Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Moet jy ophou belasting betaal?

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het ’n opskudding veroorsaak met haar twiet dat sy ’n belastingopstand gaan begin indien niemand binne ’n redelike tydperk weens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping strafregtelik vervolg word nie. Maar wat sal ’n belastingopstand regtig beteken?

Dawie Roodt

Kort-kort hoor ons dat belastingbetalers hul ongelukkigheid met die regering te kenne moet gee deur hul belastings te weerhou. Onlangs het Helen Zille self gedreig om so ’n opstand te lei indien die “demokratiese proses” nie die gewenste resultate oplewer nie.

Maar weet ons wat ’n belasting boikot behels, wanneer dit geregverdig is en of dit hoegenaamd sal werk?

Die “staat”, met inbegrip van die “Suid-Afrikaanse staat”, is nie ’n natuurlike gegewe nie. Inteendeel, ’n staat is op die keper beskou bloot ’n versweë of implisiete ooreenkoms tussen ’n aantal individue, wat dikwels arbitrêr binne ’n bepaalde gebied saamgegooi is.

Dié ooreenkomste is (dikwels baie) tydelik. Hulle verander en hulle verval en word vervang, en in pas daarmee kom en gaan state. Byvoorbeeld, tot onlangs het ons die staat “Soedan” erken en ’n dag later was daar twee state, Soedan en Suid-Soedan.

State is dus niks anders nie as ’n ooreenkoms tussen individue; ’n konsep wat ook net so van toepassing is op maatskappye, trusts, klubs of enige ander nie-mens-entiteit.

Staat versuim sy plig

Wanneer ons besluit om ’n staat “tot stand” te bring, gaan dit gewoonlik gepaard met die daarstel van ’n regering om die vrede en orde te waarborg, die burgery te beskerm en dergelike openbare bestuursfunksies te vervul.

Een van die kenmerke van ’n staat is dat dit geweld monopoliseer ten einde die inwoners van ’n land se lewe en hul eiendom te beskerm. In ruil vir dié beskerming vanaf die staat sedeer die burgers hul reg om self geweld te gebruik (reg in eie hande neem) ten einde lewe, liggaam en eiendom te beskerm aan die staat en finansier die publiek ook die staat sodat dié deur middel van die gepaste staatsorgane sy beskermingsfunksies kan vervul.

Dus, die implisiete ooreenkoms tussen die staat en die mense is dat die staat geweld sal gebruik om ons te beskerm indien nodig, dat die mense nie reg in eie hande sal neem nie, en dat die burgery die staat met belastings sal finansier.

Ons het dus ’n staat wat in werklikheid ‘kontrakbreuk’ gepleeg het, wat beteken dat die mense nou die reg het om uit die kontrak te tree en om verdere finansiering van die staat – belastings – te weerhou.

Ondanks dié basiese ooreenkoms tussen die staat en die burgery, aanvaar almal ook dat daar tog gevalle kan voorkom waar geweld deur individue regverdigbaar en noodsaaklik is. Byvoorbeeld, ek mag myself gewelddadig verdedig indien ek aangeval sou word en ’n polisieman (staat) nie byderhand is om my op daardie oomblik te verdedig nie.

Maar in SA het die staat al in so ’n mate in sy primêre pligte (om mense en hul goedere te beskerm) misluk dat die staat self erken dat hy misluk het. Byvoorbeeld, deur mense toe te laat om sekuriteitswoonbuurte tot stand te bring, waar hulle na hul eie veiligheid omsien en grootskaals self-gefinansierde private veiligheidsdienste gebruik, erken die staat eintlik dat hy in sy beskermingsplig misluk het.

Dus, dit word algemeen aanvaar dat die staat grootliks misluk het om sy deel van die ooreenkoms na te kom. Dit gaan ook nie net oor veiligheid nie. Ander dienste wat die staat verskaf, soos onderwys, gesondheid, gesonde administrasie en dies meer, is in die meeste gevalle van swak gehalte of word eenvoudig nie verskaf nie.

Afgesien van swak of geen dienslewering word die ANC-regering verder ook gekenmerk deur korrupsie, nepotisme, staatskaping en dies meer. Verder dreig die staat om private eiendom te konfiskeer.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het die land aan die gons oor haar dreigement van ’n belastingopstand.

