Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Cyril skram weg oor voorgeskrewe bates

Pres. Cyril Ramaphosa wou aanvanklik Donderdag nie reguit antwoord oor of hy “voorgeskrewe bates” steun nie.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa, Donderdag tydens sy toespraak in die parlement. Foto: Jaco Marais

Hy het wel later gesê daar moet met die pensioenfondsbedryf en ander rolspelers gepraat word oor die gebruik van pensioenfondsbates om die land ekonomies te ondersteun.

Hy het in vraetyd in die parlement gesê dit moet ’n nasionale gesprek wees.

“Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is.”

In ander lande waar pensioenfondsbates gebruik word om in die land se ontwikkeling te belê, behaal pensioenfondse goeie opbrengste uit veral infrastruktuurprojekte, sê Ramaphosa.

Op ’n aanvanklike vraag van Mmusi Maimane, DA-leier, oor die ANC se planne om pensioenfondse te dwing om in staatsprojekte te belê, het Ramaphosa eers gesê Maimane klink soos ’n plaat wat vashaak.

Die kwessie van voorgeskrewe bates is al oor en oor bespreek, en beleid sal gevolg word wat die belange van “ons mense in Suid-Afrika” en die belange van pensioenfondslede – ook lede van vakbonde – sal bevorder, sê Ramaphosa.

Volgens hom is die beleid baie duidelik en word dit as positief deur die beleggerswêreld beskou.

Op ’n vraag van dr. Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder, het Ramaphosa erken die regering het die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) se teikens hopeloos gemis, maar hy sou nie sê die NOP het “dramaties misluk” soos Ndlozi dit beskryf nie.

Werkloosheid is die grootste risiko vir die land, sê Ramaphosa. Daarom word ’n tweede Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie van 5 tot 7 November gereël.

Hy gee toe meer moet baie vinniger gedoen word om werkloosheid te bekamp. Die regering sal indien nodig weekliks vergader om die situasie te monitor, het hy aangekondig.

Nog maatreëls om die begrotingstekort en skuldvlakke te verklein sal in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober deur Tito Mboweni, minister van finansies, aangekondig word, sê Ramaphosa.

Volgens Ramaphosa bied die nuwe vryhandelsooreenkoms vir Afrika wat op 1 Julie 2020 in werking tree, geleenthede om die ekonomie te verbeter. Van die intra-Afrika-handelsooreenkomste waaraan gewerk word kan 250 000 plaaslike werkgeleenthede skep.

R300 miljard se beloftes van beleggings is op die eerste beleggingskonferensie in 2018 gemaak. Hiervan is R250 miljard se projekte reeds in werking gestel, sê Ramaphosa.

Hy het belowe daar word aan ’n stel hervormings gewerk om dit makliker te maak om in Suid-Afrika sake te doen. Dit sluit in om dit makliker te maak om ’n onderneming te begin, belasting te betaal, oor die landsgrense sake te doen, en om ’n konstruksielisensie te kry.

Oor die volgende vyf jaar sal meer as R40 miljard aan die ontwikkeling van swart nyweraars bestee word, en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie sal R11 miljard bestee om ondernemings waarvan vroue die eienaars is, te ontwikkel.

Ramaphosa sê ander lande het baie kapitaal om die ekonomie te stimuleer. Maar in Suid-Afrika word probeer om prioriteite te verander en vraag te stimuleer om die ekonomie te laat groei. Dit kan langer neem en verg harde werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.