Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: ANC lei sommer sélf belastingboikot

Dis nou maar eenmaal so dat ons sosiale wesens is.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group. Foto: Foto24

En elke keer wanneer mense bymekaarkom, dan probeer ons onsself in die een of ander struktuur organiseer.

Dit maak natuurlik sin, want deur onderling ooreen te kom dat sekere lede van die gemeenskap sekere take, soos polisiëring, tot voordeel van almal sal verrig, kan die res van ons in veiligheid ons met ander dinge besig hou.

Die belangrikste taak van enige regering is om sy burgers en hul eiendom te beskerm, maar daar is natuurlik ook vele ander funksies wat ook deur die staat verrig word – soos die regstelsel, onderwys, maatskaplike ondersteuning, infrastruktuur en vele meer.

Maar dit kos geld om al dié take te verrig; belastings word gebruik om die staat in die uitvoering van sy pligte te finansier.

Ongelukkig is dit ook so dat die voordeel van sekere dienste van die staat nie noodwendig aan ’n spesifieke belasting gekoppel kan word nie. Dus, belastingbetalers betaal geld in ’n gemeenskaplike pot, die fiskus, en staatsuitgawes word daaruit gefinansier.

Dit skep natuurlik geleentheid vir baie konflik.

Daarom bestaan ’n sogenaamde “sosiale kontrak” of pakt, tussen belastingbetalers onderling en tussen belastingbetalers en die staat. Dit bepaal dat belastingbetalers op ’n gelyke grondslag tot die staatskas sal bydra. Terselfdertyd onderneem die staat om sy pligte pligsgetrou en doeltreffend uit te voer.

Die sosiale pakt kan aan ’n paar veranderlikes getoets word en ons kan ook die vraag vra of dit nog van toepassing is. Hier is ’n paar toetse:

Is die belastinglas redelik?

Die behoeftes van die gemeenskap is basies onbeperk, maar die staat se bronne is beperk. Een so ’n beperking op hoeveel die staat kan spandeer, word bepaal deur hoeveel die belastingbetaler kan bekostig.

In die geval van Suid-Afrika is ons belastinglas, as ’n persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP), oor die algemeen hoër as dié in die meeste ander ontwikkelende lande, maar laer as dié van ryker lande.

Verder het ons belastinglas ook die afgelope aantal dekades aansienlik gestyg.

Hoewel ons belastinglas heelwat toegeneem het, is dit nie buitensporig nie. Dit beteken natuurlik glad nie dat belastings verder moet styg nie. Al wat dit beteken, is dat ons grootliks in dieselfde bootjie as mense in die meeste ander lande is.

Is die belastinglas gelyk?

Die term gelykheid beteken verskillende goed vir verskillende mense. So byvoorbeeld kan gelykheid in absolute, relatiewe of self in progressiewe terme gemeet word.

Hoe ’n mens ook al daarna kyk, Suid-Afrika se belastinglas is besonders ongelyk – wat onder meer natuurlik ook ’n funksie van inkomste-ongelykheid is.

So byvoorbeeld betaal net 2,1 miljoen individue uit ’n bevolking van 59,6 miljoen 82% van die totale persoonlike inkomstebelasting.

Verder betaal net 763 maatskappye, 0,1% van die totale aantal geregistreerde maatskappye, 64% van die totale maatskappy-inkomstebelasting – die derde grootste belastinginkomste in die land.

Almal wat koop, betaal natuurlik belasting op toegevoegde waarde (BTW), wat beteken dat BTW die “gelykste” belasting in Suid-Afrika is. Maar inkomstebelasting op individue en maatskapppye maak sowat 54% van die totale belastingontvangste uit. Gevolglik is die belastingstelsel besonder ongelyk.

Word belastingbetalersgeld op die regte dinge bestee?

Natuurlik sal mense ideologies baie hieroor verskil, maar dit sal moeilik wees om ’n redelike persoon daarvan te oortuig dat die land geld moet bestee aan ’n nie-noodsaaklike diens soos Pravin Gordhan se stokperdjie, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), of aan die voortdurende finansiering van ander bankrot staatsbeheerde instellings.

Verder spandeer ons ook te veel op staatsamptenare se salarisse, wat bo markverwant is. Om nie eens te praat van ’n opgeblase kabinet met swart karre en ’n hele entourage nie.

Maar die meeste mense sal ook reken dat die staat die meeste van ons geld op die regte soort goed spandeer, onderwys 23% van totaal, maatskaplike ondersteuning 20% van die totaal, en dies meer.

’n Probleem is dat rente ’n al hoe groter deel van staatsbesteding uitmaak en binnekort meer geld gaan kos as die belangrike uitgawe-items – natuurlik weens ’n toename in staatskuld, wat aan die wanbestuur van die staat se finansies toegeskryf kan word.

