Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt se Orania-app lei dalk tot nuwe geld
Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.

Dawie Roodt is besig met doktorale navorsing wat uiteindelik vir die Afrikaner-“tuisland” Orania sy eie digitale geldeenheid kan besorg.

Die geldeenheid kan onafhanklik van die rand ontwikkel en deel wees van die nuwe revolusie waarin geld geprivatiseer word.

Vir eers word ’n nuwe bitcoin nié beoog nie, net ’n app.

Roodt, die hoofekonoom van The Efficient Group, sê sy navorsing het niks te make met die politiek van dié Noord-Kaapse dorp nie. Die afgesonderde aard van die Orania-ekonomie is vir dié ekonoom bloot “soos ’n petribakkie vir ’n bioloog” – die ideale plek om navorsing te doen.

Roodt sê die uitvloeisel van sy navorsing sal uiteindelik ook vir verskeie ander instansies, soos die verskeie koopkragverenigings in die land, van nut wees.

Roodt wil liefs nie sê waar hy vir sy doktorsgraad ingeskryf is nie – “sê nou ek maak dit nie?” – maar is in sy tweede studiejaar.

Inwoners van Orania gebruik die Ora, ’n soort koopbewys wat dieselfde waarde het as die rand.

Roodt se missie is om die Ora te digitaliseer, dus in wese die gebruik daarvan op ’n app moontlik te maak, amper iets soos Standard Bank se SnapChat-betaalapp.

Volgens Roodt sal die digitale Oras die papierbewyse vervang. Die eerste vraag wat hy in sy navorsing wil beantwoord, is of transaksiekoste danksy digitalisering sal daal.

Dit is nog verreweg nié die skep van ’n kriptogeldeenheid soos die bitcoin, wat blokkettingtegnologie gebruik om unieke munte per rekenaar te “munt” nie.

Roodt steun op die navorsing van Frederick Hayek, ’n voorstander van die vryemark wat in 1974 die Nobelprys vir ekonomie gewen het. Hayek het ’n formule ontwikkel waarvolgens staatsgeld “geprivatiseer” kan word.

As Roodt se eerste stap, die skep van ’n app vir ’n geldeenheid wat steeds deur die rand gerugsteun word, verder gevoer word, kan ’n onafhanklike geldeenheid uiteindelik ontstaan. Vir eers sal sy navorsing stop by die skep van die digitale Ora.

Orania, wat in die Noord-Kaap langs die Oranjerivier geleë is, het nagenoeg 1 500 inwoners. Dit het sy eie kamer van koophandel en bank (Orania Spaar en Krediet Koöperatief).

Die kamer van koophandel druk Ora-“note” wat die bank dan aan inwoners (wat met rand betaal) verkoop.

Die bank belê die randinkomste in ’n rentedraende rekening.

Elke Ora het ’n vervaldatum van drie jaar en as Oras nie weer vir rand ingeruil word nie, dien dit as ’n stewige inkomstebron vir die kamer.

As Roodt die Hayek-formule verder sou voer, sou die digitale Ora geprivatiseer kon word tot ’n geldeenheid wat gemeet word aan die waarde van die rand; aan die waarde van ’n mandjie goedere of dienste wat die Orania-kamer self bepaal; of glad nie gerugsteun nie.

Roodt sê die moontlikhede wat kriptogeld bied, is eindeloos.

Hy glo die einde van banke is naby soos wat geld geprivatiseer word. Dit kan ook die mag van “beroepspolitici en professionele ineptokrate” meebring, het Roodt onlangs in ’n praatjie by die Vryemarkstigting gesê. Hier is sy toespraak op YouTube:

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Orania  |  Bitcoin  |  Geldeenhede  |  Ikt  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.