
Pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Reuters
Die Wêreld- Ekonomiese Forum is in volle gang in Davos, Switserland, waar wêreldleiers in alle sfere tot Vrydag byeen is om te netwerk, beleggings te probeer werf en die wêreldekonomie te ontleed.
Onderwerpe so wyd as seksuele teistering en kunsmatige intelligensie is op die agenda.
Van die interessante gesprekke op die eerste dag van die beraad sluit in:
- Proteksionisme: Die Nobel-ekonoom Joseph Stiglitz het gewaarsku dat die instelling van invoertariewe in Amerika op alles van sonpanele tot wasmasjiene die Amerikaanse ekonomie gaan knou en nie werk gaan skep nie. “Jy kan nie die wêreld bou wat ons in 1950, 1960 gehad het nie – dit gaan nie terugkeer nie.” Verskeie ander mense het ook gemaan teen Trump se beleid om Amerika eerste te plaas.
- China t. VSA: Terwyl pres. Donald Trump fokus op Amerikaanse belange, is China op die beraad verwelkom as ’n voorstander van globalisering.
- Europa se heropbloei:Europa se sterk ekonomiese groei is besing, selfs te midde van die uitdagings wat Brexit gaan bring. Die Europese Unie kan hom hervestig as ’n toonaangewende streek wat glo in oop handel, het Manuel Caldeira Cabral, Portugal se minister van ekonomie, gesê.
- Kommer oor aandelebeurse:Bankbase beskou dit as ’n groot moontlikheid dat daar ’n regstelling op aandelebeurse kan kom, gegewe 2017 se rekordhoogtepunte en baie wisselvalligheid. Die Harvard-ekonoom Ken Rogoff reken as rentekoerse skerp styg in reaksie op versnellende inflasiekoerse in die ontwikkelde wêreld is ’n beermark dalk die wêreld se voorland.
- Klimaatsverandering:Narendra Modi, Indiese premier, sê dis kommerwekkend dat lande nie hul beloftes nakom om koolstofvrystellings te beperk nie. Modi was die eerste Indiese premier in 20 jaar wat Davos bywoon.
– Bloomberg, verwerk