Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Wat jy moet doen ná nagmerrie-week

Verlede week was ’n nagmerrie-week.

Die eerste kwartaal se ekonomiese groeisyfers is bekend gemaak – ná al die gewone aanpassings het die bruto binnelandse produk (BBP) teen ’n skrikwekkende 3,2% ingekrimp.

Dawie Roodt
Verskaf

Hou in gedagte dat dit gebeur terwyl die bevolking teen ’n tempo van sowat 1,6% per jaar groei. Jy het nie ’n graad in die ekonomie nodig om te besef dat werkloosheid en armoede onder sulke omstandighede verder sal toeneem nie!

Verder toon ons lopende rekening dat SA elke maand sowat R12 miljard meer invoer as wat ons uitvoer – ons verbruik dus meer as wat ons produseer. En wanneer die BBP-groeisyfers ontleed word, is dit duidelik waarom.

Daardie tipiese en potensiële uitvoersektore, soos mynbou en vervaardiging, het tydens die eerste kwartaal baie skerp ingekrimp. En dis juis dié sektore wat die beste kans staan om aan ons 10 miljoen werkloses werk te verskaf.

Dit is ook dié sektore wat gebuk gaan onder die tekort aan betroubare kragverskaffing sowel as polities gedrewe “handveste” en arbeidswetgewing.

Verlede week was ook die week toe die Suid-Afrikaanse Lugdiens se baas, Vuyani Jarana, sy bedanking aangekondig het. Dit volg kort op die hakke van die bedanking van Phakamani Hadebe, die baas van Eskom. Onhoudbare politieke inmengery word in albei gevalle vermoed: Goeie bestuurders word aangestel, maar word dan verhoed om moeilike besluite deur te voer.

Maar al hierdie droewige syfers was eintlik ’n poppespel vergeleke met die kaperjolle van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het glo besluit om die Reserwebank se mandaat te verander, volgens die verklaring wat

Magashule – op ’n ANC-briefhoof – uitgestuur het.

Daarin verduidelik hy dat die Reserwebank voortaan 'n mandaat sal hê wat ekonomiese groei en werkskepping sal insluit. Verder, aldus die ekonomiese analfabeet Ace, gaan “quantity easing” ook as monetêrebeleidsinstrument ondersoek word.

“Quantity easing” bestaan nie sover ek weet nie, maar “quantitative easing” bestaan wel. Dit is die proses waardeur sentrale banke geld uit niks skep om sekere bates onder baie spesifieke omstandighede aan te skaf – iets wat aanvanklik deur die Japanse en later ander sentrale banke gebruik is.

Punt is, Ace het duidelik geen benul waarvan hy praat nie, terwyl die gevolge van kwantitatiewe verruiming ongetwyfeld rampspoedig vir Suid-Afrika sal wees. Verder lyk dit ook nie asof die armsalige comrade besef dat die Grondwet verander sal moet word om ’n verandering aan die Reserwebank se mandaat aan te bring nie.

Intussen het hierdie hondebraaksel ’n eie lewe begin kry. Tito Mboweni, minister van finansies, en Lesetja Kganjago, die Reserwebank se president, het dadelik ontken dat die mandaat van die Reserwebank verander gaan of behoort te word en het ook op die gevare van sulke onsinnigheid gewys.

En ná ’n paar dae van verwarring op die finansiële markte en ’n rand waarvan die bodem uitval, kom die president toe uiteindelik met ’n verklaring dat die ANC steeds die Reserwebank wil nasionaliseer, maar nie nou nie. Klink amper soos Juju . . . Intussen bly die mandaat van die Reserwebank vir eers onveranderd.

Maar skaars was die prez se woorde koud toe twiet Ace dat die Reserwebank se mandaat wel verander gaan word . . .

Teen dié tyd was daar pandemonium op die markte. Die rand sien sy alie, die kapitaalmark stort in duie en handelaars, joernaliste en beleggers bel mekaar om kop of stert uit te maak van hierdie totale f**op.

Hier is soos ek dit sien: Ons het nie werklik ’n regering in die gewone sin van die woord nie. Daar is wel ’n groot groep kripvreters wat aanspraak maak op voorkeurbehandeling.

Maar hierdie groep is so vormloos soos ’n uitgekoude Chappie wat kort-kort van vorm verander.

Niemand is werklik in beheer van enigiets nie. Inteendeel, die “regering” is soos ’n giftige hidra wat mekaar se koppe probeer afbyt. Daar is geen duidelike ideologie nie, daar is geen duidelike beleid of enige noemenswaardige plan nie – en daar is geen leier nie.

En die skade aan die ekonomie is enorm.

Die volgende kan nou verwag word:

  • Ekonomiese groei gaan jare neem om te herstel en ’n resessie vanjaar is moontlik.
  • Belangrike syfers wat gewoonlik teen die BBP gemeet word – soos die fiskale tekort, staatskuld en die lopende rekening – gaan alles verswak.
  • Staatsinkomste gaan verder onder druk kom wat hierdie verhoudinge selfs meer gaan verswak.
  • Die uitgekoude Chappie gaan hoe meer paniekerig begin raak en “nuwe” en populistiese planne gaan voorgestel word.
  • Intussen gaan SA verder afgegradeer word, die rand verswak verder, die Reserwebank begin wal gooi, wat weer die aandag op hom vestig, wat lei tot ’n verdere ronde aanvalle op die Reserwebank.

Beleggers moet baie goed besef dat leierlose, oningeligte en onbekwame politici besig is om die land uitmekaar te skeur. Moenie paniekerig word nie: Besef wat aangaan en posisioneer jouself om jou eie skade tot die minimum te beperk.

Dit beteken onder meer dat jy, wettig, so min moontlik belasting betaal, nie onnodig mense in diens neem nie, besef dat beleggings in Suid-Afrika al hoe meer riskant word, probeer jou sake só bedryf sodat jy so min as moontlik van die “owerhede” afhanklik is en moenie onnodig aandag trek nie.

En wanneer jy wel geld maak, neem dit landuit!

  • Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, is ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Anc  |  Dawie Roodt  |  Ace Magashule  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.