Al dié optredes of dreigende optredes druis in teen die wese van die implisiete ooreenkoms tussen die staat en die mense, wat beteken dat die staat se legitimiteit met reg bevraagteken kan word.

Ons het dus ’n staat wat in werklikheid “kontrakbreuk” gepleeg het, wat beteken dat die mense nou die reg het om uit die kontrak te tree en om verdere finansiering van die staat – belastings – te weerhou. Dit beteken ook dat die mense die reg het om die reg in eie hande te neem.

Filosofies gesproke het ons dus die reg om belastings te weerhou.

Demokrasie as teenantwoord

Die argument teen dié benadering is natuurlik dat ons ’n demokrasie is. Indien ons ontevrede is met die wyse waarop die staat deur die regering bestuur word, kan ons vir ’n ander party stem om die staat beter te bestuur.

Indien jou verkose politieke party nie die meerderheid stemme op hom kan verenig nie, dan is dit maar daarnatoe en sal jy moet vrede maak met ’n regering wat as ’t ware kontrakbreuk pleeg.

Maar dié “demokratiese” argument veronderstel ook dat die ander instellings wat daargestel is om die grondwetlike stelsel te ondersteun, soos die vervolgingsgesag, behoorlik moet funksioneer, wat in die huidige Suid-Afrika klaarblyklik nie die geval is.

Verder is geen demokrasie absoluut nie. Die meerderheid kan byvoorbeeld nie besluit om alle linkshandiges te beboet nie – linkshandigheid het niks met ander mense te doen nie.

Kollektiewe (demokratiese) besluitneming is wel van toepassing oor gemeenskaplike openbare bates soos ’n nuwe brug, maar besluite oor iemand se mode-keuses of ander persoonlike voorkeure het niks met ander mense te doen nie en is daarom nie onderworpe aan die demokratiese proses nie.

Gewone salaristrekkers sal moeilik hul belasting kan weerhou omdat maatskappye nie sommer sal deelneem aan ’n belastingopstand nie.

Belastingteorie bepaal dat die belastinglas “gelyk” deur almal gedra moet word. Maar die woord “gelyk” kan baie betekenisse hê. Byvoorbeeld, absolute gelykheid beteken dat almal, sonder om faktore soos inkomste in ag te neem, presies dieselfde nominale belasting moet betaal – almal in die land moet byvoorbeeld R10 000 belasting betaal sonder om inkomste, indiensnemingstatus of enigiets anders in ag te neem – ’n kopbelasting (poll tax) is so ’n voorbeeld.

Maar ’n absolute gelyke belasting word algemeen as onbillik beskou en daarom word relatiewe gelyke belasting as meer regverdig beskou, byvoorbeeld almal betaal 10% van hul inkomste as persoonlike inkomste­belasting.

Maar selfs ’n relatiewe gelyke belastinglas word in die meeste lande ook as onvoldoende beskou en die meeste belastingstelsels probeer ’n progressiewe “gelyke” belastingstelsel daarstel. Dit beteken hoe hoër jou inkomste, hoe meer betaal jy in absolute en relatiewe terme – soos jou inkomste styg, neem die persentasie belasting wat jy betaal, ook toe.

Hoewel ’n progressiewe belastingstelsel vandag die norm is, is daar geen sterk filosofiese of teoretiese grondslag daarvoor nie.

Die SA belastingstelsel is van die mees progressiewe belastingstelsels ter wêreld, terwyl die staat se uitgawes meestal gemik is op besteding op armes – dis nou die deel wat oor is ná diefstal, korrupsie en wanaanwending.

Min mense betaal dus die meeste belasting, terwyl die mense wat die belastings betaal, nie die mense is wat die voordeel van staatsbesteding kry nie. Die staat (fiskus) is een van die mees herverdelende lande ter wêreld – vat van die “rykes” en gee aan die armes.

Ons het dus ’n demokratiese stelsel waar die meerderheid eenvoudig stem vir ’n hoër belastinglas op die minderheid en vir meer voordele vir hulself, ’n kritieke inherente swakheid van ’n demokrasie.

