa) sê hy is bekommerd oor die planne vir ’n soewereine welvaartfonds. “Dis in beginsel goed, maar ons kan nie daaroor praat totdat ons groei en die begrotingstekort opgelos het nie.”

Dit blyk ook mense weet nie altyd mooi wat ’n soewereine welvaartfonds is nie. Op die ANC se Progressive Business Forum se ontbytdebat oor die staatsrede Vrydagoggend het ’n lid van die gehoor gevra waarom die regering so ’n fonds wil stig as hy klaar die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het. Enoch Godongwana, hoof van die ANC se beleidskomitee oor ekonomiese transformasie, moes toe verduidelik die OBK is bloot ’n batebestuurder wat onder meer die aftreegeld van lede van die staatspensioenfonds bestuur, en niks meer nie.

Welvaartfondse wêreldwyd

As daar gekyk word na die lande wat wel suksesvolle soewereine welvaartfondse het, is dit duidelik Suid-Afrika probeer weer bo sy gewig boks.

Noorweë is bekend daarvoor dat hy die wêreld se grootste enkele soewereine welvaartfonds het. Dit bedra sowat $1 000 miljard en is oor jare heen opgebou uit Noorweë se wins uit olie-uitvoer.

Die land met die grootste bedrag in soewereine welvaartfondse is China, met $1 555 miljard versprei oor vier verskillende fondse.

Noorweë se fonds word deur ’n afdeling van sy sentrale bank bestuur, en daar is tans ’n lewendige debat oor of die fonds se geld vir politieke doeleindes belê moet word of nie, het die Financial Times dié week berig.

Amerika het 21 welvaartfondse wat deur deelstate van Alaska tot Texas begin is en wat gebruik word om onder meer onderwyskoste vir armes te subsidieer, berig die International Policy Digest.

Die lys lande met groot soewereine welvaartfondse word oorheers deur lande bekend vir hul ryk natuurlike hulpbronne soos olie, byvoorbeeld Koeweit, Katar, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate.

Dié fondse is gerekende spelers in die internasionale beleggingswêreld omdat hulle as super-beleggers in aandele, effekte en eiendom ’n invloed het op prysbewegings of samesmeltingstransaksies.

 

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.