Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
David Mabuza ontken SA is in ’n resessie
Adj.pres. David Mabuza

Adj.pres. David Mabuza ontken dat Suid-Afrika in ’n resessie is.

Hy is vol vertroue dat die regering die gety sal laat draai, het hy Woensdag in die parlement geantwoord op ’n vraag van David Maynier (DA) oor hoe die regering die ekonomie uit die resessie gaan kry.

Mabuza meen die syfers oor bruto binnelandse produk (BBP) moet oor ’n langer tydperk geneem word en nie net van kwartaal tot kwartaal nie.

11 staatsbeheerde nywerheidsparke landwyd sal opgeknap word, sê Mabuza. 85 964 werkgeleenthede is al in dié nywerheidsparke geskep, volgens inligting van die departement van handel en nywerheid, sê hy.

Tot R511 miljoen is in die laaste twee jaar bestee om die infrastruktuur by tien nywerheidsparke landwyd op te knap, sê Mabuza.

Hy het gespog oor die sukses van ses bestaande spesiale ekonomiese sones waarvan sommige in nywerheidsontwikkelingsones omgeskep sal word.

Maar net 11 067 werkgeleenthede is al geskep in die ses spesiale ekonomiese sones, blyk uit ’n skriftelike antwoord van dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, op ’n vraag van Elsabe Ntlangwini van die EFF, wat toevallig ook Woensdag uitgestuur is.

Die Dedisa-kragaanleg by Coega wat reeds in 2015 voltooi is. Die Coega- spesiale ekonomiese sone buite Port Elizabeth thet een die einde van die eerste kwartaal van die 2018-’19-boekjaar werk aan 7 243 mense gegee. Foto: Argief

Hiervolgens het die Coega- spesiale ekonomiese sone buite Port Elizabeth teen die einde van die eerste kwartaal van die 2018-’19-boekjaar werk aan 7 243 mense gegee.

Die Oos-Londen- spesiale ekonomiese sone het 3 435 mense in diens gehad, die Dube Trade Port buite Durban 2 655, die Atlantis- spesiale ekonomiese sone noord van Kaapstad 312, die Richardsbaai- spesiale ekonomiese sone 63 en die Maluti-A-Phofung- spesiale ekonomiese sone in Qwaqwa in die Vrystaat 14.

Mabuza ontken daar is ’n wanbalans in vaardighede in die ekonomie.

Die departement van kleinsakeontwikkeling begin sy voete vind en dis een departement wat die regering moet behou, sê Mabuza.

Oor die staking van geldoordrag deur die nasionale tesourie na die Werkskeppingsfonds het Mabuza gesê ’n ondersoek is aan die gang en hy glo nie hy hoef daar in te gryp nie. Hy is deur Nhlanhla Nene, minister van finansies, en Davies verseker dat die probleem opgelos word en dat die fonds weer binnekort geld sal toeken aan begunstigdes.

Dean Macpherson (DA) sê R500 miljoen van die R1,2 miljard wat die Europese Unie aan dié fonds geskenk het, is nog nie uitgedeel aan 31 begunstigdes wat die geld nodig het vir werkskeppingsprojekte nie.

Mabuza het ontken die nasionale tesourie is gekaap deur mense wat swart leierskap wil ondermyn. Dit was in reaksie op ’n vraag van ’n EFF-lid wat verwys het na bewerings van ’n amptenaar van die Werkskeppingsfonds.

“Die nasionale tesourie het ’n baie moeilike taak, want almal wil by hulle geld hê,” sê Mabuza.

Meer oor:  Dean Macpherson  |  David Mabuza  |  Coega  |  Resessie  |  Nywerheidsparke  |  Ekonomiese Sones  |  Werkgeleenthede  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.