Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
DA: OB moet transaksie van Nene se seun ondersoek
Nhlanhla Nene, minister van finansies. Foto: Felix Dlangamandla

Die openbare beskermer (OB) gaan gevra word om die finansiering wat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verskaf het vir ’n saketransaksie waarby die seun van Nhlanhla Nene, minister van finansies, betrokke was, te ondersoek.

Dit handel oor ’n belang van 50% wat die OBK in ’n Mosambiekse palmolie-raffinadery, S&S Refinarias de Óleos LDA, bekom het.

Die Mail & Guardian en AmaBhungane het Vrydag berig lndiafrec Trade & Invest het die OBK genader om ’n konsortium te finansier om die belang te bekom.

Die OBK het voorheen aangedui Indiafrec is die “breinkind van die jong entrepreneurs Muhammad Amir Mirza en Siyabonga Nene”. Siyabonga is Nene se seun. Die aansoek om die finansiering te verkry, is ontvang terwyl Nene voorsitter van die OBK was in sy hoedanigheid as adjunkminister van finansies.

Lees hier die volledige berig “The finance minister, his son and the Mozambican refinery”.

Dieselfde transaksie is later met ’n ander maatskappy, waarby Nene se seun oënskynlik nie betrokke was nie, gefinansier. Daar is egter vrae daaroor.

Die transaksie het plaasgevind nadat Nene Dan Matjila in Desember 2014 as uitvoerende hoof aangestel het. Die bewering in die berig is dat die OBK blindelings nagenoeg R1 miljard in die palmolievervaardiger belê het.

Die OBK het na bewering as deel van die transaksie “verwysingsgeld” van $1,7 miljoen (destyds R18,5 miljoen) aan Zaid International Trade, ’n obskure maatskappy in die Verenigde Arabiese Emirate, betaal.

Zaid International Trade is deur Mirza, Nene jr. se sakevennoot, verteenwoordig.

Die gerugte oor die transaksie het verlede naweek die rondte begin doen.

Nene het Woensdag by die kommissie van ondersoek oor staatskaping in sy getuienis ontken dat hy onvanpas opgetree het oor enige belegging wat die OBK gedoen het. Hy het ook spesifiek aantygings ontken dat hy die OBK aangemoedig het om sy seun se onderneming te finansier.

Die Mail & Guardian berig Jabulani Sikhakhane, Nene se woordvoerder, het ná sy getuienis aan die koerant gesê Nene het van sy seun se betrokkenheid by Indiafrec se Mosambiekse transaksie bewus geraak toe Nene jr. dit in ’n informele gesprek genoem het.

Nene het volgens Sikhakhane nooit die Indiafrec-transaksie met die OBK bespreek nie. Hy het enige belangebotsing ontken en gesê die waarde van die transaksie was van so aard dat dit nie nodig was dat die direksie, waarvan Nene voorsitter was, dit moes goedkeur nie. Indiafrec se aansoek om finansiering is in elk geval afgekeur.

Sikhakhane ontken Nene jr. is by Zaid International betrokke.

Die DA sê in ’n verklaring hy gaan die OB vra om die aantygings te ondersoek, ten spyte van Nene se ontkennings.

David Maynier, DA se woordvoerder oor finansies, sê die aantyging oor die OBK se belegging in S&S Refinery, wat na bewering die verwysingsgeld van $1,7 miljoen ingesluit het en wat Nene se seun kon bevoordeel, is ernstig.

Die Grondwet vereis dat geen minister homself in ’n situasie bevind waar die risiko geloop word dat daar ’n belangebotsing tussen sy private belange en openbare verantwoordelikhede bestaan nie.

Maynier gaan vra dat daar ondersoek word of Nene die etiese kode vir ministers en adjunkministers oortree het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.