Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Dis erg, maar daar is ’n ligpunt

Straks die belangrikste sin in pres. Cyril Ramaphosa se toespraak is die een waarin hy sinspeel op strukturele hervorming van die ekonomie, sê Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, is bekommerd oor mense wat persoonlike dienste lewer.

Ramaphosa se woorde was: “Soos ons uit dié krisis opstaan, sal ons land ’n proses van grondliggende heropbou moet ondergaan.”

“Dis wat ek wou gehoor het. Dis die opwindendste ding wat hy gesê het. Tot dusver was dit nie vir Ramaphosa polities moontlik om die moeilike ekonomiese besluite te neem wat almal weet nodig is nie.”

Strukturele hervorming soos die verslapping van regulasies oor indiensneming en die vermindering van rompslomp vir maatskappye word nou al lank bepleit ten einde die ekonomie aan die brand te skop.

Roodt is nie verbaas oor die uitbreiding van die staat van inperking met nóg twee weke, dus tot einde April, nie. Daar word reeds ’n week lank bespiegel dat die inperking, wat sedert middernag op 26 Maart geld en tot 16 April sou duur, verleng gaan word en volgens Roodt is dit ook in pas met die aanvaarde beste praktyk wêreldwyd.

Hy sê daar is wel alternatiewe tot inperking wat die ekonomie oper sou hou, soos dat bejaarde en siek mense eerder ingeperk word as die hele samelewing – iets waarop Brittanje met gemengde sukses gefokus het. Maar, sê Roodt, “kritiek is maklik as ’n mens nie al die kennis tot jou beskikking het nie”.

Daar is egter geen twyfel nie dat dit die ekonomie nou selfs harder gaan tref.

Die Reserwebank het vroeër die week gesê ’n inperking van net 21 dae sal die ekonomie in die eerste kwartaal met 2,6% laat inkrimp en met 4% vir die volle 2020. Roodt sê die verlenging van inperking beteken die syfer gaan eerder -7% of -8% wees.

Roodt verwelkom daarom Ramaphosa se aanduiding dat sekere nywerhede geleidelik weer toegelaat sal word om onder streng beheerde omstandighede met hul bedrywighede te begin.

Hy verwelkom ook die aankondiging dat die hele kabinet vir die volgende drie maande ’n derde van hul salaris aan die Solidariteitsfonds skenk. Roodt sê dit gaan geen verskil aan die land se geldsake maak nie, maar dit is simbolies ’n belangrike gebaar.

Roodt waarsku dat die doeltreffendheid van die inperking kan afneem soos wat mense ongeduldig of desperaat raak. Hy meen baie mense gaan binnekort begin honger ly omdat hul inkomste verminder is of hulle hul werk verloor het, en hy is bekommerd oor die moontlikheid van maatskaplike onrus.

Die president het wel aangekondig dat maatskaplike hulp uitgebrei gaan word om kwesbare mense by te staan.

Watter sektore gaan die ergste geraak word?

  • Kleinhandel: Kleinhandel – met die uitsondering van kosverkope – gaan die swaarste getref word en gaan nog lank ly. “Mense gaan nie uit inperking kom en klere en meubels koop nie.” Klerekleinhandelaars het al swaargekry nog voor die koronavirus-krisis.
  • Persoonlike dienste: Haarkappers en skoonheidsterapeute gaan nooit die verlore inkomste inhaal nie: “’n Mens kan nie jou hare twee keer laat sny om te vergoed vir die verlore haarsny nie.”
  • Toerisme, gasvryheid en lugdienste: Mense gaan nog lank nie reis nie.
  • Vervaardiging: Die vraag na baie vervaardigde produkte gaan nog baie lank ly soos wat verbruikers uit vrees en ekonomiese druk alle aankope wat nie absoluut noodsaaklik is nie, uitstel.

Watter sektore gaan die maklikste herstel?

  • Vervaardigers en kleinhandelaars van kos: Kosverkope het die hoogte ingeskiet voor die inperking en dié sektor sal dus maklik herstel.
  • Medies: Hoewel mense op die oomblik hul dokters vermy vir enigiets behalwe ernstige kwale, kan hospitale en farmaseutiese maatskappye staande bly.
  • Finansiële en professionele dienste: Ondernemings wat reeds deel is van die “vierde revolusie” en van die huis af kan werk, behoort te floreer. ’n Moontlike uitsondering is batebestuurfirmas wie se inkomste erg geraak is deur die ineenstorting van aandelepryse wêreldwyd.
  • Landbou: Omdat kos noodsaaklike produkte is, behoort die meeste onderafdelings van die landbou te floreer.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ramptoestand  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.