Dus, oor die vraag of die staat geld op die regte goed spandeer, is die antwoord grootliks ja, hoewel hopeloos te veel op die verkeerde goed spandeer word.

Word belastingbetalers se geld goed aangewend?

Daar is min twyfel hieroor; die staat is hopeloos in die wyse waarop ons geld bestee word. Jy kan maar net na die ouditeur-generaal se verslae kyk om dit vas te stel. Alle vlakke van die regering – plaaslike owerhede, provinsiale owerhede, die nasionale departemente en amper al die staatsbeheerde instellings – word uiters swak bestuur.

Verder is die uitkoms van staatsbesteding gemeet aan die meeste ander lande meestal hopeloos: Misdaadvlakke is van die hoogste in die wêreld, onderwys is van die swakste ter wêreld, gesondheidsdienste is hopeloos (soos ons ook sien in hoe min mense in vergelyking met ander lande al teen Covid-19 ingeënt is). Die lys gaan aan.

Dis natuurlik nie net die kwaliteit van staatsbesteding wat swak is nie, staatsbesteding word ook gekenmerk deur korrupsie, nepotisme en sommer net gewone diefstal – luister maar net na die Zondo-kommissie. En nou is dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, ook in die spervuur!

Op die oog af word nie veel aan swak of korrupte staatsbesteding gedoen nie.

Natuurlik weens ons swak instellings soos die polisie, maar ook omdat daar nie die politieke wil bestaan om werklik teen korruptes op te tree nie.

Dis onwaarskynlik dat ons binnekort ’n verandering hieraan gaan sien omdat die ANC self grootliks teer op die staat – tree teen korruptes op en sny jou eie voedingsbron af.

Oplossings

So wat staan ons te doen? Ons het ’n paar keuses:

Politieke proses

Die regte ding is natuurlik om ’n korrupte, wanfunksionele politieke party by die stembus te verslaan.

Ongelukkig is dié opsie nie iets wat binnekort gaan gebeur nie omdat sowat 20 miljoen mense elke maand direk ’n inkomste van die staat ontvang (18 miljoen deur toelaes en 2 miljoen oorbetaalde staatsamptenare). Dit gaan moeilik wees om hulle te oortuig om vir ’n verantwoordelike party te stem.

Beskikbare instellings

Ons kan wandade en misdade by die tersaaklike vervolgingsowerhede aangee. Maar soos reeds genoem, laat die kwaliteit van ons wetstoepassers veel te wense oor – hoewel tekens van verbetering te bespeur is.

Belastingweerstand

’n Belastingweerstand kan verskillende vorme aanneem.

Indirekte en subtiele vorme is om jou belastingsake so goed as moontlik, en wettig, te reël om so min moontlik belasting te betaal. Jy kan byvoorbeeld besluit om nie sekere staatsinstellings te gebruik nie – byvoorbeeld, weier om met die SAL te vlieg en moenie tolpaaie gebruik nie.

Jy kan ook by organisasies aansluit wat ten doel het om die staat te dwing om sekere belastings af te skaf of om hulle te dwing om hul pligte doeltreffend uit te voer – tolpaaie is weer ’n voorbeeld, asook organisasies wat plaaslike owerhede dwing om sekere dienste te verrig.

Die laaste opsie is om te weier om belasting te betaal. En baie ironies is dit presies, volgens gerugte, wat die regerende party, die ANC sélf doen!

Blykbaar is hy agter met sy betalings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat beteken dat die ANC die toon aangee wanneer dit by belastingweerstand kom!

Nietemin, is dit ’n baie gevaarlike en waarskynlik grootliks onwerkbare opsie.

Afgesien daarvan dat belastingweerhouding tot die ineenstorting van die land sal lei, het die SAID drakoniese magte wat die lewe vir enigiemand wat weier om belasting te betaal baie moeilik kan maak.

In terme van die Belastingadministrasiewet kan die SAID bykans enige aksie volg indien hy vermoed dat jy nie jou “deel” belasting betaal nie. Die SAID kan (ná ’n hofsaak) jou bates konfiskeer, jou bankrekening stroop en jou eiendom deursoek.

’n Werklike belastingboikot kan net werk indien daar baie wye ondersteuning vir so ’n poging is, en slegs indien die meeste finansiële direkteure van Suid-Afrika se grootste maatskappye dit ondersteun – want dis hulle wat maandeliks die meeste inkomstebelasting en BTW aan die SAID oorbetaal.

Vergeet maar van ’n grootskaalse belastingboikot; konsentreer eerder op daardie wettige geleenthede om so min moontlik belasting te betaal – en daar is steeds baie!

  • Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Jan Taks  |  Sakesiening  |  Belasting  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.