Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Davos: Ramaphosa moet wys SA is op nuwe koers

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se beraad in Davos, Switserland, bied aan pres. Cyril Ramaphosa ’n platform om te wys hoekom beleggers in Suid-Afrika moet belê.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elvira Wood

Hy gaan egter reg moet wees om vrae te beantwoord oor die onafhanklikheid van die Reserwebank, wat by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangaan en hoe hy beplan om die probleme by Eskom op te los, meen kenners.

“Ramaphosa gaan aan moontlike beleggers moet wys die land het ’n nuwe rigting ingeslaan, gegewe al die onthullings deur verskeie ondersoeke oor korrupsie en wanbestuur,” sê Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder.

Ramaphosa staan aan die hoof van Suid-Afrika se afvaardiging na Davos.

Die beraad begin Dinsdag en duur tot Saterdag.

Hoewel Ramaphosa voorheen die beraad in Davos bygewoon het, is dit die eerste keer dat hy dit as president van die land bywoon.

Ramaphosa gaan waarskynlik agterkom dat “die wêreld nie om Suid-Afrika draai en watter hernuwing hy (Ramaphosa) na die land bring nie,” sê Mathekga.

Geen blanko tjek

“Ek dink Ramaphosa gaan agterkom dat die globale gemeenskap meer ontvanklik teenoor Suid-Afrika is gegewe die verandering in leierskap wat plaasgevind het sedert die einde van die Zuma-era.

“Baie sal op die uitkyk wees vir sekerheid oor beleide soos onteiening van grond en die onafhanklikheid van die Reserwebank,” sê Daniel Silke, politieke ontleder.

“Die beraad bied aan Ramaphosa die geleentheid om te skitter, maar hulle gaan nie net ’n blanko tjek aan hom oorhandig nie.”

Met pres. Donald Trump van Amerika en Theresa May van Brittanje wat nie vanjaar die beraad bywoon nie, sê Silke is daar die geleentheid vir ander ontwikkelde en ontluikende lande om na vore te tree.

Mark Appleton, hoof van Ashburton Investments, merk op daar is ’n ongunstige reaksie teenoor internasionale samewerking, wat deur populistiese politieke leiers soos Trump aangevuur word. Hulle beweer globalisering is soms teenstrydig met nasionale belang.

Die Globale Risiko-verslag, wat onlangs deur die WEF gepubliseer is, beklemtoon die verslegtende ekonomiese en politieke situasie tussen die groot magte as ’n belangrike risiko in 2019, sê Appleton.

Met Suid-Afrika wat aan ’n ernstige gebrek aan besigheidsvertroue en verwante swak vaste beleggings in die private sektor ly, moet Ramaphosa en sy afvaardiging beleggers oortuig dat Suid-Afrika “besig is om sy huis in orde te kry”, sê Appleton.

“ ’n Verbintenis tot samewerking tussen die sakesektor en die regering, die uitwissing van korrupsie, die stabilisering van instellings soos die SAID, saam met ’n bereidwilligheid om die onafhanklikheid van die Reserwebank te behou, moet beklemtoon word,” sê hy.

“Die uiteindelike doelwit sal wees om inkomende vaste beleggings te lok wat Suid-Afrika so desperaat nodig het om sy ekonomiese groeipotensiaal te versterk.”

Eskom

Annabel Bishop, ekonoom by Investec, sê die afvaardiging gaan moet verduidelik hoe dit beplan om die finansiële krisis by die skuldbelaaide Eskom op te los.

“Suid-Afrika se staatsfinansies kan ook onder die loep kom voor die begroting wat in Februarie bekend gemaak word. Die algemene verkiesing sal waarskynlik weer tot ’n debat lei gegewe die verlinkse politieke partye se uitsprake wat einde verlede jaar sake- en beleggersvertroue geknou het,” sê sy.

“Suid-Afrika gaan ook sy lae ekonomiese groei en die planne wat hy het om dit om te keer moet verduidelik om beleggers se belangstelling te prikkel,” sê Bishop.

Sy sê globale groei gaan waarskynlik ’n fokuspunt by Davos wees. Kwessies soos die verlangsaming van groei in China en Amerika en die invloed op aandelemarkte sal waarskynlik aandag geniet. Klimaatverandering, geopolitieke kwessies, mensekapitaal en die samelewing sal ander fokusgebiede wees.

Sanisha Packirisamy, ekonoom by Momentum Investments, sê Ramaphosa het opgemerk dat Suid-Afrika ’n stewiger grondslag het wanneer hy na die 2019-beraad gaan, gegewe die voortgesette herstel in vertroue tussen die sakesektor, die regering, arbeid en gemeenskappe.

“Dit is waarskynlik dat Ramaphosa en die res van die Suid-Afrikaanse span ook die aanloklikheid van die land as handelsvennoot sal beklemtoon om Suid-Afrika se uitvoer – en dus groeipotensiaal – te bevorder.”

Die tema van vanjaar se beraad is “Globalization 4.0: Shaping a Global Architecture in the Age of the Fourth Industrial Revolution”. - Fin24

Meer oor:  Eskom  |  Cyril Rama­Phosa  |  Davos  |  Wef  |  Staatskuld  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.