Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Korona is kans om staat reg te ruk

Die korona-krisis is natuurlik ’n handige verskoning wat die ANC-regering gaan gebruik om sy eie tekortkominge en wanbestuur van die verlede te probeer verbloem.

Dawie Roodt

Feit bly dat die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds voor die Covid-19-pandemie baie diep in die moeilikheid was, hoofsaaklik weens verskeie probleme wat meestal deur die regering self veroorsaak is.

Ongelukkig is dit ook so dat dit onder huidige omstandighede onvermydelik is dat meer owerheidsoptrede in sekere gevalle noodsaaklik is om die krisis te bestuur. Die gevaar is net dat tydelike maatreëls permanent gaan word en dat ons ná die krisis met ’n groter en steeds ondoeltreffende staat opgeskeep gaan sit.

Wat nodig is, is om die krisis te gebruik om strukturele probleme uit te sorteer.

Eerstens is dit natuurlik belangrik om seker te maak dat die nodige maatreëls getref word om die krisis te bestuur.

En ek moet sê, ek is sover meestal ingenome met pres. Cyril Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Ramaphosa klink presidensieel en Mkhize is voortdurend in die openbare oog, en ook baie deursigtig met inligting en besluite.

Prysbeheer

Wat my wel bekommer, is die instel van prysbeheer op sekere goedere, sowel as die verskerpte optrede deur die mededingingsowerhede, wat tot die verkeerde gevolge gaan lei.

Een manier om seker te maak dat goedere beskikbaar is, is juis hoë pryse. Beheer pryse en goedere word skaars – dieselfde geld optrede teen diegene wat “onmededingend” optree.

Ongetwyfeld gaan mense die geleentheid misbruik om munt uit ander se nood te slaan, maar dit is ’n veel minder ergernis as die alternatief!

En glo my, geen ineptokraat sal sy nuutgevonde magte sommer weer prysgee nie.

Die grootste probleem is dat die “owerhede” met prysbeheer en hul optrede teen “onmededingende” gedrag skielik nuwe magte gaan ontdek. En glo my, geen ineptokraat sal sy nuutgevonde magte sommer weer prysgee nie; prysbeheer en optrede teen “onmededingende” gedrag gaan ná die krisis ’n permanente en skadelike verskynsel bly.

Private mediese dienste

En wie weet, dit sal dalk nodig word om private mediese dienste op te kommandeer om te help met die stryd teen die virus.

Die gevaar is dat die koronavirus dalk die begin van die nasionalisering van private gesondheidsorg kan beteken.

Dis alles goed en wel indien die private sektor versoek word om te help, en ek het geen twyfel dat die private sektor baie geneë sal wees om te help nie, maar gee mag aan ’n burokraat en dit word ’n permanente vergryp van mag. Die gevaar hier is dat dit dalk die begin van die nasionalisering van private gesondheidsorg kan beteken; iets waaroor die regering al lank sy lippe aflek.

Tydelike mag en inmenging word gewoonlik permanent.

Reserwebank

Benewens die “gesondheidsowerhede” is die “finansiële owerhede”, hoofsaaklik die Reserwebank, ook van groot belang in die stryd.

En sover kwyt die Reserwebank hom baie goed van sy taak. Rentekoerse is verlaag en hiervandaan sal die Reserwebank se verantwoordelikheid hoofsaaklik daaruit bestaan dat banke voldoende toegang tot likwiditeit het.

Daar is wel nog droë ammunisie tot die beskikking van die Reserwebank, soos selfs laer koerse en die verslapping van voldoeningsreëls van banke, maar dit alles gebeur in ’n omgewing waarin finansiële instellings uitstekend gereguleer word en finansieel gesond is.

Dit is omtrent waar die goeie nuus ophou; maar dit is ook waar die geleenthede begin.

SAL en Eskom

Soos ons almal weet, word die staat, en alles wat met die staat te doen het, grootliks wanbestuur. Verder het die staat se finansies in so ’n mate verswak dat ons op die randjie van ’n finansiële afgrond staan, selfs voor die huidige krisis.

Ons weet almal wat moet gebeur:

  • Die staat se uitgawes moet besnoei word;
  • Staatsbeheerde instellings moet herstruktureer word; en
  • Die staat se effektiwiteit moet dramaties verbeter.

Maar ons weet ook dat die ANC en sy bondgenote halsstarrig sulke aanpassings weerstaan.

Verder sal daar nou meer druk op die staat geplaas word om geld op nuwe prioriteite te bestee terwyl die staat se inkomste, weens ’n verswakkende ekonomie, nog verder onder druk sal kom. Dus, die staat se swak finansies gaan nou selfs nog vinniger agteruitgaan – maar dit is waar die geleentheid is.

Byvoorbeeld, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is mos in sakeredding en ons ideologies verwarde politici het besluit dat dit weer eens gered gaan word.

Dit moet idioties wees om weer ’n chronies siek SAL te probeer red terwyl goeie, lewensvatbare maatskappye potensieel kan ondergaan!

Intussen is daar suksesvolle private lugdienste wat goed bestuur word, maar wat ook deur die krisis geraak sal word. Dit moet idioties wees om weer ’n chronies siek SAL te probeer red terwyl goeie, lewensvatbare maatskappye potensieel kan ondergaan!

Gee SAL die finale doodskoot en gee die geld eerder vir verdienstelike private maatskappye wat moontlik probleme ervaar.

Of Eskom: Die ding is bankrot, betaal te veel mense en word operasioneel swak bestuur. Die geleentheid is dat die swak ekonomie en swak vraag na elektrisiteit die geleentheid kan skep om die nodige onderhoud op infrastruktuur te doen.

Verder kan Eskom ook sommer nou herstruktureer word –wat onder meer moet insluit dat van ’n spul “oorbodige” werkers ontslae geraak moet word.

Die argument is eenvoudig: Almal verminder hul werksmag, en almal moet saam die las dra van die krisis wat ons ervaar, waarom nie Eskom ook nie?

Staatsdiens

Nog ’n voorbeeld. Duisende skoolkinders word daagliks deur verskeie projekte by skole kosgegee. Maar aangesien die skole nou gesluit is, met die gevolg dat baie arm kinders nou letterlik honger ly, moet ons ’n eenvoudige keuse maak: Gee staatsamptenare ’n verhoging of begin projekte om arm kinders kos te gee. Die antwoord is tog duidelik.

Aangesien daar geen sport plaasvind nie, hoekom kan ons nie ‘tydelik’ van die minister van sport en sy aanhangsels ontslae raak nie?

Hier is nog een: Die meeste sportbyeenkomste is gekanselleer, die ministerie van sport het myns insiens geen bestaansreg nie. Aangesien daar geen sport plaasvind nie, hoekom kan ons nie “tydelik” van die minister van sport en sy aanhangsels ontslae raak nie?

En terwyl die president “tydelik” sy kabinet hersaamstel, raak ook sommer van ’n spul ander kripvreters ontslae – alles natuurlik net tydelik.

Punt wat ek wil maak, is dat baie groot uitdagings vir ons voorlê. Duisende gaan hul werk verloor, duisende ondernemings gaan eenvoudig toemaak en duisende mense sal doodgaan.

Maar die lewe gaan voort en ons is dit aan ons en ons kinders verskuldig om nou die grondslag te lê vir ’n beter toekoms vir die land en sy mense.

Hier is ’n geleentheid om die regte besluite te neem, moenie dit verkwis nie.

  • Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. Kontak hom by dawieroodt@efgroup.co.za.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Covid-19  |  Staatsdiens  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.