Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Inflasie - oppas waarvoor jy wens

Dis moeilik om te glo, maar inflasie was eens op ’n tyd ’n wêreldwye probleem.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, by 'n byeenkoms van die Vryemarkstigting in Johannesburg. Foto: William Horne

Die 1980’s was die laaste keer dat die hele wêreld werklik met ’n inflasieprobleem geworstel het. Die inflasiekoers in die VSA, die wêreld se grootste ekonomie, was toe in die dubbelsyfers.

Die inflasiekoers in Japan, in daardie stadium die wêreld se tweede grootste ekonomie, het in die 1980’s alreeds skerp begin afneem en het in die daaropvolgende jare gereeld onder 0% (deflasie) gedaal.

Vandag is te lae inflasie, en selfs deflasie, die groot uitdaging.

Ondanks ongekende fiskale en monetêre stimulasie kon groot ekonomieë, soos Japan, net nie daarin slaag om inflasie te laat styg nie.

Maar die gevolge van al die (meestal mislukte) pogings laat ’n mens na jou asem snak.

Ná dekades van ongekende fiskale stimulasie staan Japan se staatskuld vandag op sowat 250% van sy bruto binnelandse produk (BBP), terwyl die Japanse tienjaar-staatseffekte teen ’n koers van 0,1% verhandel. Maar steeds is daar geen inflasie nie, inteendeel, inflasie in Japan is kort-kort onder 0%!

En nou gaan die Amerikaners dieselfde probeer. Die jongste Amerikaanse “hulpprogram” laat die oë traan. Die administrasie van pres. Joe Biden het pas bykomende besteding van $1 900 miljard ($1,9 trillion) goedgekeur wat volg op $900 miljard aan die einde van 2020 en $2 500 miljard van oudpres. Donald Trump verlede jaar.

Die pakket is bykans vier keer groter as die program wat tien jaar terug begin is – dis selfs meer as wat die Tweede Wêreldoorlog gekos het!

Fed
Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad. Foto: Kevin Dietsch, UPI/Bloomberg via Getty Images

Intussen het Jerome Powell, baas van die VSA se sentrale bank, belowe om rentekoerse vir nog baie lank baie laag te hou, selfs al styg inflasie.

Die benadering van die Federale Reserweraad is dat gemiddelde inflasie oor ’n tydperk eerder in ag geneem word voordat rentekoerse sal begin styg. En omdat inflasie die afgelope jare onder hul mikpunt van 2% was, kan inflasie maar vir ’n paar jaar bokant 2% wees om die gemiddeld “reg te kry”.

Sover reageer die finansiële markte soos ’n kleuter op adrenalien! Aandeelpryse styg en ekonome verwag nou dat die wêreld se twee grootste ekonomieë, China en die VSA, teen koerse van tot 8% kan groei!

Maar wat van inflasie?

En dis die groot vraag: Gaan die wêreld se groot sentrale banke uiteindelik daarin slaag om inflasie wakker te maak?

Sover lyk dit of die finansiële markte wel dink dat inflasie ons voorland is. Wêreldwyd is die opbrengskoers op langtermyneffekte aan die styg (beleggers vereis ’n hoër opbrengskoers om vir verwagte inflasie te kompenseer). Maar daar is ook ander tekens dat inflasie aan die kom is: Onlangs het die goudprys en ander hulpbronpryse begin styg en selfs die baie sterk styging in die prys van bitcoin word ten minste gedeeltelik aan verwagte toekomstige inflasie toegeskryf.

So dit lyk vir my inflasie is die wêreld se voorland . . . of dalk nie?

Die volgende scenario is ook baie moontlik.

Onthou dat die meeste bateklasse reeds heelwat in pryse gestyg het. Aandeel- en eiendomspryse is byvoorbeeld, soos gemeet teen verskeie maatstawwe, reeds (baie) duur. Onthou ook dat Amerikaanse verbandkoerse grootliks van langtermynopbrengskoerse afgelei word, wat tans aan die styg is.

Indien dié koerse aanhou styg, gaan dit uiteindelik opwaartse druk op verbandpryse plaas, wat eiendomspryse kan afdwing. En dit is baie moontlik dat ons ’n skielike sterk daling in eiendomspryse kan sien.

Japan
Die kersiebome langs die Filosoof se Pad in Kioto, Japan. Japan se staatskuld is 250% van sy BBP, maar steeds is sy inflasie kort-kort onder 0%. Foto: The Asahi Shimbun/Getty Images

En soos ons al soveel keer voorheen gesien het, kan ’n skerp daling in eiendomspryse ’n sterk negatiewe “rykdomseffek” tot gevolg hê, wat weer tot swak algemene vraag kan lei. Na gelang van die omvang van die korreksie, kan die uiteinde baie sterk deflasionêr wees.

Soortgelyke argument geld natuurlik ook ander bateklasse, veral aandele.

Beleggers wat die tekens kan identifiseer en betyds hul portefeuljes kan aanpas om by ’n omgewing wat wissel tussen inflasie/deflasie in te pas, kan goed presteer of ten minste baie swak prestasie vermy.

Intussen swem die wêreld se finansiële markte in ’n see van ongekende fiskale en monetêre stimulasie. Op kort termyn lyk dit of (aandele) markte net verder kan styg. Die verwagting is dat inflasie uiteindelik gaan begin styg, wat sekerlik die einde van die bul kan beteken.

Of, dalk sien ons ’n skerp korreksie op (byvoorbeeld) die eiendomsmark, wat ook die dood van die bul kan beteken, maar dié keer met baie lae inflasie of selfs deflasie.

En dan is ons almal Japanners . . .

  • Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Groep en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Sakesiening  |  Eiendomsmark  |  Ekonomie  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.