Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Intelligente masjiene bring 'n nuwe era

Die basiese probleem van “die ekonomie” is die toewysing van hulpbronne; ’n probleem wat uiteenlopende ekonomiese ideologieë op verskillende maniere probeer oplos.

robot, kunsmatige intelligensie,masjiene
'n Assistent staan langs 'n XR-1-kommersiële diens-robot van CloudMinds Technology Inc. tydens die World Artificial Intelligence Conference (WAIC) in Sjanghai, China op 29 Augustus. Foto: Getty Images

In ’n vryemarkstelsel dui ’n verandering in die pryse van goedere en dienste op ’n verandering in die onderliggende vraag en aanbod. So sal ’n styging in die prys van bier, byvoorbeeld, aandui dat die onderliggende vraag na bier gestyg het of dat die onderliggende aanbod gedaal het. (Eenvoudigheidshalwe maak ek ? klomp aannames oor die uitwerking van ander faktore op pryse en ek neem ook aan dat inflasie nul is.)

Hierdie verandering in die onderliggende vraag/aanbod kan om verskeie redes gebeur, soos ’n verandering in modes en inkomstes. Die verskynsel van veranderende pryse stuur die sein dat iets verander het.

Produsente en verbruikers reageer tipies op ’n verandering in pryse. Boere sal byvoorbeeld meer aartappels plant as die aartappelprys styg en verbruikers sal minder verbruik. Boere sal dus meer hulpbronne aanwend om aartappels te produseer terwyl verbruikers waarskynlik minder aartappels sal koop. Die gevolg is dat die prys weer verander, wat weer ’n nuwe ronde van die hertoewysing van hulpbronne tot gevolg het.

Hierdie proses is nimmereindigend en dit is goed so, want deurdat pryse voortdurend verander, pas vraag en aanbod voortdurend by ’n nuwe prys aan.

Die ekonomie van komitees

In ’n kommunistiese stelsel werk dit anders. Onthou dat alle produksiefaktore (hulpbronne) aan die staat behoort. In ’n kommunistiese stelsel mág pryse nie verander nie. Dwarsdeur die destydse Sowjet-Unie was die prys van melk byvoorbeeld oral dieselfde.

En aangesien pryse nie mag verander nie, moes ’n ander manier bedink word om hulpbronne toe te ken – die idee van “wetenskaplike kommunisme”.

Daar is geen rede om verskrik te voel oor ’n toekoms met KI nie. Rekenaars, net soos enige ander tegnologie, word aangewend om van die wêreld ’n beter plek te maak.
Dawie Roodt

Dit het soos volg gewerk. ’n Spul “kenners” stel vas wat die behoeftes van die land is. Dit sluit in alles wat deur die inwoners en die staat benodig word. Hoeveel brood, melk, klere, masjiengewere, vuurpyle, elke denkbare ding wat nodig mag wees en hoeveel daarvan nodig is, word bereken.

Natuurlik kan die land nie alles produseer nie en daarom word dinge in volgorde van prioriteit geplaas. Dit is dan ook die rede waarom die Russe selfs vandag die leiers is in ruimtevuurpyle, want dit is as ’n belangrike prioriteit beskou in die Sowjet-Unie.

En dan word komitees van ekonome op die land losgelaat!

Die werk van die ekonomiese komitees was om die skaars hulpbronne aan die onderskeie produksie-eenhede toe te ken gegrond op die voorafbepaalde belangrikheid van die spesifieke produk wat geproduseer moes word.

So, byvoorbeeld, sal die komitees besluit om ’n bepaalde hoeveelheid diesel, kunsmis en arbeid aan ’n plaas toe te ken, en ’n sekere hoeveelheid elektrisiteit, grondstowwe en staal aan ’n fabriek.

Afgesien van die korrupsie en ondoeltreffendheid van die stelsel, het dit altyd gelei tot tekorte of surplusse; gewoonlik tot tekorte. Omdat pryse nie kon styg of daal nie, kon die mark nie tekorte of surplusse “wegwerk” deur veranderings in vraag en aanbod nie.

Die enkele grootste probleem met kommunisme is dat geen mens of komitee genoeg inligting het om presies te weet hoeveel hulpbronne vir die produksie van goedere en dienste toegewys moet word nie.

Tot nou toe . . .

Die rol van kunsmatige intelligensie

Deesdae word groot gewag gemaak van kunsmatige intelligensie (KI). Ek dink die woord “intelligensie” is verwarrend, want dis nie intelligensie soos ek dit verstaan nie. Dit verwys eerder na die brute berekeningskrag van rekenaars.

Deesdae kan rekenaars geweldige volumes data teen ’n verstommende spoed verwerk, baie vinniger en baie meer akkuraat as enige mens.

En dit kan dalk eendag die basiese probleem van hulpbrontoewysing oplos.

Daar is geen rede om verskrik te voel oor ’n toekoms met KI nie. Rekenaars, net soos enige ander tegnologie, word aangewend om van die wêreld ’n beter plek te maak. Dit is so dat sekere groepe, soos politici, tegnologie kan aanwend om die wêreld ’n beter plek vir hulself te maak, maar grootliks het tegnologiese verandering in die geskiedenis die mens baie goed gedien.

KI kan dieselfde doen.

Ons moet onthou dat elke denkbare gebeurtenis, optrede, kommunikasie, weersverandering of siektetoestand vandag êrens in data verteenwoordig word.

Met hierdie inligting sal rekenaars in die toekoms danksy KI vir ons ’n baie beter idee gee van mense se behoeftes, voorkeure en veranderende omstandighede. Hierdie inligting kan dan aangewend word om die nodige toekomstige produkte en dienste te vervaardig en te verskaf met ’n optimale toekenning van hulpbronne.

So byvoorbeeld, kan jou sporthorlosie bepaal dat jou hart vinniger klop en dat jou temperatuur effens aan die styg is. ’n Rekenaar kan miljoene mense se persoonlike inligting deur hul sporthorlosies bekom (soos wat reeds die geval is) en kan dan deur KI vasstel dat ’n griepepidemie op pad is, selfs voordat die individue besef hy is besig om siek te word!

Medikasie kan dan voortydig vervaardig word sodat dit beskikbaar is wanneer dit nodig is.

Die presiese verandering in vraag sal dus bereken kan word, asook die presiese koste van produksie. Dit beteken KI kan die korrekte prys van die produk bereken!

Maar KI kan heelwat meer doen. Dit sal byvoorbeeld ook gehalte kan bepaal en toepas, wat die werk van (byvoorbeeld) inspekteurs en heelwat ander beroepe onnodig sal maak. En dit kan die rol van “die staat” en politici in die toekoms beïnvloed.

Dalk gaan ons in die toekoms nie meer argumenteer oor die voor- en nadele van sekere ideologieë nie omdat dit nie nodig sal wees in ’n nuwe tipe ekonomiese bestel nie. Heelwat nuwe soort beroepe sal ontwikkel en baie ander sal verdwyn.

Die beroep van ekonoom kan een hiervan wees . . .

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.