Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Dapperheid nodig vir sakevriendelike besluite’

Op kort termyn is daar goeie nuus op pad wat betref Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal. Ná die skerp daling in die eerste kwartaal is dit tog onafwendbaar dat die syfers weer sal terugbons.

Mike Schüssler
Die ekonoom Mike Schüssler glo daar is te veel sakeleiers wat die regering napraat is in die openbaar maar agter die skerms reeds hul geld landuit vat. Foto: Sharief Jaffer

Op lang termyn vaar Suid-Afrika egter al swakker wanneer ’n mens na die res van die wêreld en internasionale rangordes kyk.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) is daar 195 lande in die wêreld. Hulle tel nie sommige lande soos Taiwan wat nie lid is van die VN nie.

Uit bogenoemde 195 verskaf 189 lande BBP-statistieke, en hiervolgens was Suid-Afrika in 2018 op nommer 98 wat inkomste per capita betref.

Vergelyk dit met 1990 toe daar 185 lande was met BBP-statistieke en Suid-Afrika op 61 was.

Die gemiddelde Suid-Afrikaner het binne 29 jaar van die rykste derde van die wêreld tot die onderste helfte van die wêreld geval.

Wat nog erger is - vanjaar sal Suid-Afrika waarskynlik uitval uit die top-100-lande op grond van inkomste per persoon. Hy word verbygesteek deur Paraguay, Sri Lanka en Indonesië.

Boonop sal sekere uitsonderlike lande soos Liechtenstein ook ryker as Suid-Afrika wees, wat beteken dat Suid-Afrika reeds buite die top-105-lande is.

per capita inkomste
Die grafiek wys hoe Suid-Afrikaners oor die jare al hoe armer word relatief tot die wêreldgemiddelde.

Suid-Afrikaners het trouens beweeg van sowat 10% bo die gemiddelde inkomste per persoon in die wêreld tot 25% daaronder.

Oor die volgende ses jaar sal Suid-Afrika heel waarskynlik verder val tot onder die 110 rykste lande. As die gekheid van die regering se linkse beleid nie teengewerk word nie, kan Suid-Afrika teen die huidige tempo teen 2030 ook uit die top-120- rykste lande wees.

Die land se werkloosheidskoers is op ’n langtermyn-stygtendens, en dit is een van ’n paar lande met toenemende uiterste armoede ondanks ’n sterk herverdelingsbeleid deur die regering.

Ongelykheid in Suid-Afrika is nou groter as tydens die apartheidsjare, volgens data van UNU-Wider, ’n navorsingsentrum van die VN.

Suid-Afrikaners het dus nie net in relatiewe terme verarm nie, maar baie mense het in werklikheid oor die laaste paar dekades teruggeval in armoede.

Die regering het bitter min tyd oor om sy hardvogtige houding jeens die sakesektor, entrepreneurs en rykes te versag.

Private banke het my al oor die jare gehuur om aan hul superryk kliënte advies oor Suid-Afrika se toekoms te gee. Aanvanklik was ek optimisties, maar ek is dikwels berispe deur van die baie ryk en entrepreneuriese kliënte wanneer hulle baie pront opmerkings oor die regering en die ekonomie gemaak het.

Selfs voor die “Zupta”-era het baie ryk mense al hul kapitaal en hul burgerskap oorsee geskuif. Ek grinnik oor die naïewe lyste van “Suid-Afrika” se rykste mense, want ’n hele paar van hulle het al die meeste van hul geld uit Suid-Afrika geskuif.

Syfers wys selfs meer maatskappye is effektiewelik besig om Suid-Afrika te verlaat. Van die mediaorganisasies wie se joernaliste gal braak oor die superrykes is self besig om oorsee te skuif!

Die meeste sakeleiers is nou bang om kritiek teen die regering uit te spreek nadat Paul Harris (medestigter van RMB en die FirstRand-groep) in ’n stadium deur oudpres. Thabo Mbeki berispe is oor sy veldtog teen misdaad. So die geld vloei vinnig en stilweg landuit. Baie mense in die bedryf het my al op talle geleenthede vertel dat geld steeds sal uitvloei want die harde gesindheid jeens sakelui beteken dat die sakelui voortdurend uitkyk na maniere om uit te wyk.

In die openbaar is dit skokkend hoe sakeleiers dikwels die regering lof toeswaai (ek aanvaar hulle wil nie onwelkome aandag lok nie). Dikwels is die mense met private bankiers in die openbaar die beste vriende van die regering, en hulle bestee ’n paar miljoene om te wys hoe “positief” hulle is. Agter die skerms fluister hulle egter oor hul vrese en oor die mislukkings wat hulle raaksien.

Die rykes neem hul aandele, geld en bates saam as hulle uitvlug, en kry gesogte paspoorte van stabiele ryk lande wat ywerig is om die nuwe miljardêrs te verwelkom.

Dit is nie net die rykes nie. Ek het al selfs linksgesinde vakbondleiers gesien wat hul stilweg in Europa gaan vestig het nadat hulle bang geword het oor die nagevolge van die beleidsadvies wat hulle gegee het.

Suid-Afrika kan dié situasie binne ’n paar maande of jare omkeer, maar ons leiers is nie dapper nie. Die sakesektor het nog baie kapitaal oor om te bestee. Private skuldvlakke is baie laag as dit met internasionale maatstawwe vergelyk word. Talle ingenieurs kan terugkeer.

Wat aan die kern van baie van Suid-Afrika se beleidsrigtings is, is dat die sakesektor die vyand is. Dieselfde mense wat in die openbaar uitvaar teen die sakesektor, erken in die privaat teenoor sakelui dat die regering nader aan die sektor moet beweeg.

Maar die vertroue wat groei en werk kan skep en wat hopelik van die geld en talent kan teruglok is net nie daar nie.

Suid-Afrika het groot potensiaal vir sukses, maar die huidige interne faksies in die regerende party veroorsaak armoede vir almal en vernietig die ekonomie.

Suid-Afrikaanse leiers sal die bul by die horings moet pak om korruptes en bedrieërs in die tronk te kry. Die regstelsel werk egter te stadig, en geen land wat so jonk en broos is kan sulke vertragings bekostig nie.

Swak leiers sal armoede vererger. Dit is net die bereidwilligheid om te verander wat Suid-Afrika vorentoe kan neem.

  • Mike Schüssler is 'n onafhanklike ekonoom en vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Mike Schüssler  |  Sakesiening  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.