Ons het dus ’n demokratiese stelsel waar die meerderheid eenvoudig stem vir ’n hoër belastinglas op die minderheid en vir meer voordele vir hulself, ’n kritieke inherente swakheid van ’n demokrasie. Afgesien van ’n staat wat misluk in sy pligte, kan die hoë en toenemende belastinglas op die minderheid ’n geldige rede wees vir die minderheid om in opstand te kom omdat daar so hewig teen hulle gediskrimineer word.

Praktiese implikasies

Maar dan is daar is ook ’n praktiese aspek wanneer dit by belastings en by ’n belastingopstand kom.

Sowat 80% van die staat se inkomste kom van drie bronne: persoonlike inkomstebelasting (PIB), maatskappybelasting (MIB) en belasting op toegevoegde waarde (BTW). MIB en PIB word meestal deur ’n klein minderheid betaal, terwyl BTW ’n breëbasis-belasting is.

Die proses van belastinginvordering word ook grootliks deur groot maatskappye bestuur. Individue het gewoonlik nie veel beheer oor die oorbetaling van sy PIB aan die staat nie – die werkgewer doen dit gewoonlik namens die individu.

Verder betaal ’n handjievol meestal groot maatskappye bykans al die MIB, wat meestal streng en kragtens voorgeskrewe wetgewing bestuur word.

Verder is dit ook gewoonlik groter maatskappye wat die BTW-invorderings en -oorbetalings doen en selfs ook ander belastings invorder en oorbetaal, soos byvoorbeeld die brandstofheffing.

Dit beteken dus dat ’n belastingopstand slegs werklik kan slaag indien die samewerking van groot maatskappye verkry kan word. Dit is sekerlik moontlik, maar ek twyfel of enige finansiële direkteur van ’n groot genoteerde maatskappy eerste gaan opstaan en verklaar dat hy nie meer belasting aan die staat gaan oorbetaal nie – hy sal sonder twyfel uitgesonder word en ’n voorbeeld van gemaak word.

Hoewel dit seker moontlik is om mense te oortuig om die kleiner belastings terug te hou, soos tolgelde, is dit baie onwaarskynlik dat ’n grootskaalse belastingopstand sal slaag.

Hoewel dit seker moontlik is om mense te oortuig om die kleiner belastings terug te hou, soos tolgelde, is dit baie onwaarskynlik dat ’n grootskaalse belastingopstand sal slaag.

En dan is daar die morele aspek van die weerhouding van belasting. Meer as 20 miljoen mense is direk afhanklik van die staat vir hul maandelikse inkomste en indien ’n belastingopstand wel sou slaag, sal hierdie mense in baie gevalle eenvoudig nie kan oorleef nie, om nie eens te praat van die impak op die ekonomie nie.

Daar is ander aspekte wat ook in gedagte gehou moet word met ’n belastingopstand. Een is dat dit bitter moeilik is om mense weer te oorreed om belastings te betaal as hulle eers opgehou het, maar ’n tweede rede kan selfs tot nog groter veranderings lei.

Suid-Afrika is ’n sameflansing van verskillende streke, kultuurgroepe, taalgroepe en dies meer. Suid-Afrika het tot stand gekom in 1910 met Uniewording en hoewel ons gereeld vertel word dat ons verenig is in ons diversiteit, is dit eenvoudig nie waar nie, ons is anders.

Voor 1994 is SA “aanmekaar gehou”, eers deur Britse imperialisme en toe later deur Afrikaner-nasionalisme. Maar sedert 1994 word SA grootliks “aanmekaar gehou” deurdat die meerderheid finansieel grootliks afhanklik is van ’n verenigde Suid-Afrikaanse staat.

Ons het verval in die klassieke demokratiese slaggat waar die meeste van ons probeer teer op iemand anders en die staat die voertuig geword het wat vir persoonlike gewin gebruik word.

Indien ’n belastingopstand onder sulke omstandighede wel slaag, verdwyn die gom wat SA aanmekaar hou en raak dit bykans ’n uitgemaakte saak dat SA polities ook uitmekaar sal spat.

Daarom moet ons mooi dink voordat ons ’n belastingopstand van stapel stuur. Dit sal dalk die einde van SA in sy huidige vorm beteken, wat nie noodwendig ’n slegte ding is nie...

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Groep en ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-komptesie. E-pos: dawieroodt@efgroup.co.za
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.