Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Ek, Orania se ora - en fopnuus
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

Die afgelope maand was my lewe in ’n wasbalie, en het ek ook die skerp kant van fopnuus ervaar. Die storie het wêreldwyd opslae gemaak en is selfs deur CNN gedra. Dít alles oor my betrokkenheid by ’n projek in die dorpie Orania.

Ek is uitgekryt vir ’n aantal nare dinge, terwyl die storie darem in sommige gevalle redelik korrek gerapporteer is.

Sonder om ’n waarde-oordeel te vel, is Orania ’n besonderse plek vir ’n ekonoom. Dit is ’n gemeenskap van sowat 1 500 mense wat poog om sekere gedeelde doelwitte na te streef.

In die proses het die Oraniërs in hul gemeenskap ’n “ekonomie” tot stand gebring wat bykans al die instellings bevat wat in groter ekonomieë bestaan. Orania is amper ’n “volledige” ekonomie in die kleine.

Sulke plekke en geleenthede bestaan amper nie. Wanneer ekonome navorsing doen, moet hulle gewoonlik tevrede wees om dit in die konteks van ’n groot ekonomie te doen.

Byvoorbeeld, as ek navorsing wil doen oor die impak van die digitalisering van geld op ’n land se ekonomie, is daar soveel veranderlikes wat ek in ag sal moet neem dat die uitkoms van sulke navorsing nie noodwendig korrek sal wees nie. Maar Orania is anders.

Lees ook: Dawie Roodt se Orania-app lei dalk tot nuwe geld

Omdat Orania relatief klein is en omdat al die rolspelers daar baie toeganklik is en bereid is om data en statistieke met my te deel (waarvoor ek dankbaar is), is Orania die ideale plek om ekonomiese navorsing te doen. En dít is hoe ek daarby betrokke geraak het.

My hipotese is dat die digitalisering van geld en die gevolglike laer transaksie-koste ekonomiese bedrywigheid sal aanmoedig.
Dawie Roodt, ekonoom

Orania het ’n aantal sakeondernemings, ’n sakekamer, ’n dorpsraad, ’n gemeenskapsbank en hul eie “geld”.

En dis die bestaan van Orania se geldeenheid, die ora, wat my belangstelling op hol het.

Eintlik is die ora nie regte geld nie, dis meer soos ’n geskenkbewys. Die sakekamer “besit” die ora en die plaaslike bank administreer dit namens die sakekamer. Die bank verkoop oras in ruil vir rande en die oras word wyd in die dorp in transaksies as “geld” gebruik.

Intussen kan jy enige tyd jou oras gaan terugruil by die bank vir rande teen ’n vaste “prys” (wisselkoers) van een ora vir een rand. Die ora het ’n vervaldatum, en die rente op die rande wat verkry is toe oras verkoop is, word as bron van inkomste vir die sakekamer aangewend.

In my navorsing (ek is geregistreer by ’n universiteit daarvoor) wil ek vasstel watter impak die digitalisering van geld op transaksiekoste het – en gevolglik op ekonomiese bedrywighede. My hipotese is dat die digitalisering van geld en die gevolglike laer transaksiekoste ekonomiese bedrywigheid sal aanmoedig.

Lees ook: ‘Kriptogeld kan ANC tot ’n val bring’ – VF Plus

Ek het ’n klompie kenners genader en ons beplan om die ora te digitaliseer. Sonder om te veel oor die tegnologie uit te brei (wat akkuraat en veilig is), is die plan om ’n toepassing (app) te skep wat in die toekoms op ’n slimfoon gebruik kan word om transaksies te doen. Alles bly dieselfde, en word steeds deur die rand gerugsteun, maar sal ook digitaal op slimfone beskikbaar wees.

Maar natuurlik bly alles nie dieselfde nie. Afgesien dat die beskikbaarheid van digitale oras transaksies goedkoper sal maak, is daar ’n ander verskil tussen ’n fisieke en ’n digitale betaalmiddel.

Met fisieke betaalmiddels (soos note) moet die koper en verkoper in mekaar se teenwoordigheid wees. Maar met digitale betaalmiddels is dit nie nodig nie – selfs al is die twee partye op verskillende plekke in die wêreld.

Die implikasie hiervan kan verreikend wees. ’n Betaalmiddel wat koste verlaag en nie geografies gebonde is nie, lei dalk net tot die wyer gebruik van die ora.

Maar eintlik gaan dit alles nie oor Orania of die ora nie. Ek vermoed dat baie gemeenskappe, soos dorpe, klubs, skole, koopverenigings of selfs internetgroepe in die toekoms hul eie betaaleenhede sal wil hê.

En wie weet, dalk kry ons eendag sommer baie private geldeenhede wat met geld van die sentrale bank meeding, net soos bitcoin, ethereum, tezos en vele meer reeds doen.

En dink net hoe waardevol my ondervinding en navorsing oor die digitalisering van die ora dan sal wees.

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Group.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Orania  |  Kriptogeld  |  Bitcoin  |  Digitaal  |  Virtuele Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.