Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Staatsdiens is oorgewig en kos te veel
Dawie Roodt

Markte en ontleders het die afgelope week maar koel gereageer op Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede.

Ons sal maar moet wag en sien of sy optimistiese verwagtinge, veral oor ekonomiese groei, sal waar word.

Intussen bly ’n veels te groot en oorbetaalde staatsamptenary steeds een van die grootste probleme wat die staat se geldsake strem.

Die regering het die laaste paar jaar begin besef ’n swak ekonomie gaan nie genoeg werk skep nie en paniekerig al hoe meer staatsamptenare in diens begin neem om só werk te probeer skep.

Waar Cosatu se magsbasis in die verlede by myne en fabrieke was, is die meeste Cosatu-lede vandag staatsamptenare. Gevolglik het dié magtige staatsdiensvakbondfederasie veral die afgelope sewe jaar gesorg dat sy lede baie ruim verhogings ontvang, van die beste ter wêreld.

Nou het die staat se uitgawes soveel gestyg dat hy vandag finansieel baie diep in die moeilikheid is. Die regering bestee sowat R517 miljard – dit is 39% van totale uitgawes (rente uitgesluit) – aan salarisse vir ons dieners.

Hoewel Gordhan in die begroting nogal ’n ophef daarvan gemaak het dat ons nie meer staatsamptenare in diens gaan neem nie, sal ons nog vir jare ’n oorgewig staatsamptenary moet saamdra.

Sedert 2008 het die ekonomie 536 000 nuwe formele werke “geskep’’. Die staat het 213 000 van die mense in die nasionale en provinsiale departemente in diens geneem.

As ons die breër definisie van die staat gebruik, kan ons ook nog 180 000 formele werkers bytel wat deur plaaslike regerings, universiteite, en staatsbeheerde instellings in diens geneem is. Dus, slegs 27% van nuwe werke sedert 2008 was in die private sektor.

Die gemiddelde staatsamptenaar word ook sowat 30% meer betaal as die gemiddelde werker in die private sektor. Dit is nou buiten werkers by staatsbeheerde instellings. Húlle word selfs nog meer betaal.

As ons die salarisse en lone van almal wat in die staat se diens is – al 2,95 miljoen van hulle – vergelyk met almal wat werk in die private sektor (informele sektor ingesluit), is die gemiddelde staatsamptenaar se salaris 77% hoër.

Maar Gor­dhan bemoei homself meestal met die nouer definisie van staatsamptenare, daardie mense wat in die nasionale en provinsiale departemente aangestel is. Dié mense is 28% beter vergoed as die private sektor tydens die 2014-’15- finansiële jaar. As ons die breër definisie van staatsamptenare volg, skiet dit op na gemiddeld 39%.

Ongetwyfeld is daar ook staatsamptenare wat heeltemal te hard werk en te min betaal word, maar hulle is nie die reël nie.

As jy die nouer definisie in 2014-’15 omskakel na geld, dan betaal die regering in werklikheid sy staatsamptenare bykans R85 miljard “te veel’’. As ons dit op een of ander manier kon regkry om staatsamptenare ook net die gemiddelde salaris in die private sektor te betaal, kan ons die begrotingstekort met meer as die helfte verminder.

Verder sal dié besparing van R85 miljard op lopende uitgawes ook die staat se ontsparing (vernietiging van kapitaal) stopsit.

Dis natuurlik wensdenkery. Maar dis ’n feit soos ’n koei dat ons dieners te veel betaal word en ook sommer baie te veel. Verder neem ek ook aan dat hulle net so produktief soos die private sektor is.

Ongetwyfeld is daar ook staatsamptenare wat heeltemal te hard werk en te min betaal word, maar hulle is nie die reël nie. Dis ook geen wonder jong mense beskou vandag die staatsdiens as ’n voorkeurwerkgewer nie – dit bied baie geld, werksekerheid en meestal min en maklike werk.

Geen politikus sal dit waag om ons magtige staatsdiens minder te betaal nie, selfs nie eens ’n sterk minister soos Gordhan nie. Die uiteinde is dat die stert steeds die hond swaai.

* Dawie Roodt is hoofekonoom van die Efficient Groep.

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.