Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Goeie nuus, net waar jy kyk

Dit is wel waar dat daar baie in Suid-Afrika is om oor terneergedruk te raak.

Dawie Roodt

Die afgelope sowat sewe jaar het die gemiddelde Suid-Afrikaner elke jaar armer geword.

Verder is dit amper ’n uitgemaakte saak dat baie pyn nog voorlê; hoofsaaklik weens ons wanfunksionele, korrupte en onbevoegde regering wat die staat se finansies en vele ander instellings die afgrond in bestuur het.

Maar staan ’n oomblik terug en beskou die mensdom se vordering die afgelope paar duisend jaar, of paar honderd jaar, of selfs slegs die afgelope paar dekades, dan moet ’n mens verstom staan oor ons ongekende vordering op amper alle vlakke.

Selfs in Suid-Afrika is ons in die meeste gevalle baie beter daaraan toe as in die verlede, hoewel ons in vergelyking met ander lande gereeld power presteer.

Ons lewe vandag ’n lewe van oorvloed, al voel dit nie altyd so nie, en daar is baie voorbeelde.

Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom het ons soveel rykdom geskep nie, en die tempo van ekonomiese groei, met gereelde rukke en stote, lyk asof dit oor tyd heen versnel.

Natuurlik kan baie daarvan toegeskryf word aan die ongekende groei in lande in die Ooste – veral China – maar voor China was dit Europa en die VSA, en ná China gaan dit waarskynlik Indië, of dalk selfs Afrika, wees.

Die gevolg hiervan is dat absolute armoede – waar mense te min kos het om te eet – die afgelope 100 jaar vanaf meer as 90% van die mensdom tot minder as 10% vandag gedaal het.

Ons het die stryd teen armoede gewen en teen dié tempo sal absolute armoede binnekort iets van die verlede wees.

Ons het die stryd teen armoede gewen en teen dié tempo sal absolute armoede binnekort iets van die verlede wees.

Verder, ook hoofsaaklik vanweë die ongekende groei in veral armer lande, het wêreldwye inkomste-ongelykheid ook drasties gedaal.

En ekonomiese groei gaan gepaard met ander goeie nuus, soos dat gevalle van kindersterftes, hongersnood, malaria, polio, bykans elke denkbare pestilensie, alles besig is om te daal. (Ek weet Covid-19 is ’n nuwe gogga, maar deur ons geskiedenis was daar gereeld nuwe siektes om mee rekening te hou, net soos ons ook dié een gaan oorwin.)

Moenie dink al dié wonderlike rykdomskepping gebeur noodwendig ten koste van die planeet nie. Inteendeel, ons raak al hoe beter daarmee om minder insette te gebruik om meer te produseer.

Byvoorbeeld, vir ’n gegewe ekonomiese produksie gebruik ons in vergelyking met die onlangse verlede vandag minder grond, minder water, minder energie, minder van alles maar tog produseer ons baie meer – ons raak net elke dag beter.

My gunsteling-voorbeeld is selfone. Veertig jaar gelede, en dit is sommer nou die dag, het jy ’n kamer vol elektronika nodig gehad vir dieselfde berekeningsvermoë as ’n goedkoop selfoon vandag.

Dis nie al nie, jou selfoon is sommer ook ’n flits, kamera, radio, kompas, musiekspeler, koerant en wie weet wat nog alles, en teen ’n fraksie van die kraggebruik.

En baie meer van wat ons vandag gebruik, word danksy ’n goed gevestigde herwinningsbedryf oor en oor gebruik.

Tot voordeel van natuur

k
Dawie Roodt glo eiendomsreg oor diere sal die renoster help oorleef. Dié foto is in die Krugerwildtuin geneem. Foto: Unsplash

Veral die landboubedryf het ongekende tegnologiese vooruitgang getoon, in so ’n mate dat die oorvloed kos vandag ’n baie groter probleem as ’n tekort aan kos is. Die afgelope 50 jaar het die produksie van mielies per hektaar met meer as 500% gestyg, terwyl ons minder kunsmis gebruik!

Die vooruitgang is ook tot voordeel van die natuur. Luggehalte is besig om wêreldwyd drasties te verbeter – selfs in China!

Woude is besig om hul te herstel en in lande waar ontbossing nog ’n probleem is, is die tempo daarvan besig om te daal.

Selfs dierespesies wat in die verlede ernstig bedreig was, word al meer: wolwe, walvisse, selfs tiere. Selfs die reuse-panda is nie meer ernstig bedreig nie!

In Suid-Afrika vandag is daar meer wilde diere as 100 jaar gelede danksy wildplase, jag, toerisme en die beskerming van eiendomsreg oor wilde diere. Dit is juis die beskerming van eiendomsreg op renosters en die handel in renosters (insluitend renosterhoring) wat die renoster van uitwissing kan red.

Ons energieverbruik is besig om voortdurend te verbeter en anders as wat in die verlede voorspel is, het olie nog nie opgeraak nie. Inteendeel, die wêreld gaan ophou olie gebruik voordat die olie “klaar” is – soos met alle ander energiebronne wat ons voor olie gebruik het.

In Suid-Afrika was daar een voordeel met Eskom se ineenstorting en dit is dat ons “elektrisiteitsproduktiwiteit” die afgelope tien jaar met meer as 20% verbeter het!

Kankerpasiënte se kanse op oorlewing is vandag drasties beter as net ’n paar jaar gelede, en daar is selfs sprake van ’n suksesvolle malaria-entstof.

’n Groot gevaar is die onbedoelde gevolge van sogenaamde “groen”, “organiese”, anti-kernkrag- en allerhande ander populistiese bewegings wat tot ’n toename in insetkoste lei.

Kernkrag, byvoorbeeld, is veiliger en goedkoper en het ’n kleiner impak op die omgewing as byvoorbeeld windkrag (nou krap ek waar dit nie jeuk nie).

Mediese deurbrake

Mediese deurbrake volg die een op die ander. Kankerpasiënte se kanse op oorlewing is vandag drasties beter as net ’n paar jaar gelede, en daar is selfs sprake van ’n suksesvolle malaria-entstof.

Ander tegnologiese deurbrake en vorderings is net so verstommend – die internet, elektriese voertuie, kunsmatige intelligensie, die lys gaan aan.

Maar ons maak ook op ander gebiede verstommende vordering. Wêreldwyd styg die gemiddelde lewensverwagting elke jaar. Vandag is dit 73 jaar (in Suid-Afrika is dit 64 jaar); voor 1950 het geen land ter wêreld so ’n hoë lewensverwagting gehad nie!

Ons maak ook vandag minder oorlog en selfs misdaad daal in die meeste plekke. Jammer dat ons weer ’n uitsondering is . . .

Al dié goeie nuus bewys vir my ’n paar dinge: Goeie regerings is nodig, die beskerming van private eiendomsreg is nodig, rykdom is goed, tegnologiese vooruitgang is goed en die “goeie ou dae” was toe nie so goed nie . . .

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Group en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Ongelykheid  |  Sakesiening  |  Armoede  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.